’n Dag ná die vernietigende elektriese brand – ’n vlammehel wat haar woonstel en al haar besittings in puin gelê het – is sy steeds geskok oor presies hoe naby sy aan die dood gekom het, sê Dunell van Rooyen.

Sy het álles verloor. Elke ding waarvoor sy haar lewe lank gewerk het . . . Alles behalwe haar eie lewe – en dié van haar drie dogters, Anzel (7), Coan (14) en Jeanelle (15), en haar ma, Rina.

Tog, vra jy haar hoe dit gaan, antwoord Dunell: “Goed, dankie. Die Here het ons gespaar – en die Here sal weer die paaie gelyk maak . . .”

Sy het Woensdag (11 Desember) teen vroegskemer, nog voor 05:00, wakker geskrik toe haar ma, Rina, aan die rook verstik. 

“Ek het opgespring en toe die teëgekom wat ek nooit in my lewe gedink het ek sou beleef nie: die huis in vlamme; bolle swart rook in elke vertrek; vlamme teen die dak . . . My enigste gedagte was: jy móét almal veilig kry,” onthou sy van die voorval.

Dunell van Rooyen
Dunell se dogters: Anzel, Jeanelle en Coan. Foto: Verskaf

Dunell het eers na die voordeur, waar die vlamme ook gewoed het, gehardloop in ’n poging om die deur oop te sluit en dan haar kinders en haar ma daar te laat uitgaan. Maar dit was ’n onbegonne taak.

Terwyl sy deur die vlamme en rook self sukkelend asem gehaal het, was dit asof ’n stem hardop aan haar gesê het: breek die ruit.

“Ek is oortuig daarvan dit was die stem van die Here. Ek was verward en deurmekaar. En bang – natuurlik. ’n Mens weet hoeveel dinge verkeerd kan gaan, of dat jy kan sterf. Ons het al die kinders bymekaar gekry en ek het hulle toe een vir een deur die venster gedruk. Ons het toe op die winkeldak langs die gebou staan en wag dat iemand ons help. Almal was veilig en ongedeerd – behalwe vir alles in die woonstel wat afgebrand het.”

Dunell se suter, Marise Kruger, sê hulle is daarvan oortuig dat God die gesin beskerm het, aangesien alles in die huis gebrand het, behalwe die beddens waarop Dunell, haar kinders en Rina geslaap het.

Dunell van Rooyen
Alles in die huis het afgebrand. Foto: Verskaf
Dunell van Rooyen
Die kinders se kamer. Foto: Verskaf

“Toe ek agterna deur die woonstel loop, was al die vertrekke beskadig en pikswart. Alles behalwe elkeen se bed en Dunell se dogtertjie se slaapplekkie op die vloer. Die vlamme was om hulle, maar het nie een van hulle op die beddens geraak nie. Dis ongeloof hoe die Here hulle beskerm het,” sê sy.

Die brand is later geblus, maar byna geen van Dunell se besittings kon gered word nie. Die gesin is ook vir rookinaseming behandel, en Dunell het klein snye op haar hande. 

Maar nou wroeg die gesin met die vraag oor waarom nóg so ’n tragedie hulle binne net maande kon tref. Want net nege maande gelede is Dunell se man, Danie (42), ook oorlede. Hy het vier hartaanvalle gehad – een aan diens waar hy as bouer gewerk het, en nog drie in die hospitaal. 

“Ag, jong . . . Dis hartverskeurend. En ek is maar 30 jaar oud. Maar ons bly moedig, en hoop. Ons weet die Here sal vir ons ’n uitweg maak.” 

Dit is steeds onseker presies hoe die brand ontstaan het. Glo word daar vermoed dat ’n sterk kragstroom daartoe gelei het dat elektriese bedrading vlamgevat het. ’n Ondersoek is steeds aan die gang.

Dunell van Rooyen
Verbrand en verlore - alles waarvoor sy so lank gewerk het. Foto: Verskaf
Dunell van Rooyen
Die woonstel is in puin gelê. Foto: Verskaf

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.