Grace het toe reeds meer as ’n maand lank op haar eie deur Suid-Amerika gereis toe sy op 20 November by ’n hotel in Auckland inboek Sy is Saterdag (1 Desember) om 21:41 vir die laaste keer gesien toe sy die CityLife-hotel saam met ’n man binnegegaan het.

Sy is kort daarna as vermis aangemeld en polisie het teen Saterdag bevestig sy lewe waarskynlik nie meer nie. Haar lyk is Sondag uiteindelik gevind. 

’n 26-jarige man is daarna in verband met haar moord in hegtenis geneem na haar lyk in die bosse skaars 10 meter van die roete bekend as Scenic Drive in Auckland se Waitakere-bergreeks gevind is. In hierdie stadium is daar nog nie amptelike bevestiging of sy op 1 of 2 Desember vermoor is nie.

Vir die Nieu-Seelanders is dit ’n geweldige skok want in  dié land wat uit ’n bevolking van 4,8 miljoen mense bestaan, vind daar jaarliks minder as 50 moorde plaas.

’n Emosionele Jacinda Ardern, die land se eerste minister, het tydens ’n mediakonferensie gesê sy kan haar nie die pyn van Grace se familie indink nie.

Sy het met van die inwoners, oftewel Kiwis soos hulle bekend staan, gesels en gesê daar is ’n “oorweldigende gevoel van seerkry en skaamte” vir wat gebeur het in ’n land wat bekend is vir gasvryheid, veral wat besoekers aanbetref.

“Namens Nieu-Seeland wil ek Grace se familie om verskoning vra. Jou dogter moes veilig gewees het hier, en sy was nie. Ek is jammer daaroor.

Grace se vermeende moordenaar is uitgejou toe hy Maandag in die hof verskyn het. Sy naam sal eers na minstens 20 werksdae bekend gemaak word omdat daar appèl aangeteken is teen regter Evangelos Thomas se beslissing om wel sy naam bekend te maak.

Hy sal weer op 23 Januarie in die hooggeregshof verskyn.

Regter Thomas het die Millane-familie in die hof toegespreek tydens die beskuldigde se verskyning.

“Julle moet desperaat wees van verdriet. Almal van ons hoop dat geregtigheid vir Grace regverdig en vinnig sal plaasvind en dit dit aan die einde vir julle vrede mag bring,” het hy gesê.

Intussen het die beskuldigde se oupa aangedui hy het hom gedeeltelik grootgemaak nadat sy ouers uitmekaar is.

“Hy was ’n gawe kind, maar hy het soortvan ’n uitval met almal gehad. Dis wat gebeur in gebroke huwelikke. Hy het glo vir ’n tyd by sy ma in Australië gewoon maar sy het nie geweet hy het na Nieu-Seeland teruggekeer nie.

Luidens berigte het sy hom op die afspraak-app Tinder ontmoet.

Meer oor Grace

Sy het twee broers, David en Declan.

Grace met haar twee broers, Declan (heel links) en
Grace met haar twee broers, Declan (heel links) en Michael. Foto: Instagram (Grace Millane)

Grace het haar graad in reklame en bemarking aan die Lincoln-universiteit behaal en sou vir ’n jaar lank ’n solo-rugsakreis deur die wêreld onderneem het.

Grace het hierdie foto op 14 September gedeel met die byskrif: ' 'n Ongelooflike dag met ongelooflike mense. Dankie Lincoln en al die mense wat dit my beste drie jaar ooit gemaak het. Foto: Instagram (Grace Millane)

Grace was ook ’n talentvolle kunstenaar en het gereeld haar kunswerk op Facebook gedeel.

David Millane, haar pa en ’n skatryk eiedomsontwikkelaar in Britanje, het onrustig geraak toe hy vanaf Saterdag 1 Desember geen boodskappe of foto’s van sy dogter ontvang het nie. Sy het die gesin glo gereeld daarmee “bombardeer”.

Hy het self na Nieu-Seeland gevlieg en op 7 Desember het hy mense in ’n mediavrystelling versoek om asseblief behulpsaam te wees met enige brokkie inligting, hoe gering ook al, oor Grace te deel in hul soektog na sy dogter.

“Grace is ’n lieflike, borrelende, gesinsgeoriënteerde dogter wat nooit vantevore so lank sonder kontak met ons was nie. Sy’t gewoonlik daagliks kontak met haar ma, myself, haar twee broers of ander lede van die familie gemaak,” lui die verklaring.

Hy kon nie sy emosies beheer tydens die mediakonferensie nie.

Grace se laaste plasing op haar Instagram-profiel was op 27 November, vier dae voor haar verdwyning. Sy het saam met twee vriendinne na die vuurtoring by Cape Reinga gegaan.

Foto: Instagram (Grace Millane)

Marcella Delarosa het by dié foto die volgende geskryf:

“Aan Grace, ek het na Megan geluister oor die brief aan jou. Ek is so hartseer, tot op die punt waar ek in my kamer sit en werklikwaar huil oor jou verlies. Ek dink dis verwerplik dat 'n man jou lewe kon neem en duidelik nie besef het hoe seer dit die mense van Nieu-Seeland en jou familie sou maak nie.

“Ons was bedoel om 'n veilige plek vir jou ook te wees, ons land is oor die algemeen bedoel om 'n veilige plek te wees. En ons het gefaal omdat ons agter die mure van veiligheid nie praat oor dit wat agter die skerms gebeur nie, die gewelddadigheid wat in soveel gemeenskappe in die land plaasvind.

“Net sekere mense word daaraan blootgestel en dis 'n totale skande dat jy een van hulle moes wees.”

Sy sluit af met “Aroha Mai, Aroha Mai, Aroha Mai Grace Millane” - vryelik vertolk as "liefde, liefde, liefde".

Bronne: stuff.co.nz, lincolnshire.live.co.uk, theguardian.com, sky.com, telegraph.co.uk, nzherald.co.nz