Sy en haar twee dogters en kleinseun sit in haar nuwe eenvertrek-plakkershut op ’n oranje plastiekvel om die sand onder hulle te bedek, berig GroundUp.

Daar is geen meubels, slegs ’n klein tafel vir ’n kers en ’n paar plastieksakke van geskenkte klere wat hulle as kussings gebruik. In een hoek staan ’n krat met babakos.

Die brand in Pholile Park het daardie aand meer as 150 mense dakloos gelaat. Lulama het alles verloor.

Lulama Ngqiyi (in rooi) met haar jongste kind. Haar oudste dogter, Zintle, sit langs haar. Foto: Thembela Ntongana, GroundUp.

Toe GroundUp haar ontmoet, het sy pas ’n tydelike ID gekry wat haar in staat stel om haar kind se doodsertifikaat te laat verwerk.

“Dit gaan nie goed nie. Ek is nie seker of ek ooit weer oukei sal wees nadat ek ’n kind op daardie manier verloor het nie,” sê Lulama.

Die brand het om 23:00 in die drievertrek-plakkershut begin wat Lulama met haar vier kinders, kleinseun en niggie gedeel het.

Die oorsaak van die brand was ’n onwettige verbinding. Die krag het vroeër die aand afgeslaan en sy het vergeet om die kragproppe af te skakel.

‘Ek het geweet my seun sterf’

“Ons het geslaap toe die krag weer aangaan en dit lyk of een prop agter die yskas in die kombuis ontplof het,” sê sy.

“Ons het almal uitgehardloop en eers agterna besef Lukho is nie saam met ons nie. Die plakkershut het twee deure gehad en ons het die een gebruik wat nie diefwering het nie. Hy het na die een gegaan wat gesluit was.

“Toe ons hom hoor huil, het ons die diefwering saam met ander inwoners probeer breek. Toe hou hy skielik op, en ons het daarna ’n harde slag gehoor. Ek het geweet my seun sterf,” sê Lulama.

Dankbaar

Sy is tans werkloos. Haar laaste werk was by ’n spazawinkel waar sy vetkoek gemaak en verkoop het. Die familie steun tans net op kindertoelae.

“Dis hartseer om so ’n jong kind voor die ouers te sien sterf, veral op daardie manier,” sê haar broer, Bumbuluzana Pewu.

“Ons is dankbaar dat almal nie gesterf het nie, en dat sommige lewens gered is.”

Die wyksraadslid Jongidumo Maxheke het aan GroundUp gesê hul kantoor probeer nog om hulp vir die familie te kry.

“Ek begryp die situasie waarin die familie is en dat hulle nie kan bekostig om vir die begrafnis te betaal nie. Ek probeer vir hulle hulp kry, maar het tot dusver nog niks gekry nie.”
 
Bron: news24.com