Tussen druiwepriële en lentebloeisels op Stellenbosch staan ’n jong donkerkopman buite ’n spogrestaurant en wag.

Hy is bleek en dra ’n blou mediese masker oor sy mond, maar sy oë glimlag.

Hy wag op ’n vrou wat hy nog nooit tevore ontmoet het nie, maar danksy haar het hy die grootste geskenk denkbaar gekry – ’n nuwe kans op ’n gesonde, normale lewe.

As dit nie vir ’n dubbele longoorplanting 12 dae tevore was nie, sou Andries van der Merwe (25) nog net meer as ’n jaar oorgehad het om te leef. Ná ’n jare lange stryd teen sistiese fibrose het sy longkapasiteit tot net 17% gedaal.

En toe, op Vrydagaand 23 Augustus, kom die oproep van sy dokter met die nuus waarop hy maande lank gewag en gehoop het: Hulle het ’n paar gesonde longe vir hom gekry.

Andries het dadelik sy ouers, Albertus en Anna-Mart van die dorpie Breërivier tussen Worcester en Ceres, gebel om hulle daarvan te vertel.

Maar terwyl hulle saam met hom verlig en verheug was, was ’n ander ma elders in die Wes-Kaap in rou gedompel nadat haar enigste kind daardie dag brein­dood verklaar is.

Lisa Smorenburg van Riviersonderend se donkerkopseun, Storm (18), het die vorige dag ernstige kopbeserings in ’n ongeluk opgedoen.

Lisa se seun, Storm, is in ’n ongeluk oorlede en s
Lisa se seun, Storm, is in ’n ongeluk oorlede en sy longe is in Andries oorgeplant. Foto verskaf

Dié lewenslustige matriekleerder aan die Hoër Landbou­skool Oakdale op Riversdal het die oggend agteroor van sy skaatsplank geval terwyl hy op pad van die skool se koshuis na die hoofgebou aan sy matriekvriende se bakkie vas­gehou het.

In haar hartseer het Lisa (53), ’n enkel­ouer, onthou sy en Storm het eenkeer oor orgaanskenking gesels.

Toe het hy gesê dit is iets wat hy graag sou wou doen . . .

En deur dié sameloop van omstandighede raak Andries en Lisa, twee algehele vreemdelinge, se lewens nou verweef.

Want in Andries se borskas dra hy nou die longe van Lisa se geliefde seun. Soos die dankbare Andries dit in ’n Facebook-inskrywing stel: “ ’n Storm het my lewe getref met nuwe longe.”

Toe Lisa minute later voor die restaurant uit haar motor klim, omhels die twee mekaar soos ou bekendes.

Sy druk hom styf teen haar vas en haar blou oë skiet vol trane.

In hierdie jong man wat sy nou styf vashou, leef iets van haar eie seun voort – die longe wat hom 18 jaar lank laat asemhaal het.

Toe hy dood is, was dit net sy lyf wat daar gelê het. Sy siel was reeds in die hemel.

Dit was nie vir haar ’n moeilike besluit om Storm se organe te skenk nie, vertel sy later – benewens sy longe ook sy hart, korneas, niere, lewer en selfs sy vel vir die slagoffers van brandwonde.

“Toe hy dood is, was dit net sy lyf wat daar gelê het. Sy siel was reeds in die hemel,” sê Lisa en druk-druk met ’n sneesdoekie onder haar oë.

“En nou het hy ná sy dood ander mense gehelp. Ek weet dit is wat hy sou wou hê.”

Storm

Om die restauranttafel vertel Lisa vir Andries meer oor die ruimhartige jong man wat sy lewe gered het – al het hulle mekaar nooit geken nie.

Storm was avontuurlustig, ’n kranige rugbyspeler, lewensredder, branderplankryer en tweekampatleet.

Ma en seun was baie geheg aan mekaar en het vele avonture saam aangepak – van kabelgly tot motorfiets ry.

Vir sy 18de verjaardag op 5 Junie wou hy graag ’n skaatsplank hê. Storm was in die wolke toe Lisa op sy verjaardag vir hom dié geskenk bring.

“Jy kan jou kind nie in watte toedraai nie,” sê sy, en haar gesig vertrek van emosies wat dreig om haar te oorweldig.

Lisa en Andries ontmoet mekaar. Foto: Corrie Hanse
Lisa en Andries ontmoet mekaar. Foto: Corrie Hansen

Andries neem haar hand oor die tafel en druk dit vertroostend.

Die noodlottige Donderdag was in die eksamentyd. Storm, geklee in sy blou-en- wit skooluniform, was op pad skoolsaal toe om Afrikaans te skryf.

Hy het op sy skaatsplank gespring en aan sy vriende se bakkie vasgehou, maar die draaie in die pad het vermoedelik vir hom te erg geraak. Toe laat los hy, val agteroor, en sy kop tref die pad. Hy het onmiddellik sy bewussyn verloor – en dit nooit herwin nie.

Lisa was op Stellenbosch vir haar werk as navorser by die departement van landbou toe sy die oproep van die skoolhoof kry. Storm is eers na die Riversdalhospitaal geneem, maar daarna na die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai oorgeplaas.

“Ek het eers die erns van sy beserings besef toe ek hom in die hospitaalbed sien lê, gekoppel aan al die masjiene.

“Die volgende dag het dokters gesê hy is breindood. Ek het heeltyd net by sy bed gesit, hom vasgehou en gesê: ‘Ek is lief vir jou; ek is so lief vir jou. Ek is nie kwaad oor wat gebeur het nie.’
“Ek het geglo hy kon my hoor.”

In daardie laaste ure van afskeid het sy hul gesprek oor orgaanskenkings onthou.

“Van kleins af het Storm altyd mense gehelp wat nie hulself kon help nie. Ek moes sy organe afteken.

“Hoekom sal ’n mens iemand in die grond wil begrawe of verbrand as jy ander mense se lewens kan verander?” vra sy en kyk na die jong man oorkant haar wat steeds haar hand in syne hou.

Andries

Andries in die hospitaal. Foto verskaf
Andries in die hospitaal. Foto verskaf

Die dag van Storm se ongeluk het Andries een van vele doktersafsprake gehad. Hy was net drie jaar oud toe sistiese fibrose by hom gediagnoseer is – ’n siekte wat onder meer die longe aantas.

Destyds het dokters gedink hy sal nie tot sy sewende verjaardag leef nie. Maar hy het sy skoolloopbaan moedig aan­gedurf en flink rugby, krieket, hokkie, tennis en skaak gespeel.

“Ek moes so aktief moontlik bly om my longe te oefen,” verduidelik hy.

Ná skool wou Andries ’n sjef word. Hy het aan die Institute of Culinary Arts op Stellenbosch studeer en daarna by die Tokara-restaurant begin werk. Deur die jare het hy ál meer gesukkel om asem te haal weens oormatige slym wat in die longe ophoop.

“Ek het gevoel my liggaam gaan agteruit. Ek het geen energie gehad nie en het erg begin gewig verloor.”

Agt maande gelede moes hy nood­gedwonge uit sy werk bedank en op ’n wonderwerk wag.

Met sy doktersafspraak daardie Donderdag is sy bloedsuurstofvlak getoets.

“Dit was heeltemal te laag en die dokter het gesê ek moet van daardie Maandag af permanent met ’n suurstoftenk loop,” vertel Andries.

“Ek was toe reeds sewe maande op die waglys vir ’n longoorplanting. Ek het net ’n jaar en ’n bietjie oorgehad om te leef.”

Daar in die spreekkamer was Andries en sy ouers baie mismoedig. Min het hulle toe geweet ’n langverwagte oproep net die volgende aand sou nuwe hoop bring.

Die oorplanting

Op Saterdag 24 Augustus het Lisa haar seun om tienuur die oggend ’n laaste keer in sy hospitaalbed op Mosselbaai gegroet voor hy ingestoot is teater toe. Buite het ’n privaat straler van ’n weldoener gewag om sy longe Kaapstad toe te neem.

Daar in die Groote Schuur-hospitaal is Andries twee uur later in die teater in­­gestoot vir die sewe uur lange dubbele longoorplanting.

“Ek voel amazing. Ek het nog nooit so goed gevoel nie,” sê hy nou van agter sy masker. Sedert die operasie moet hy dit dra wanneer hy tussen mense is om te keer dat hy infeksie kry.

“As daar geen komplikasies is nie, kan ek nou maklik nog 20 jaar leef,” voeg hy hoopvol by.

Hy is net die vorige dag uit die hospitaal ontslaan. Hy fokus nou daarop om van dag tot dag te leef terwyl hy gemonitor word vir enige teken dat sy liggaam sy skenkerlonge verwerp. Toekomsplanne noudat hy ’n tweede kans op die lewe gekry het, sal tot later moet wag.

“Dit voel ongelooflik goed om Andries se storie te hoor en te weet ons kon hom help met ’n nuwe lewe. Dit help met die rouproses,” sê Lisa en sluk weer om die trane te keer.

Dan kyk sy na die jong man oorkant haar op wie ’n nuwe lewe wag – ’n oorwinning wat uit ’n tragedie gebore is.

“Ek hoop ons kan nog lank kontak behou sodat ek kan weet hoe dit met jou gaan,” sê Lisa.

En Andries knik sy kop beslis. Want in hom is nuwe lewe. 

Word só ’n orgaanskenker

Een orgaanskenker kan tot sewe mense se lewe red. Gaan na die Orgaanskenkerstigting se webtuiste vir nog inligting.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.