“Op 16 Junie het Charlene met Miandrie aan haar heup aangeloop gekom toe ’n onbekende iets uit die drom ontplof, na hul kant geskiet en hulle aan die brand geslaan het,” vertel Nastassja Blignaut, ’n familielid van die gesin. 

charlene hiscock,bloemfontein
Charlene en haar dogtertjie Miandrie voor die brandvoorval. Foto: Verskaf

Johan Fourie (26) het toe sy dogtertjie gegryp en in water gedruk terwyl Charlene op die grond gerol het om die vlamme dood te kry. 

“Hulle is nie seker wat die ontploffing veroorsaak het nie. Omdat dit ’n buitedrom is, kon iemand dalk iets ingegooi het,” sê Nastassja. 

charlene hiscock,bloemfontein
Charlene en haar eenjarige dogtertjie. Foto: Verskaf

Charlene en Miandrie is na ’n plaaslike hospitaal in Bloemfontein gehaas. Hulle woon buite Bloemfontein. 

Miandrie het op haar gesig en hand gebrand. “Die dokter sê dit het haar eerste laag van haar gesig gebrand en haar hand het erge blase.” 

Charlene het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig, linkerarm, bors en regterhand opgedoen. “Haar gesig aan die regterkant het ’n bietjie erger gebrand en is baie geswel.” 

Hulle het die drom later uitgegooi om te kyk wat die ontploffing kon veroorsaak het, maar alles wat in die drom was, het reeds uitgebrand. 

Ná drie dae in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein was daar aan hulle gesê om wondsorg by ’n kliniek te kry.

“Ons was bekommerd dat hulle elke keer ’n hele dag lank daar moet gaan sit en dalk ’n infeksie of siekte kry wat die herstelproses langer sal maak,” sê Nastassja.

Sy en die res van die familie het toe besluit om ’n geldinsameling vir die gesin te begin omdat hulle nie mediese fonds het nie.

“Ons weet by ’n privaat hospitaal is die kanse baie beter vir ’n goeie herstel.” 

Ma en dogter het juis vandag met hul behandeling by die Mediclinic in Bloemfontein begin. 

“Miandrie gesels en loop al rond. Die dokter het vir haar pynmedikasie en vitamiene voorgeskryf.”

Dit gaan ook al beter met Charlene hoewel sy nog in baie pyn is. 

“Hul behandeling gaan afhang van hoe hulle herstel, maar dit gaan heel moontlik drie tot ses maande wees. Hulle sal later kan sê of Charlene veloorplanting moet kry as haar gesig nie self ten volle herstel nie,” sê Nastassja.