Sedert sy geboorte dra sy ’n stukkie van haar seun se gedroogde naelstring in haar beursie saam met haar.

Die afgelope agt jaar, terwyl die Suid-Afrikaanse ma bly veg het om hom weer te sien terwyl hy by sy ouma in China gewoon het, het dit vir haar ’n tasbare simbool van die band tussen hulle geword.

Nou, ná soveel vergeefse pogings en soveel jare van wipplankry tussen hoop en wanhoop, het die dag eindelik aangebreek dat sy weer die seun wat sy noodgedwonge as vierjarige in die Ooste moes agterlaat in haar arms sal kan vashou.

Vandag kan sy weer die emosionele naelstring tussen hulle begin herbou. Die vorige middag het die ma (34) danksy die geldelike hulp van vriende uit hul tuisstad, Port Elizabeth, saam met haar ma (62) na Durban gevlieg, waar hul langverlore seun en kleinseun ’n week voor Kersfees saam met sy ander ouma geland het.

Vir die eerste keer sedert 2009 kon ’n Suid-Afrikaanse ma en haar seun mekaar ’n drukkie gee.

Sy pa woon in Durban en wil hê hy moet nou hier kom skoolgaan en leer Engels praat.

“Ons het hande vasgehou en gebid dat die Here vir ons ’n wonderwerk moet gee, dat die seun sy ma nie sal kwalik neem nie,” vertel die Afrikaanse ouma voor Maritime Place, ’n gebou aan die Durbanse seekant, waar die weersiens in ’n gesinsadvokaat se kantoor gaan plaasvind. Die ma kon nie gisteraand slaap of vanoggend eet nie.

“Ek was so bang my kind is weer landuit,” vertel sy in die hysbak op pad na die 16de verdieping. Saam met die regshulpraadprokureur wat haar al sedert 2010 help om haar kind weer te probeer sien, gaan sit sy in die voorportaal, van waar hulle ’n uitsig oor die groen heuwels van die voorstad Musgrave het.

Dan skielik is hulle daar: haar Chinese eksman, sy ma wat sedert 2009 hul seun in China versorg en die seun na wie sy deur die jare verlang het. Hulle kom by die voorportaal ingestap en gaan oorkant die ma en Afrikaanse ouma teen die muur sit.

Die seun kyk vlugtig in sy ma se rigting en ’n glimlag flits oor sy gesig. Die afgelope agt jaar het hulle mekaar net op Skype en tydens video-oproepe gesien.

Die oomblik is te groot.

“My boy, my boy. My kind. Hy is pragtig. My kind, my kind. Dit voel asof ek gaan flou word. Ek kan my hart hoor klop,” fluister die ma.

Sy wil opspring en hom teen haar bors vasdruk, maar wil hom nie oorweldig en verskrik nie. Daarom bly sy op die regte oomblik wag, soos sy al die afgelope agt jaar op hul herontmoeting wag.

‘Hy het nie meer ’n seuntjielyf soos al daardie jare gelede toe ek hom laas so kon vashou nie’

Die ma en haar eksman (38) het mekaar destyds ontmoet toe hulle in verskillende winkels op Hluhluwe in KwaZulu-Natal gewerk het. Hulle is daarna getroud. In Mei 2009, toe hul seun vier was, het die gesin na China gereis om by die Suid-Afrikaanse vrou se Chinese skoonma te gaan kuier.

Haar man het toe vir haar Chinese dokumente gegee om te onderteken wat sy nie behoorlik verstaan het nie, beweer sy. Volgens die dokumente sou sy glo instem om voogdyskap oor haar kind aan haar skoonma te gee.

Die ma hou vol sy het nie verstaan wat die dokumente beteken nie, terwyl haar eksman se prokureur aanvoer hulle het die dokumente deeglik vir haar in Engels vertaal. Sowat ses maande ná hul aankoms in Nanping, China, op hul laaste aand saam in Oktober 2009, het sy haar seun, toe ’n vierjarige, ’n drukkie gegee en in Afrikaans gesê: “Lekker slaap. Sien jou môre.”

Die ma en Afrikaanse ouma kyk na video’s en foto’s van die dag van blye weersiens in Durban.

Toe sy die volgende oggend wakker word, was hy reeds saam met sy Chinese ouma weg na ’n ander dorpie. Volgens die ma het ander lede van haar skoonfamilie haar kom oplaai en na die lughawe geneem.

Sonder geld in ’n vreemde land en met ’n visum wat reeds verstryk het, was sy verplig om sonder haar seun terug te vlieg Suid-Afrika toe. Sy het vergeefs by van die Suid-Afrikaanse polisie tot die Chinese owerheid en Interpol aangeklop, want daar is geen uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en China nie. Deur die jare het sy bly soek na ’n manier om haar kind weer te sien.

Terwyl haar seun in die voorportaal langs sy Chinese ouma na die tekenprent A Bug’s Life op TV sit en kyk, probeer die ma met hom oogkontak maak. Hy is net ’n paar meter van haar af, maar vir haar voel dit kilometers ver.

'Jy kan mos sien ek is deel van hom?'

Toe hy vir haar kyk, swymel sy: “Kyk sy mooi kuiltjies. Hy het dit al van babadae af. Ek het dit so gemis. Sy oë is soos myne. En sy ken. Sy hare is baie donkerder as wat ek kan onthou. Jy kan mos sien ek is deel van hom?” sê-vra sy.

“Ek wens ek kan hom nou vashou. Mamma se kind. Die helfte van my hart.”

Dis ’n dag waarop sy en haar ouers al baie lank wag. Sy Afrikaanse oupa wou ook saamkom, maar die geld was te min. Die afgetrede voorman in die boubedryf kan nie wag om saam met sy vervreemde kleinseun vleis te braai en vis te vang nie.

Die vrou wys ’n album met foto’s van haar seun as baba en ’n stukkie van sy gedroogde naelstring wat sy altyd in haar beursie dra.

Ook die ma se jongste, ’n vierjarige seun, weet hy het ’n ouboet wat tot nou toe iewers ver in die wêreld gewoon het. Wanneer hy ’n vliegtuig in die lug sien, sê hy “brother”.

Sy 32-jarige pa, sy ma se verloofde, stuur vandag gedurig vir haar bemoedigende boodskappe op haar selfoon terwyl sy wag. Teen 12:10 roep die advokaat hulle na sy kantoor. Dit is die oomblik waarop die ma so lank gewag het.

Sy gee hom ’n drukkie. “Ek het nie geweet of my kind my gaan aanvaar nie. Ek was duiselig. Dit was soos ’n elektriese skok deur my are,” vertel die ma later.

“Hy het vir my geglimlag toe ons mekaar ’n drukkie gee. Hy het nie meer ’n seuntjielyf soos al daardie jare gelede toe ek hom laas so kon vashou nie. Maar toe ek hom ’n soen op sy mond wou gee, het hy weggetrek. Dis seker nog te vroeg. Maar ek kon voel daar is steeds ’n band tussen ons.”

Haar vreugde is nog groter toe sy hoor die seun kan vir ’n tydjie die middag saam met hulle by The Pavillion-winkelsentrum kuier, maar sy pa en ander ouma moet saamkom.

“Ek wil vir my kind ’n presentjie op my Game-rekening koop,” vertel die ma in die motor op pad daarheen.

Hulle ontmoet mekaar by Nando’s en gesels in gebroke Engels oor koeitjies en kalfies. Wanneer die ma en die Afrikaanse ouma vra: “Remember this?” oor iets uit sy sorgelose kinderjare in Suid-Afrika, knik hy sy kop.

“Dank die Here vir dié middag”

Later stap ma en seun hand aan hand deur die winkelsentrum. Kort-kort sit hy sy arm om haar skouers. Hulle praat nie veel nie, maar die blyke van toenadering sê vir die ma oorgenoeg.

Sy wil vir hom ’n koordlose Bluetooth-luidspreker koop, maar hy kies swemgoed: ’n duikbril, paddavoete en T-hempie. Die ma koop ook vir hom ’n nuwe simkaart vir sy foon en gee vir hom die bankkaart vir ’n spaarrekening wat sy vir hom geopen het.

“Dank die Here vir dié middag,” jubel die Afrikaanse ouma later.

“Hy het my ook herken en erken as sy ouma.”

Ná hul eerste kuier kry die ma ’n WhatsApp in Mandaryns van haar seun wat losweg beteken: “Ons sal aanhou gelukkig wees volgende maand.”

“Dan het ons mos hoop,” is haar reaksie. “Ek wil hom so graag ook as deel van ons gesin hê.” Die volgende oggend voor sy en die Afrikaanse ouma terugvlieg na Port Elizabeth, gaan eet hulle saam met hom ontbyt.

“Die ander deel van my hart is terug. Ek wens net ek kan hom saamvat huis toe,” sê die ma.

Nou tel sy die dae af tot hul volgende weersiens.

  • Alle betrokkenes se name is op regsadvies weggelaat.

    Foto's: 
    Gerhard du Bruin, verskaf