Maar Danielle Dick is 10 maande nadat sy die lewe aan ’n gesonde tweeling geskenk het weens melanoomkanker oorlede. 

Volgens Daily Mail was Danielle (32) in die eerste trimester van haar swangerskap toe sy erg hoofpyn ervaar het. 

Danielle, wat reeds die ma van ’n driejarige dogtertjie Taylor was, het dit afgemaak as “swangerskapbrein” tot die pyn so ondraaglik geword het dat sy skaars kon praat. 

“Die (swangerskapbrein) het vir ons sin gemaak,” het Danielle se man, Tyler Dick, aan TODAY gesê.

Maar dinge het vererger toe Danielle hospitaal toe geneem is nadat haar hoofpyn veroorsaak het dat sy glad nie kon praat nie.

Dokters het ’n MRB-skandering gedoen en ontdek Danielle van Kansas in Amerika het drie gewasse in haar brein en twee in haar maag, berig The Witchita Eagle.

Verdere toetse het gewys dis melanoom.

Dis nie die eerste keer dat Danielle teen die verpletterende siekte te staan gekom het nie. 

Tyler het in 2010 ’n kommerwekkende moesie op sy vrou se rug gesien en die paartjie het by ’n dermatoloog aangeklop wat gesê het dis niekwaadaardig.

Die moesie het egter teruggegroei en die paartjie het ’n tweede opinie gekry, berig Daily Mail.

Dié keer is ontdek die moesie is wel kankeragtig, en Danielle het laat in 2011 ’n operasie ondergaan om dit te laat verwyder. 

Ná vyf jaar van tweejaarlikse ondersoeke by die dermatoloog, is sy kankervry verklaar. 

In 2015 het sy en Tyler ’n dogtertjie, Taylor, gehad, en ’n jaar later het hulle nog goeie nuus gekry: Danielle verwag nie een nie, maar twee babas. 

“Daar is geen tweelinge in enige van ons se familie nie,” sê Tyler.

Die opwinding oor die swangerskap is egter bederf met nuus wat die gesin se lewe vir altyd sou verander. 

Volgens Daily Mail was Danielle 17 weke swanger toe dokters vir haar meedeel die melanoom is terug. 

Dokters het gesê sy het ’n 20%-kans op oorlewing in die volgende vyf jaar, mits sy dadelik met bestraling begin. 

Danielle het egter geweet dit sou haar ongebore kinders se dood veroorsaak en het geweier. Sy het vir klein Colby en Reagan gedra so lank as wat haar toestand toegelaat het. 

Klein Colby en Reagan. Foto: GoFundMe

Sy het in Julie verlede jaar die lewe geskenk aan die tweeling op 29 weke, met elke baba wat meer as 1,3 kg geweeg het. 

Danielle is op chemoterapiepille geplaas en het vier rondes bestraling ondergaan, maar dit het nie gewerk nie, en dokters het toe teikenterapie probeer. Dit was toe dat hulle sowat 20 nuwe gewasse in haar brein ontdek het. 

“Sy het nooit enige goeie nuus gekry nie. Elke keer wanneer sy dokter toe is, het sy die ergste nuus van haar lewe gekry,” vertel Tyler. Hy sê Danielle was regdeur haar beproewing positief. “Dit was net skokkend hoe hulle een kon laat krimp of weggaan en dan verskyn daar nog een.” 

Danielle het aan die begin van die jaar pyn in haar rug ervaar en haar hande het hul gevoel verloor. 

Daar is in toetse bevind die kanker het na haar rugmurg versprei. Dokters het haar in April aangeraai om na Houston, Texas, vir behandeling te gaan. ’n Kateter is in haar skedel geplaas om die chemoterapie direk in haar rugmurg te spuit. 

Maar dit was te laat.

“Sy het so siek begin word dat sy nie meer behandelings kon kry nie,” sê Tyler.

Sy is op 26 April in haar hospitaalbed in Houston dood, omring deur familie, berig Daily Mail.

Tyler sê hy is platgeslaan deur sy vrou se dood, maar om haar nagedagtenis lewend te hou, help hom om die verlies te verwerk.

“Sy het geglo dis belangrik dat mense na hul vel laat kyk. Sy was ’n paar keer op televisie en in die koerante en altyd met dieselfde boodskap: Laat jou te ondersoek. As haar kanker vroeg genoeg opgespoor was, sou ons dalk nie nou hier gewees het nie.”

’n GoFundMe-blad is begin om te help betaal vir die mediese rekeninge en daar is tot dusver R378 000 ingesamel. 

Bronne: Dailymail, Today, The Wichita Eagle