Casey, ’n inwoner van El Paso in Texas, is in hegtenis geneem nadat sy haar met onder meer ’n bietjie haarkleursel, ’n geel hoody, ’n bril en ’n masker as haar tienerdogter voorgedoen het en dié se skool “geïnfiltreer” het. 

En so het sy "van die eerste tot die laaste periode” haar kind se klasse bygewoon, en sommer ook ’n draai in die kafeteria gemaak, waar sy haar masker afgehaal het.

Sy’s eindelik na die hoof se kantoor gestuur toe personeel bewus geraak het van die spioen in hul midde.

Ongelukkig vir haar was die uiteinde van wat sy haar “sosiale eksperiment” noem, nie bloot ’n paar minute in ’n klaskamerhoekie, uitskryfwerk of detensie ná skool nie.

Volgens ’n verklaring van El Paso se sheriff-kantoor het die San Elizario Independent School hulle ontbied oor onwettige betreding van die skoolterrein en ’n volwassene wat haar as ’n leerling voordoen.

Hulle het Casey in hegtenis geneem, maar sy is intussen op borgtog van $7 908 (sowat R107 000) vrygelaat.

Die polisie het klagtes van strafregtelike betreding en bedrog met regeringsdokumente (sy het haar dogter se ID-nommer by die skool se toegangsbeheer gebruik) teen haar ingedien en sommer ook ’n ou verkeersoortreding van 2017 ingewerk. 

In ’n video wat sy van haar “eksperiment” gemaak en op YouTube geplaas het, kan gesien word hoe sy in haar geel top met Marvel-karakters daarop in die skoolgange rondstap, op ’n kol die hoof in die verbygang groet, selfs die L.O.-klas bywoon en maskerloos middagete in die skoolrestaurant eet.

Aan die begin vra sy aan haar selfoonkamera: “Lyk ek soos ’n gr. 7-kind? Nee? Cool . . . awesome.”

In ’n uitgerekte opvolgvideo sê sy sy het dit nie “gedoen om kykslae of likes te kry, of mense kwaad te maak nie.”

Volgens Casey is sy net vir ’n ID-nommer gevra en of sy ingeteken het voor sy by die skool toegelaat is. En personeel was meer bekommerd daaroor dat sy haar selfoon gebruik het as om haar identiteit na te gaan.

Eers tydens die laaste periode van die dag het ’n onderwyser agtergekom sy is nie ’n leerling nie.

Volgens haar was die hele toertjie daarop gemik om ’n gebrek aan sekuriteit by skole te toon, veral in die lig van die massa-skietaanvalle wat Amerika so teister.

“Ons kort beter sekuriteit by ons skole. Dis wat ek probeer bewys het. Ek wil nie snedig wees nie, maar ek dink ek het dit wel bewys.”

Casey, ’n tenger vrou wat volgens haar nuwe tronkrekord skaars 1,5 m lank is en 48 kg weeg, vertel sy’s jammer dat nie net haar kind se skool nie, maar alle skole in die betrokke distrik by haar foefie betrek is. Veiligheidsmaatreëls word nou by al dié skole hersien.

Haar optrede lyk dalk vreemd vir sommige, maar sy wou net die lig werp op leerlinge se kwesbaarheid, vertel sy.

Bronne: thedailybeast.com, abc13.com, YouTube, Facebook, oxygen.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe