Hayley Martin (30) het besluit om die grootste Kersgeskenk ooit te gee – die organe van haar ongebore baba vir ’n sterwende kind.

Die dapper ma van Hull in Oos-Yorkshire is met haar skandering op 20 weke ingelig haar baba gaan oomblikke ná haar geboorte sterf, berig Daily Mail.

Dokters het haar aangeraai om die swangerskap te beëindig om die trauma van ’n stilgeboorte te vermy, maar die vasbeslote ma en haar man, Scott, wil die baba voluit dra.

Die paartjie wil hul baba se organe skenk aan pasgebore babas wat ’n oorplanting benodig, berig Mirror.

Die kraamproses sal waarskynlik tydens die Kersweek by Hayley geïnduseer word en sy hoop haar baba se organe sal ’n lewe red.

Sy het ook beloof om ’n nier in haar baba – Ava-Joy – se naam te skenk sodra sy van die geboorte herstel het.

Hayley wil verhoed dat ander ouers deurmaak wat sy moet. “Ons kind gaan sterf ongeag wat gebeur, maar as ons kan probeer om iemand anders die hartseer te spaar wat ons moet deurmaak, sal dit die moeite werd wees.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar dit was die regte besluit, en het my gehelp om die hartseer te verwerk. ’n Deel van haar sal voortleef; sy sal nie heeltemal weg wees nie. Sy sal in iemand anders voortleef."

“Dis haar Kersgeskenk aan ander siek babas. En ek wil my nier skenk omdat Ava sonder niere gebore sal word. Ek wil een in haar eer skenk.”

Hayley en Scott is reeds die trotse ouers van drie kinders en was in die wolke toe hulle uitvind sy verwag hul vierde kind.

“Ek onthou ons eerste skandeerfoto en ons kon hierdie klein baba sien wat gelyk het asof dit wuif; dit was so mooi,” sê Hayley.

’n Skandering op 20 weke het gewys die kind sou nie die geboorte oorleef nie.

’n Seldsame genetiese afwyking, bilaterale renale agenesie, is by Ava-Joy gediagnoseer.

Dit beteken Ava-Joy het geen longe of blaas nie, en dis ongetwyfeld ’n dodelike toestand.

Al is sy sterk, erken Hayley dis ’n hartverskeurende gedagte om die baba te verloor.

“Ek probeer om so eerlik as moontlik te wees, en het ’n toespraak gereed, maar soms kan ek nie help om ineen te stort en te huil nie – veral as vreemdelinge my in die supermark of winkel gelukwens.”

Die Martins gaan ’n spesiale begrafnis hou vir die baba en het skarefinansiering gebruik om geld in te samel. 

“Ons wil vir haar wys hoe belangrik sy is,” sê Hayley.

“Ek sal nooit vir haar ’n verjaardag- of Kersgeskenk kan gee nie, al die dinge wat ’n ma moet kan doen; daarom is die begrafnis baie belangrik vir my.

“Ons wil tot siens sê op ’n manier wat weerspieël hoe spesiaal en gelief sy werklik is.”

Bronne: Daily Mail, Mirror, Metro