Delmarie se ma, Bianca van der Merwe (37), het Dinsdag aan Huisgenoot gesê sy het haar dogter vroeg Maandagoggend by die Hoërskool Driehoek afgelaai en nog nie weer met ’n oog gesien nie.

“Sy het die oggend haar 13-jarige sussies, my en my man gesoen en gedruk en toe is sy weg,” sê sy.

Die gesin woon in Vanderbijlpark in Gauteng. 

Bianca sê wanneer hulle nou terugdink, besef hulle dit was vreemd dat sy haar susters op so ’n wyse gegroet het, want dis iets wat sy nooit doen wanneer sy skool toe gaan nie.

“So ’n maand gelede het Delmarie my gevra wat ek sal doen as sy weghardloop,” vertel Bianca.

Bianca vertel haar dogter het Maandag ’n briefie by die huis gelos wat sê sy wil haar 'eie ding gaan doen', en sy sal laat weet wanneer sy veilig is.

Sy sê haar dogter het nog nooit voorheen probeer wegloop nie. 

Tania Opperman van die organisasie South African Support Initiative sê hulle het inligting gekry dat Delmarie moontlik met ’n ouer man op pad Kaap toe is, maar hoe betroubaar dié inligting is, is onseker. 

Sers. Gertrude Makhale, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van ’n vermiste persoon word ondersoek. Hulle vra dat enigiemand met inligting die Vanderbijlpark-polisiekantoor kontak.

Bianca doen ’n beroep op haar dogter om huis toe te kom.

“My kind, dit maak nie saak wat jy gedoen het nie. Kom net asseblief huis toe. Ons is lief vir jou. Sal vir altyd wees. Kom net huis toe,” sê sy in trane.

Foto: Verskaf
Enigiemand met inligting word gevra om asseblief die polisie te kontak.