’n Mens kan, of wil, amper nie vir haar kyk nie.

Die foto’s van die brose jong Nicolette du Toit (2) van Rustenburg se verskeurde gesiggie skok.

Haar ogies is albei potblou en haar bolip en tong is deurgeskeur toe haar oupa se staffordshireterriër, wat saam met haar grootgeword het, haar aan die gesig beetgekry het.

Maar Maandag, ses dae ná die voorval op Dinsdag 7 Mei, klink haar ma, Lize-Mari (25), rustig en in beheer.

Vir dié ma is die ergste skok intussen weg noudat sy weet haar klein Nieks, soos sy haar noem, gaan oukei wees.

“Ek was nie vier meter ver van haar af toe dit gebeur nie. Jy kan maar sê ek het my gat afgeskrik,” vertel Lize-Mari oor die voorval.

“Ek dink sy het maar nog baie seer, maar sy loop al weer oral rond; sy staan en gesels met ons, sy eet al kossies. Ons gee haar suikervrye sap en koeldrank om infeksie te voorkom,” vertel sy besorgd.

Lize-Mari vertel die dokters moes twee van Nicolette se botandjies in haar mond verwyder. Dit het in die voorval losgekom. Haar oë, kakebeen, neus en tandvleis (veral aan die linkerkant waar sy beetgekry is) is alles nog erg gekneus.

“Ons sal eers werklik die omvang van die skade kan bepaal wanneer die swelling gesak het, maar ons glo en vertrou sy sal volkome herstel. Ons sal ook later oor die moontlikheid van plastiese chirurgie praat, sou dit nodig wees.”

Lize-Mari vertel dit was ’n luilekker laat wintersmiddagkuier saam met die kinders by hul oupa se huis.

7 Mei

Nicolette het rustig op die gras sit en speel met haar oupa se staffie-tefie terwyl haar boetie, FW (4), saam met hul oupa geloop het om die hek te gaan oopmaak. Ook in die omgewing was haar oupa se staffie-reuntjie, wat as babahondjie saam met Nicolette grootgeword het.

“Die tefie was op hitte . . . Dít moes seker die waarskuwing gewees het . . . Ek weet nie. Dalk was die reuntjie jaloers op die aandag wat Nieks aan haar bestee het?”

Lize-Mari vertel sy het op daardie oomblik haar hande vol gehad. Sy was op haar selfoon besig om met haar man, Hanno (28), te praat om te sê hulle is op pad huis toe voor dit donker word.

“Ek het vir hom gesê ek moet aflui om die kinders en al hul goed in die kar te kry. Ek het nog nie eens afgelui nie, toe gebeur dit. My man, sou ek eers later uitvind, het alles aan die ander kant van die oproep hoor gebeur.”

Sy moes hulpeloos toekyk toe die hond sy kake in Nicolette se delikate gesiggie slaan. Hanno het magteloos gehoor hoe sy vrou en kinders gil en skree.

Waarskuwing: Fotos mag sensitiewe lesers ontstel

Nicolette kort ná die aanval. Foto verskaf
Nicolette kort ná die aanval. Foto verskaf
Haar ogies is albei potblou en haar bolip en tong
Haar ogies is albei potblou en haar bolip en tong is deurgeskeur toe haar oupa se staffie, wat saam met haar grootgeword het, haar aan die gesig gegryp het. Foto verskaf
Een van die mees onlangse foto's van Nicolette du
Een van die onlangsste foto's van Nicolette du Toit (2). Foto verskaf

“My pa het alles goed hanteer. Ek is ook 21 jaar gelede deur ’n hond gebyt. Hy was die een wat net koel en kalm gebly het.”

Die reun het dadelik gelos toe Lize-Mari vir hom skree, maar die bloed het uit haar kind se gesig gestroom.

“My pa het net gesê ek moenie vir haar kyk nie. Ek ly aan angs en hy was bang ek kry ’n angsaanval. Hy het gehelp om my en die kinders in die kar te laai en hospitaal toe te jaag.”

Hospitaal

Lize-Mari is vol lof vir die mediese personeel wat haar dogter dadelik bygestaan het voor sy later die aand ’n operasie ondergaan het.

Sy vertel hoewel haar pa koel en kalm was, het hy eindelik geknak toe hulle Nicolette by die teater instoot.

“My pa se hart is gebreek. Ek het daar inmekaar gestort en hy ook. Ons wou die hele tyd voor my seuntjie sterk bly en nie huil nie. Dit was ’n familiehond. Dit was nie sy skuld nie.

“Ons wil nie die hond doodmaak nie. Ons is diereliefhebbers. My pa oorweeg om die hond weg te stuur; dalk kan hy vir iets anders opgelei word?”

Lize-Mari sê sy weet nie hoe sy as ma dié tragiese voorval sou kon verhoed nie.

“Ek is nie een van daai helikoptermammas nie. Ja, ek probeer alles in my vermoë doen om my kinders te beskerm, maar ’n mens kan hulle net eenvoudig nie teen alles beskerm nie. Dalk as ek haar net in my arms gehou het . . .

Nicolette voor die aanval. Foto verskaf
Nicolette voor die aanval. Foto verskaf

“Maar ek is baie alleen met die kinders. Ek kan ook nie albei altyd in my arms vashou en alles doen nie. Al raad wat ek het as so iets gebeur, is om kalm te bly. Nicolette is so ’n gelukkige kind.

“Dis is asof ons dit baie erger vat as wat sy doen, maar ek dink sy kyk na ons en sien nie dat ons nie huil nie, want ons huil nie voor haar nie.”