Haar ma, Maria Plenkina (21), het luidens berigte glo ’n bietjie jogurt, hoender en worsies vir haar gelos om te eet terwyl sy gaan drink en rinkink het saam met vriende.

Asof dit nie wreed genoeg was nie, het sy glo ook die woonstel se water afgesit . . .

Na wat berig word het klein Kristina later wasgoedseep begin eet.

Die afgryslike voorval het verlede jaar rondom Valentynsdag plaasgevind en die hofsaak teen Maria is tans aan die gang.

Maria Plenkina (21) het die morsige woonstel op 13 Februarie verlaat en eers weer op 20 Februarie huiswaarts gekeer.

Maria se bedroefde ma, Irina Plenkina (47), was egter die een wat op die 20ste op die halfnaakte liggaam van Kristina in die rommelbestrooide woonstel afgekom het toe sy vir haar kleinkind ’n verjaardaggeskenk wou neem.

Die ontnugterde vrou sê sy sou enige tyd na Kristina omgesien het as sy geweet het wat aangaan. Maar Maria het daagliks laat weet dit gaan goed met hulle albei.

Sy sê Maria het die hele week lank vir haar gelieg en almal rondom haar mislei.

Maria het nie net vir haar ma ’n rat voor die oë gedraai nie. Die vriendin by wie sy die week spandeer het, Anastasia Kurpina, het geglo Kristina is by een van Maria se ander vriende wat na haar sou omsien.

Boonop was Anastasia ook die een wat vir die week se kerjakkery, drank en besoeke aan nagklubs betaal het.

Maria het nou skuld beken op die klag van moord, maar bygevoeg sy het nie probeer om Kristina dood te maak nie.

Sy het na bewering huilend in die hof gesê: “Ek wou nooit gehad het sy moet sterf nie.”

Desondanks het psigiaters bevind Maria is ten volle bewus van haar dade en dat sy by haar volle verstand is.

Sy kan van agt tot 20 jaar tronkstraf opgelê word vir die dood van Kristina.

Bronne: sde.co.ke, fromrussiawithcrime.com, metro.co.uk, urduglobals.com, mirror.co.uk, dailymail.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.