Die boelie het haar kind probeer versmoor deur ’n tou om hul nek te trek, hul gesig teen ’n sypaadjie gestamp en gekeer dat hulle pouse die badkamer gebruik. 

Dit is net drie van die redes waarom ’n besorgde ma besluit het om haar kind se een klasmaat by 'n verjaardagpartytjie uit te sluit, berig Daily Record.

Maar pleks van geprys word dat sy haar kind teen die boelie beskerm, het ander ma’s teen die ma uitgevaar omdat sy een kind uitsluit terwyl sy al die ander kinders na ’n verjaardagpartytjie nooi.

“Aan dié wat sê moet nooit enige kind by ’n klaspartytjie uitsluit nie, nie eens as hulle ’n boelie is nie: Julle is verkeerd,” skryf die anonieme ma op Mumsnet.

“My kind is so kwaai afgeknou van kleuterskool tot in die derde jaar op hoërskool, dat kinders geskors is en misdaadrekords vir ernstige aanranding en meer het.”

Die vrou vertel voorts hoe die voortdurende afknouery van haar kind begin het. 

“Dit het op kleuterskool begin met slaan, spoeg, stamp en niemand toelaat om met my kind te praat nie. Dit het toegeneem na my kind uitsluit en in die eetsaal van sitplekke afstamp.”

Maar dit het aansienlik vererger, berig Mirror.co.uk, en die verslae ma maak ’n skokkende onthulling. Toe vererger dit tot ’n aanval met ’n tou. Die betrokke kind was vier jaar oud en het ’n springtou om my kind se nek gesit, gesê hulle wil my kind doodmaak en het dit styf getrek.

“My kind het met merke aan die nek by die huis gekom. (My kind) is ook teen klipmure vasgedruk sodat (my kind) skrape aan die rug en gesig gehad het.”

Die ma het hulpeloos gevoel en besluit om haar kind uit die skool te haal. 

Dit het beter gegaan tot die boelie en slagoffer dieselfde hoërskool begin bywoon het. 

Die boelie was ouer maar nie wyser nie, en het die teistering voortgesit. 

“My kind se gesig teen die sypaadjie stamp en dit op video neem en dit op Facebook en SnapChat sit. Weier om my kind pouse of middagete by die toilette te laat ingaan. My kind buite die skool aanval en slaan en skop (weer op video geneem)."

“Nie my kind laat middagete eet nie; opsetlik hul middagete vernietig. My kind op video opneem terwyl hulle vir liggaamsoefeninge aantrek en dit op Snapchat deel. My kind seksueel aanrand en dit op Snapchat plaas.

“Vele pogings om my kind aan die brand te steek met ’n vlamgooier wat van ’n blik deodorant en aansteker geprakseer is (op kringtelevisie).”

En vir diegene wat wonder wat die radelose ma oor die voortslepende mishandeling gedoen het, het sy dit om by te voeg: “Ja, ons het na die polisie gegaan. Ons het met die skool saamgewerk. Ja, dit is deur die regstelsel en, ja, mense is verantwoordelik gehou, maar asseblief.”

Ná die lyding wat haar kind moes verduur, is sy nie van plan om die skuldige naby haar kind toe te laat nie. 

“Moenie vir my sê geen kind moet by ’n partytjie uitgesluit word nie. Ek sou geensins my kind se boelie langs of naby hulle toelaat nie.”

Ondanks die ma se hartseer storie, het ander vroue steeds teen haar uitgevaar. Een het selfs simpatie vir die boelie uitgespreek.

“Sekerlik is die antwoord om van skool te verander eerder as om jou met partytjie-uitnodigings te bemoei?” vra een.

En skokkend genoeg voeg ’n ander by: “Ek sou net nie met opset een kind by ’n hele klaspartytjie uitgesluit het nie, wat hulle ook al gedoen het. Ons praat hier van kinders van laerskoolouderdom en, of jy nou daarvan hou of nie, boelies het dikwels self gely of ly steeds. Ek is nie te sag daaroor nie. As ek daardie ma was, sou ek briesend gewees het, maar ek sou steeds nie net een uitgesluit het nie.”

Maar die slagoffer se ma hou voet by stuk. 

“Ek sal nooit die kind wat myne geboelie het op ’n partytjie wil hê nie. Nooit.”

Bronne: mirror.co.uk, herfamily.ie, dailyrecord.co.uk