Sy het hartstogtelik gehuil toe haar pasgebore dogtertjie 40 jaar gelede van haar af weggeneem is. 

Dit het destyds deur die tienermeisie se kop gemaal: Gaan sy haar kind ooit weer sien? 

Anitha Queck was skaars 16 jaar oud en in st. 8 toe sy in 1978 swanger geword het. Haar ouers was vasbeslote: Die baba moes vir aanneming opgegee word. 

Maar sy kon nooit haar eersgeborene uit haar kop kry nie, vertel die 57-jarige Anitha van die Noord-Kaapse dorpie ­Aggeneys vandag.

Sy het gewag tot die kind se 21ste verjaardag en haar toe probeer opspoor, maar dit was vergeefs. “Ek het nie eens haar aanneemnaam- of van gehad of waar sy grootgeword het nie.”

Toe borskanker in 2008 by Anitha gediagnoseer word, het dit het gelyk of die siekte haar droom om met haar kind herenig te word sou verydel.

Maar net die jaar daarna kry sy ’n oproep van ene Wildri Boshoff van Durban. En die stem in haar oor vra: “Is jy my ma?”

kanker
Anitha (links) en Wildri (regs) tydens hul onderskeie behandelingsessies. Foto: Verskaf

Maar Anitha se vreugde is byna dadelik geblus toe Wildri haar vertel borskanker is in 2006 ook by háár gediagnoseer.

En soos die wrede noodlot dit wou hê, was Wildri se kanker die rede dat sy haar ma wou opspoor: Sy wou uitvind of sy dalk die geenmutasie wat haar kanker veroorsaak het by haar biologiese ma ­geërf het.

DNS-toetse het toe reeds gewys ma en dogter beskik albei oor die BRCA2-geen, wat hoofsaaklik borskanker veroorsaak. 

“Ek voel so skuldig,” vertel Anitha vandag. “Om te dink ek is daarvoor verantwoordelik dat my kind dié kanker moes kry.” Ma en dogter weier egter albei om te gaan lê in die stryd teen die siekte wat hulle eindelik herenig het.

Daardie eerste telefoonoproep het na ’n blye ontmoeting in Aggeneys gelei. En die afgelope dekade ondersteun hulle mekaar in hul stryd teen die siekte wat hulle herenig het – al woon hulle 1 500 km uitmekaar.

“Ons is oorwinnaars,” sê Anitha met oortuiging in haar stem. “Elke oggend dat die twee van ons wakker word, is ’n oorwinning vir ons.”

Anitha, oorspronklik van Kaapstad, woon nou al 12 jaar op Aggeneys. Haar man, Dennis, werk by die plaaslike Black Mountain-myn as ’n passer-en-draaier. “Ek bak en brou vir die hele dorp”, sê sy. Sy het ’n seun uit ’n vorige huwelik, Gerhard (28). 

Sy onthou haar skoolromanse- en swangerskap soos gister. “Hy was my John Travolta-lookalike,” beskryf sy haar jeugliefde. 

“Ek kan nie onthou of my swangerskap vir my ouers ’n skande was en of hulle dit vir die gemeenskap moes wegsteek nie,” wonder sy oor daardie tyd. “Ek onthou net hulle het gesê hulle kan nie vir nog ’n mondjie sorg nie.”

ma,dogter,kanker,uitstappie
Ma en dogter geniet die natuur tydens ’n uitstappie in die Noord-Kaap. Foto: Facebook

Haar ouers het dit nie breed gehad nie. “My pa het vir iets soos R700 op die Kaapse hawe gewerk en my ma in ’n ­klerewinkel. Ek is weggestuur na die Magdalenatehuis in Bellville, waar ek tot ná die geboorte moes bly.

Dit was maar ’n sad tyd in my lewe. Ek onthou hoe ons elke dag aartappels en wortels moes skil tot jy siek was daarvan. Ná die geboorte is die dogtertjie dadelik weggeneem.”

Sy en die pa van haar kind het nooit weer kontak gehad nie: “Hy het sommer net so van die aardbol af verdwyn.”

Toe haar dogter se 21ste verjaardag in 1999 aanbreek, het Anitha die Magdalena­tehuis gekontak om haar kind te probeer opspoor – sonder sukses.

“Ek dink hulle het gesê hulle kon nie die besonderhede opspoor van die mense wat haar aangeneem het nie.” Haar teleurstelling was groot. Sy het met haar lewe aangegaan, maar altyd bly glo sy sal haar kind eendag vind. Toe kom die skok van die kankerdiagnose in 2008.

In 2009 het Anitha ’n dubbele mastektomie ondergaan. Die kanker het toe reeds verder deur haar lyf versprei, en sy moes met chemobehandeling begin.

Toe kry sy daardie dag in 2009 ’n stemboodskap op haar selfoon: “Hi, dit is Wildri Boshoff wat praat. Bel my ’seblief terug.”

Toe sy die wildvreemde vrou terugbel, het dié haar net drie vrae gevra: Is jou nooiensvan Van der Westhuizen? Het julle in die Kaap gebly?

‘Om vir Wildri te kon ontmoet was ’n oorwinning’

Is jy my ma?“Ek kan nie my presiese woorde of emosie onthou nie . . . Ek was net heeltemal uit die veld geslaan,” vertel Anitha. “Al wat ek kon sê, was iets soos: ‘Ja, dit kan ek wees . . .’ ”

Vanuit Durban vertel Wildri, ’n vennoot in ’n haarsalon, van haar reaksie op daardie eerste telefoongesprek met haar ma: “Dit was ’n bietjie van ’n freakout toe ek hoor haar stem klink baie soos myne,” sê sy. “Ons het daardie dag seker ’n uur of wat gechat.”

Daardie dag het Anitha uitgevind Wildri het ná haar aanneming in ’n gelukkige plaasgesin in KwaZulu-Natal grootgeword – haar aanneming is nooit vir haar weggesteek nie. En borskanker is in 2006 by haar gediagnoseer. Toetse het ná die kankerdiagnose gewys Wildri het die BRCA2-geenmutasie. 

“Omdat dit ’n genetiese kanker is, wou die onkoloog alles van my familiegeskiedenis weet, en ek het besluit om my biologiese ma op te spoor,” verduidelik Wildri. “Dit het my egter ’n jaar gevat om deur al die regte kanale te werk om my lêer by die aannemingskantoor in Pretoria te kry. 

ma,dogter
’n Jonger Anitha (links) en Wildri. Foto's: Verskaf

“Omdat dit ’n geslote aanneming was en Anitha as minderjarige destyds nie ’n ID-nommer gehad het nie, was daar bitter min inligting om mee te werk. Eintlik maar net haar nooiensvan en dat hulle in Goodwood in Kaapstad gebly het.”

’n Vriend van haar wat die Kaapse omgewing ken, het haar gehelp, en sy het begin om al die Afrikaanse skole in Goodwood, asook al die Van der Westhuizens, te kontak. Eindelik het sy by Anitha uitgekom – net om uit te vind haar biologiese ma het ook borskanker.

SEWE maande ná hul eerste telefoongesprek het Wildri ’n week op Aggeneys by Anitha gaan kuier. “Teen daardie tyd het al my hare al uitgeval en moes ek ’n pruik dra,” onthou Anitha. “Ek was so skaam daaroor dat ek dit glad nie wou afhaal nie.”

Sy onthou daardie eerste ontmoeting as ’n “gevoel van onwerklikheid”.Anitha se kanker was ná haar eerste chemobehandeling in 2009 agt jaar in ­remissie voor dit in 2017 in haar skelet opgeduik het.

Sy het toe chemoterapie ondergaan. Ook Wildri het in daardie stadium weer kanker gehad – dié keer in haar longe – en moes ook chemo kry. Wildri vertel ná haar diagnose en behandeling in 2006 was sy nooit weer volkome kankervry nie.

Die kanker het eers in haar lewer en daarna na haar longe en brein versprei. Sy stry steeds hierteen en ontvang bestraling en chemobehandeling daarvoor. Vir Anitha het haar herontmoeting met Wildri haar die moed gegee om teen die kanker te baklei. 

“Wildri het my deur die laaste 10 jaar se stryd rede gegee om soggens op te staan. Al voel ek hoe sleg en is my lyf in hoeveel pyn, sal ek nooit kla nie. 

Om vir Wildri te kon ontmoet was ’n oorwinning waarop ek 30 jaar gehoop het,” sê sy. “Wildri is my inspirasie. Al is sy hoe siek, is sy die een wat my ondersteun.”

Sy het twee maande laas chemoterapie gekry en vertel die siekte is in remissie, maar sy besoek haar dokter weer binnekort vir ’n ondersoek. Wildri vertel sy beskou Anitha as ’n hegte vriendin eerder as ’n ma. 

Sy meen die afstand het dit moeilik gemaak om mekaar werklik as ma en dogter te leer ken. Tog gesels hulle daagliks op WhatsApp – soms is dit net om ’n grappie te deel, ander kere om ’n bemoedigende boodskap te stuur. 

Want 40 jaar nadat hulle van mekaar geskei is, het die twee mekaar weer gevind, net toe hulle mekaar in hul grootste stryd kon steun. 

Die kanker wat ma en dogter deel
BRCA1 en BRCA2 is geenmutasies wat van geslag na geslag oorgedra kan word, sê dr. André Dreyer, ’n onkoloog by die Panorama-onkologiesentrum in Kaapstad. “Sodra dit in jou familie ontdek word, moet jy as ’n voorkomende maatreël vir toetse gaan. Daar is ’n 50% kans dat jy dit kan erf,” sê hy. Hy verduidelik die toets vir die BRCA1- en 2-gene word deur middel van ’n bloedtoets gedoen.
 
Anitha en Wildri se mediese skemas het dié toetse gedek. “Hierdie kanker val hoofsaaklik ’n vrou se borste, eierstokke en baarmoeder, oftewel die ovarium, aan.” Hy beklemtoon die genetiese oordrag kan van ’n manlike óf vroulike voorgeslag kom.