Twee sake – een van moord en nog een van strafbare manslag – is by die polisiekantoor in Sophiatown aangemeld nadat twee kinders, onderskeidelik een en twee jaar oud – gesterf het nadat hulle rotgif ingekry het by die dagsorgsentrum.

Antoinette Assegaai (28) het haar tweejarige dogter, Tshepang, op 17 Mei begrawe nadat sy gesterf het omdat sy rotgif by die kleuterskool ingekry het.

Antoinette sê sy is desperaat op soek na antwoorde oor haar dogter se dood. “Ek soek geregtigheid. Iemand moet verantwoordelik gehou word vir wat met haar gebeur het.”

Die dag voor Tshepang se dood het haar ouer suster, Shamita (13), haar by die kleuterskool gaan haal, en die twee kinders is huis toe waar hulle gespeel het terwyl hulle gewag het dat Antoinette vanaf die werk huis toe kom.

“Hulle het sowat 15 minute gespeel voor ek by die huis was, en alles was in die haak. Ons het aandete geëet. Kort nadat ons klaar geëet het, het Tshepang begin huil en daar het wit goed by haar mond uitgekom,” sê Antoinette.

Die desperate ma het met haar dogtertjie na die Rahima Moosa Mother and Child-hospitaal in Coronationville gejaag. 

Sy was geskok toe sy die eienaar van die dagsorg by die hospitaal kry met nog ’n ouer wie se kind met dieselfde toestand opgeneem is. Tshepang is die volgende dag oorlede.

Die ander kind, wie se naam nie bekend is nie, is ’n dag later dood.

“Ek en die ander ma is na die polisiekantoor in Sophiatown om ’n saak aan te meld, maar het tot vandag toe nog nie ’n woord van die polisie of eienaar van die kleuterskool gehoor nie.

“Die eienaar was nie eens by my kind se begrafnis nie. Sy het haar man gestuur, wat my toestemming kom vra het dat sy na my toe kan kom,” sê Antoinette.

Sy sê ’n lykskouing in die Hillbrow-lykhuis het bevestig Tshepang is dood weens rotgif.

Antoinette sê haar dogter was ’n vriendelike en intelligente kind. “Haar Engels was baie goed en sy was baie slim. Sy het almal gegroet wat verbygeloop het. Dis werklik hartverskeurend om aan te dink.”

Antoinette en die ander ouer soek afsluiting oor hul kinders se dood. “Ons wil net weet wat gebeur het,” sê Antoinette.

Siyanda Makhubo, woordvoerder vir dr. Mpho Phalatse, die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, sê Mpho is besig om die feite rondom die voorval in te win.

“Ons sal begin by die polisiekantoor om uit te vind hoe ver die ondersoek is, want sover ons weet, is twee sake – een van moord en nog een van strafbare manslag – by die polisiekantoor geopen.

“Daarna sal ons na die kleuterskool, die misdaadtoneel, gaan om te kyk of dit gesluit is, voor ons die families van die oorledenes sal besoek.”

Siyanda het bygevoeg nadat die departement van omgewingsgesondheid hul eie ondersoek gedoen het, het hulle ontdek die twee sake hou verband met mekaar.

“Ons het gevind die kleuterskool word onwettig uit ’n motorhuis bestuur. Die eienaar het nie ’n permit nie en die skool voldoen nie aan die Stad Johannesburg se standaarde nie.

“Ons kan bevestig die oorledenes is ’n eenjarige en ’n tweejarige en dat die skool omgesien het na ’n groep van sowat 10 kinders tussen ses maande en vyf jaar.”

Hy sê Mpho maak ’n punt daarvan om sorgsentrums en kleuterskole wat onwettig bedryf word uit te lig en hoop om die publiek in te lig oor hoe om dit te identifiseer.

Die burgemeesterslid het verder aan Huisgenoot bevestig die twee kinders is dood nadat hulle rotgif ingekry het – organofosfaatvergiftiging volgens die nadoodse ondersoek.

Kapt. Jerbes de Bruyn, polisiewoordvoerder in Sophiatown, het bevestig twee kinders van die kleuterskool is verlede maand dood en ’n ondersoek is onderweg.

“Die ondersoek duur voort, en ons wag tans vir die uitslae van die toksikologieverslag. Twee nadoodse ondersoeke is geloods, maar dit kan lank neem.”

Toe Huisgenoot die eienaar van die kleuterskool kontak, het sy gesê die polisie het haar aangeraai om nie met die media te praat nie omdat die saak ondersoek word.