Koos Coetzee, Charlene se skoonpa, vertel sy seun, Ruan, was by sy skoondogter toe die ongeluk vroeg Sondagmiddag gebeur.

“Daar is nog baie onsekerhede. Sy is nog kritiek en ons kan haar nie sien nie,” het Koos Dinsdag aan Huisgenoot vertel. 

Charlene, wat in die korttermynversekeringsbedryf in Krugersdorp aan die Wesrand werk, het byna al haar bene in haar onderlyf in die ongeluk gebreek of vergruis, onder meer haar ribbes en bekken.

Die omvang van die skade en die gevolge vir Charlene is nog onbekend.

“Sy het Sondag twee operasies aan haar heup en bekken gehad en vandag weer. Ons vat dit maar uur vir uur en wag dat die dokters vir ons sê…”

Charlene Coetzee van Krugerdorp word tans in die M
Charlene Coetzee van Krugerdorp word tans in die Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel. Foto: Facebook/CharleneCoetzee

Vir die egpaar het dit as ’n gewone Sondag begin. Koos vertel Ruan en Charlene se dogtertjie is nou ses jaar oud en hul seuntjie twee. Die egpaar het die kinders by haar ma-hulle op die dorp gelos om gou by die Cradlestone-winkelsentrum net buite Krugersdorp te gaan kruideniersware koop. Hulle sou later die middag saam braai.

“Hulle kon sekerlik na ’n nader winkelsentrum toe gegaan het, maar dié winkelsentrum (Cradlestone) het ’n groot kruideniers- en speelgoedwinkel,” vertel hy.

Koos vertel dit was omstreeks halfeen toe sy seun hom geskok bel.“Hy het gesê: ‘Pa, hier was nou ’n moerse ongeluk.” 

Koos vertel dit was eintlik ’n sameloop van omstandighede dat hulle na die Dealz-winkel is waar die ongeluk gebeur het.

Charlene en haar man, Ruan. Hy was by haar toe die
Charlene en haar man, Ruan. Hy was by haar toe die ongeluk gebeur, maar het net ligte beserings opgedoen. Foto: Facebook/CharleneCoetzee

“Voordat hulle na die Pick ’n Pay toe is vir die kruideniersware, was hulle eers na die Toys R Us om vir die kinders geskenkies te koop. 

“Hulle het vir hul een kindjie hier ’n geskenkie gekry, maar daar was net een daarvan en Charlene wou graag vir die ander een iets soortgelyks koop.”

Hulle is toe na die Dealz-handelaar, ’n winkel wat alles van plastiek- en huisware, speelgoed, snoeperye en grimering verkoop.

“Hulle het net die geskenkie gekies. Ruan het nog by haar gestaan toe hulle die gedreun hoor. Hy het gesê: ‘Kom, ons moet gaan betaal.’ ”

Ruan het weggestap, min wetend dat die geluid wat hy uit die plafon of mure gehoor het, binnekort in ’n grootskaalse tragedie sou ontaard.

Koos vertel die plafon en ’n muur binne-in die winkel het in die oomblik dat Ruan weggestap het met ’n geweldige slag op Charlene ineengestort.

“Toe hy omdraai, kon hy haar nie eens sien nie. Die bakstene het haar heeltemal bedek. Hy het haar met sy kaal hande daar begin uitgrou.”

‘Toe hy omdraai kon hy haar nie eens sien nie. Die bakstene het haar heeltemal bedek. Hy het met sy kaal hande haar daar begin uitgrou.’

Koos vertel toe hulle by Cradlestone aankom, was paramedici in die parkeerarea besig om Charlene in ’n ambulans te laai. Ruan se klere was papsopnat soos die stukkende pype water in die mure hom nat gespuit het.

Koos het vir sy seun sy baadjie gegee om hom warm te hou.

Charlene is met ER24 se ambulans tot by Hendrik Potgieter-weg geneem waar 'n Netcare-helikopter gewag het. Sy is in ’n kritieke toestand per helikopter na die Milpark-hospitaal gebring, waar sy tans nog stabiel maar kritiek is.

Koos vertel hulle het Maandag ook vir Ruan by die dokter gehad. Hy het nes enkele ander omstanders, ook ligte beserings opgedoen.

“Of hy deur die bakstene getref is, weet ons nie, maar sy voet en bene is seer. Dit kan wees dat hy beseer is terwyl hy Charlene daar probeer uitgrawe het.”

Charlene en Ruan is volgens Facebook al reeds 11 jaar bymekaar. 

Koos dink vir ’n oomblik oor sy jong kleinkinders.

“Dis net ’n wonderwerk dat hulle nie ook saam daar was nie, ander was hulle nou dood.”

Koos vertel die beserings aan Charlene se onderlyf, van haar ribbes onder toe, is baie erg. Wat die toekoms inhou, weet hulle nie. “Ons weet nog nie wat die omvang van die beserings op haar mobiliteit gaan wees nie.”

Die beseerde Charlene Coetzee. Foto: Facebook/Char
Die beseerde Charlene Coetzee. Foto: Facebook/CharleneCoetzee

“Sover weet ons sy gaan minstens ses tot agt weke in die hospitaal wees. Ons bid en vertrou sy gaan lewendig hier uitkom. Mentally is daar niks fout met haar nie. Sy kon ná die ongeluk nog haar ma se nommer onthou en vanuit die hospitaal met haar op die foon praat.

“ ’n Mens kan nie dink dat sy op daardie oomblik net op die verkeerde plek, op die verkeerde tyd was nie. Dis ’n Godsgenade sy het oorleef . . . Al wat ons weet, is Charlene is ’n baie sterk mens. Sy sal hierdeur kom.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.