So sê lt.kol Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, nadat die lykskouings vir die twee meisies gefinaliseer is.

Volgens Amanda is hul liggame nog by die hospitaal op Stella waar dokters finale DNS-monsters vir die polisieondersoek neem voor hul gesinne hul liggame kan ontvang.

Die twee gr. 11-leerders aan die Hoërskool Stella, ’n klein landbouskool op die dorpie Stella in Noordwes, is die naweek na bewering die Saterdagoggend vroeg saam in die meisieskoshuis dood aangetref. Hulle is na bewering deur Xander Bylsma (19), Sharnelle se ekskêrel, oorval en vermoor.

Xander Bylsma en Sharnelle Hough. Foto: Facebook.

Xander het hulle na bewering eers met sy hande verwurg en toe glo probeer om dit soos selfdood te laat lyk. Sharnelle is aangetref waar sy aan 'n tou aan die trapreling van die koshuis gehang het. Marna is dood op die vloer van die badkamers gevind, glo met 'n handsak se band om haar nek.

Amanda het bevestig die twee boesemvriendinne se ouers sal hul liggame Woensdagmiddag kry om van hulle afskeid te neem.

Net soos Sharnelle en Marna saam in ’n kamer gebly en baie dinge saam gedoen het, sal ’n gedenkdiens Vrydag saam vir hulle gehou word in die NG Kerk Noord in Vryburg, Noordwes.

Sharnelle Hough se voormalige kêrel is vir die moorde aangekla. Foto: Facebook
Marna Engelbrecht is saam met haar beste vriendin vermoor. Foto: Facebook.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa, sy vrou, Anna, en Sharnelle se ma, Sonja, het ’n groot deel van die dag Dinsdag op Vryburg deurgebring om die reëlings vir die gedenkdiens Vrydag te tref.

Ronnie en Sonja is geskei en sy het Maandag van Koster na Vryburg gereis.

Ronnie het aan Huisgenoot bevestig 'n roudiens gaan Vrydag om tienuur vir hul “Lalla”, soos haar geliefdes haar noem, en Marna, vanuit die NG Kerk Noord gehou word. Die meisies was van kleuterskooldae vriendinne en het 'n kamer in die skoolkoshuis gedeel.

Xander word steeds aangehou nadat hy vroeër vandeesweek in die landdroshof op Vryburg op twee aanklagte van moord verskyn het. Hy sal in aanhouding bly tot sy volgende verskyning op 6 Augustus. 

Kapt. Charlize van der Linden, plaaslike polisiewoordvoerder, het vroeër aan Huisgenoot bevestig hy het Saterdag 'n bekentenis afgelê. Dié bekentenis sal eers later voor die hof dien.