Sy het selfs ’n video-pleidooi gelewer vir haar seun se veilige terugkeer. Tien dae later is sy lyk aangetref.

Sy het op 16 Mei aan die polisie vertel hy was nie in sy bed nie. En die oop voordeur het die vermoede versterk dat hy weggeloop het.

Selfs snuffelhonde kon hom nie in die woud naby die gesin se huis opspoor nie. Maar toe kry die polisie bloed in die huis wat hy met sy ma en 17-jarige broer gedeel het en in sy stiefpa se motor.

Volgens The Mirror het sy toe gebieg dat sy hom sterk medisyne gevoer het vir sy “emosionele probleme” en dat hy daaraan gesterf het.

In haar verklaring het Alexandra aangevoer sy het Rafael twee pille gegee om te slaap. Toe sien sy dat iets verkeerd is.

“Hy was anders, sy mond was ’n bietjie pers en sy handjies koud.”

Sy het volgehou dat hy aan die medikasie beswyk het en dat sy hom met ’n tou vasgebind het sodat dit makliker was om hom uit die kamer te kry.

Volgens haar het Rafael se halfbroer (17) niks daarvan geweet nie.

Maar dis meer sinister as dit. Volgens die polisie het sy hom na bewering met ’n wasgoedlyn verwurg nadat sy hom medikasie toegedien het en daarna sy lyk versteek.

Op 25 Mei is Rafael se lyk in ’n groot kartonboks in die bure se motorhuis aangetref, ses meter van die gesin se huis.

Hulle glo Alexandra het wel op haar eie opgetree. Sy word beskryf as “metodies en iemand wat nie daarvan hou om teëgestaan te word nie”.

Jean Severo, die prokureur wat Alexandra aanvanklik verteenwoordig het, beweer egter sy is deur die polisie omgepraat om haar eerste verklaring waarin sy medikasie as die oorsaak van sy dood blameer het, te verander na die verklaring waarin sy hom glo verwurg het.

Alexandra, wat in die Guaíba-gevangenis aangehou word, het einde Junie in ’n nuwe verklaring erken sy het Rafael verwurg.

Severo het toe van die saak onttrek.

Op 2 Julie is Alexandra van die moord op Rafael aangekla.

En sy het volgens die MailOnline erken sy het hom eintlik vermoor. Dit was nie omdat hy emosionele probleme gehad het nie, maar omdat hy glo nie haar selfoonreëls nagekom het nie.

Daar word beweer sy was keelvol vir die lang ure wat hy op sy selfoon deurgebring het.

Enkele weke vantevore het Rafael vir Moedersdag ’n gedig voorgelees waarin hy sê hoe lief hy vir sy ma is. In die video sê hy ook dankie dat sy na hom en sy broer omsien en dat haar glimlag “alles” vir hom beteken.

Bronne: istoe.com.br, rdplanalto.com, dailymail.com, mirror.co.uk