“Dis baie moeilik," sê Noelene van Blerk, ’n vriendin van die familie, aan Huisgenoot. "Dit sal haar pletter wanneer sy hoor haar kind is dood. Ons kan haar nie enige dag sê nie. Ons sal moet wag tot die tyd reg is.

Noelene sê hulle sal Shanei vertel wanneer sy meer van die ongeluk kan onthou. "Ons sal seker maak ’n berader is by wanneer ons dit doen.”

Die jong ma het reeds twee operasies ondergaan en word steeds in die hospitaal behandel.  

“Sy is wakker, maar sy onthou nie wat die vorige dag gebeur het nie," sê Noelene. "Sy het nog glad nie na Reanei gevra nie; daarom het ons haar nog nie vertel nie."

Shanei se lewe het glo om dié dogtertjie van haar gewentel. Ma en dogter was in ’n botsing tussen Drie Riviere en Vereeniging toe Shanei op pad was om haar donkerkopdogtertjie by die kleuterskool af te laai. 

“Reanei was in haar stoeltjie," vertel Noelene, "maar die bandjies van die stoeltjie het gebreek en sy is uitgeslinger. Sy is kort daarna dood."

Shanei het ernstige beserings opgedoen.

“Ons gaan kuier daagliks vir haar en die meeste van die tyd herken sy ons," sê Noelene. "Sy het al twee keer na haar kind verwys, maar praat dan weer oor ander dinge.

"Sy weet nie aldag sy is in die hospitaal nie en weet ook nie waar haar beserings vandaan kom nie, al het ons haar gister (Dinsdag) vertel." 

Shanei se sosialemediablaaie is vol foto’s waar sy en haar enigste kind gesigte trek vir die kamera en oopmond lag. 

Shanei en haar dogtertjie Reanei. Foto: Facebook

Noelene sê hulle is van plan om Shanei vandeesweek na ’n privaat hospitaal te laat oorplaas.

“Dis nie dat haar behandeling sleg is in die staatshospitaal nie; ons kry net nie tyd om met dokters te praat oor haar diagnose nie.

"Ons is net ’n uur per dag saam met haar. Ons weet nie of sy breinskade het of (net) aan tydelike geheueverlies ly nie.”

Noelene sê hulle het reeds R60 000 ingesamel op ’n Facebook-blad, Mommy Shanei, wat gestig is om haar mediese koste te help dek.