Einde verlede jaar het April Lane (39), van Massachusetts, besluit om ’n skenker te word sodat die ontvanger ’n kind sou kon verwek en dra, berig Pop Sugar

“Onvrugbaarheid raak jou regtig geweldig – emosioneel en sosiaal,” sê April. “As ek ’n bietjie daarvan vir een mens kon verlig, sou ek.” 

“Onverklaarde onvrugbaarheid” is by April en haar man, Brian, gediagnoseer en hulle het jare gesukkel om deur middel van in vitro-bevrugting (IVB) swanger te raak.  

Die egpaar het ’n seun aangeneem, maar April het verbasend genoeg net 13 maande later swanger geraak en ’n seun gehad, berig Good Morning America

Ná 10 rondes IVB het hulle ook tweelingdogters gehad en ’n jaar later het hul derde dogter gekom. 

Nadat sy by steungroepe vir onvrugbaarheid aangesluit en vir vroue se vrugbaarheidsbehandelings betaal het, het April gehoor die Baylor-universiteit se mediese sentrum in Dalls voer kliniese proefnemings vir baarmoederoorplantings uit en het besluit om betrokke te raak. 

 “Ek en my man het albei gevoel ons gesinsbou is afgehandel, maar ons was nie noodwendig klaar met ’n gesin vir iemand anders bou nie, het April aan Scary Mommy gesê.

“Ons het taamlik vinnig nadat ek die oproep gekry het geweet ek sou dit doen.”

April, wat vir ’n biotegnologie-maatskappy werk, het ’n operasie van 15 uur ondergaan om haar baarmoeder te verwyder, wat toe vir ’n anonieme skenker geskik was. 

“Haar storie is opsigself ongelooflik, want sy was een van die vroue wat, toe sy nie kon kinders hê nie, opsies gekies het wat vroue voor baarmoederoorplantings gehad het,” sê April se dokter,  Liza Johannesson.

“Sy ken die stryd wat die vroue ervaar maar alte goed. Baie van die vroue ontmoet agterna en hulle vorm ongelooflike bande.”  

April was vyf dae in ’n hospitaal in Dallas voor sy huis toe gevlieg het. 

“As ek net een gesin kon help, dis vir my helend,” sê sy. 

“Die operasie is van korte duur, maar my ontvanger dink haar lewe lank sy kan nie kinders dra nie. Vir agt weke se sleg voel, is dit die moeite werd.” 

Bronne: Pop Sugar, Good Morning America, Scary Mommy