Thea en haar Ger – soos sy haar seun noem – in die
Thea en haar Ger – soos sy haar seun noem – in die jare voor die moord. Sy sê sy is dankbaar dat geregtigheid nou gaan geskied en haar seun nie meer hoef te vlug nie. Foto verskaf

Sy het nagte lank getreur oor alles wat van haar weggeruk is – haar geliefde man en sielsgenoot deur die dood, haar dogter en haar kleinseun, albei deur selfdood, en haar seun wat sy laas in ’n gevangenis in Brasilië gesien het.

“Ek het God bly smeek om hom terug te bring,” sê Thea Pretorius. Selfs al het sy geweet haar seun, Gerhard Janse van Vuuren (39), sou dan in die hof moes teregstaan vir die wrede moord op sy eksmeisie, Andrea Venter (24), wat in 2011 met ’n vuisyster aangerand en met ’n knipmes doodgesteek is. 

Hy is destyds van die moord op Andrea aangekla, maar het landuit gevlug nadat hy borgtog gekry het.

Thea glimlag wrang. Die lyne van smart is diep om haar mondhoeke gekeep. “Ek het geweet die lewe kan nooit weer wees soos dit was nie – selfs al boet my kind. Dalk het ek gesmag na iets wat aan my ou lewe herinner het . . .

“Ek het nagte lank die Here bly vra: ‘Hoekom is alles van my gestroop – was dit ék?’ Was ek ’n slegte vrou? ’n Selfs slegter ma?” vertel Thea van haar smeekgebede op haar knieë op ’n teëlvloer.

Maar nou is haar gebed verhoor om haar seun weer te sien. Gerhard is op 18 Junie vanjaar in Rio de Janeiro, Brasilië, aangekeer vir uitlewering aan Suid-Afrika. Hy het vroeër twee jaar gevangenisstraf vir die vervalsing van reisdokumente in dié land uitgedien. Op 9 Oktober het Interpol hom aan die Suid-Afrikaanse polisie oorhandig en hy sal nou hier verhoor word vir die moord op Andrea.

Die naweek voor sy eerste verskyning op 12 Oktober in die hooggeregshof in Johannesburg het sy ma hom by die Johannesburg Sentraal-gevangenis gaan besoek. Dit was die eerste keer in sewe jaar dat sy hom gesien het.

Nadat Gerhard Janse van Vuuren aan Suid-Afrika uitgelewer is, het sy ma, Thea Pretorius, hoop op vrede. Foto: Gallo Images/Media24/Luba Lesolle
Nadat Gerhard Janse van Vuuren aan Suid-Afrika uitgelewer is, het sy ma, Thea Pretorius, hoop op vrede. Foto: Gallo Images/Media24/Luba Lesolle

“Ek het eers langer as ’n uur in my motor my huil sit en uithuil, want ek wou nie voor hom huil nie,” vertel sy.

Met hul herontmoeting waarop sy so lank gebid en gehoop het, het hy vir haar na ’n “totaal ander mens” gelyk. “Hy was my seun – o, ja, dit kon ek sien. Hy was tenger en ouer. Die jare het aan hom gevat.”

Omdat dit ’n geenkontakbesoek was, kon sy hom nie teen haar vasdruk nie.

Tog was dit ’n blye weersiens en het hulle vir mekaar geglimlag. Hy het gesê: “Hallo, ma,” en sy moes swaar sluk aan die trane.

“Maar hy was nie meer die bultende spierpaleis wat hy as ’n jong man was nie, die seun wat ek met hierdie twee hande grootgemaak het,” sê Thea en strek haar hande voor haar uit hier in ’n koffiewinkel in haar tuisdorp, Potchefstroom.

“Weet jy wat is die ergste?” sê-vra sy en loer oor haar pienk melkskommel.

Dan antwoord sy self: “Die oordeel en houe wat ’n ouer van so ’n kind ontvang. Dis genadeloos. Wat moet ek doen? Ophou om sy ma te wees? 

“Ek kan nie, ek wil nie. Want selfs die rou smart; selfs die woede en verwyte verander niks nie. Ek blý sy ma, hy bly my seun.” 

Gerhard het voor die verhoor vir die moord op Andrea Venter landuit gevlug. Felix Dlangamandla
Gerhard het voor die verhoor vir die moord op Andrea Venter landuit gevlug. Felix Dlangamandla

‘Mamma, ek moes hulp gekry het . . .’

Die fyn vroutjie kan haar afgematheid nie verskans nie – haar oë is pofferig en rooi; haar handpalms natgesweet. 

Die laaste week se gebeure spook by haar, sê Thea. Oor en oor maal Gerhard se woorde in haar kop . . . 

“Hy het my in die oë gekyk en gesê: ‘Mamma was reg . . . Ek móés hulp gekry het. Ek wens ek het. Ek wens ek kon die tyd terugdraai.’ ” 

Sy het haarself jare lank verwyt oor die “seer in haar familie”, bieg Thea. Haar dogter, Yvonne (toe 19), het in 1997 haar eie lewe geneem en ’n seuntjie, Gavin (toe 3), agtergelaat. Thea het hom as haar eie grootgemaak, maar in 2010 het ook hy sy jong lewe beëindig.

Net ’n halfjaar later het ’n wrede moord die land met afgryse vervul. Andrea Venter, ’n jong rekenmeester, is op die aand van 2 Mei 2011 buite haar woonstel in Lonehill, Johannesburg, oorrompel en met ’n vuisyster aangerand. Sy het probeer weghardloop, maar is 14 keer met ’n mes gesteek voor haar aanvaller sy eie keel probeer sny het.

Die volgende oggend het Thea die oproep van ’n familielid gekry wat haar lewe om haar sou laat inplof. “Ek onthou hoe alles om my swart geword het; hoe ek nie kon glo wat sy vir my sê nie: Gerhard is in aanhouding; die polisie glo hy het Andrea vermoor.” 

Thea het geweet die laaste maande van die jong paartjie se verhouding was onstuimig. Andrea het die verhouding met Gerhard vroeg in 2011 verbreek.

“Andrea het my een naweek gebel en gesê sy gaan ’n interdik teen Gerhard kry,” vertel Thea. “Sy het gesê Gerhard het haar rondgepluk. Ek was kwaad en ontsteld. My woorde aan haar was: ‘Andrea, bly weg van hom tot hy hulp gekry het.’ ” 

Dit was die laaste wat sy met Andrea gepraat het. Thea huiwer eers, maar sê dan tog: “Gerhard het in ’n gebroke huis grootgeword; die detail daarvan is onbelangrik. Dat hy van moord beskuldig word, skeur ’n ma stukkend – ’n ma wat nog onthou hoeveel drome en planne hy as ’n jong man vir die lewe beraam het.” 

’n Enkele ligpunt in dié donker tyd was die geboorte van sy tweeling by ’n vrou met wie hy ná die moord op Andrea ’n verhouding gehad het.

“Dit was soos ’n stukkie genade van Bo,” onthou Thea en glimlag die eerste keer. “Ons was stukkend en kwaad, veral die ma van sy kinders. Gerhard het sy ware identiteit vir haar verbloem en toe gevlug terwyl sy hoogswanger was. Maar uit die seer en die leuens en die donkerte het ons hierdie twee perfekte kindertjies gekry. Hulle was God se geskenk aan ons.”

Die kinders het ’n jaar saam met hul ma by Thea gewoon. Toe sy Gerhard in 2014 in die gevangenis in Brasilië besoek het, het sy vir hom foto’s van sy kinders gewys.

Maar daar was geen oproepe na ouma toe nie; geen foto’s van die kinders nie. Lag hulle nog so mooi? Onthou hulle nog hul ouma? Dis asof iemand ’n stuk van my hart uitgeruk het.

“Ek sal nooit die seer in sy oë vergeet nie . . . Daardie seer wat sê ek sal my kinders nooit sien grootword nie; hulle nooit vashou nie. En dit deur sy eie toedoen.” 

’n Jaar later het die tweeling se ma besluit om weg te trek.

“Sy wou die kinders beskerm,” verduidelik Thea. “Sy wou nie konstant herinner word aan wie hul pa is nie; aan hoeveel seer hy veroorsaak het nie. Ek het ’n nuwe begin vir haar gegun. 

“Maar daar was geen oproepe na ouma toe nie; geen foto’s van die kinders nie. Lag hulle nog so mooi? Onthou hulle nog hul ouma? Dis asof iemand ’n stuk van my hart uitgeruk het.” 

Thea sê sy het net-net van dié slag herstel, toe haar man, Leon Pretorius (49), Gerhard se stiefpa, in 2016 skielik weens ’n hartaanval sterf.

“Ek het álles verloor,” sê sy, en die trane stroom oor haar wange. “Daar was niemand oor nie, en by tye het dit gevoel asof daar ook van my niks oor is nie.” 

Daarom het sy in 2016 al haar besittings verkoop en ’n jaar by ’n sendingstasie in die Kalahari gaan werk. “Ek het gaan soek na die Here; na antwoorde; na vrede – en ook na myself,” vertel sy. 

Daar hét sy vrede gevind, sê Thea skor. “Maar die seer en die verlange is blywend.”

Sy het twee jaar gelede na Potchefstroom teruggekeer waar sy die eensaamheid verdryf deur as ’n vrywilliger by ’n tehuis vir bejaardes te help.

‘Ek sal dalk nooit my kleinkinders ken nie’

Die ouma wat reeds die seer ken van kleinkinders wat plotseling uit jou lewe verdwyn, het pas ontdek sy het weer ouma geword – van ’n babadogtertjie in Brasilië.

Tydens haar besoek in die gevangenis het Gerhard haar “met trots” van die kleinding vertel, en van sy liefde vir haar.

“ ’n Mens kan jou nie indink dat jy jou kleinkind vir die eerste keer op ’n foto op ’n selfoon sal sien nie. Sy het nou die dag een geword en is ’n skattige dingetjie met groot ogies,” vertel Thea trots.

Maar of sy ooit dié kleinkind sal ontmoet, weet sy nie.

“Ek het nou kontak met die ma. Ek weet nie of Gerhard met haar oop kaarte gespeel het nie. Al wat ek weet, is dat sy tot dusver nog geen planne het om Suid-Afrika toe te kom nie. 

“Ek sal waarskynlik nooit weer ouma genoem word nie. Ek sal dalk nooit my kleinkinders leer ken nie. Ek sal hulle nooit vashou of soen of hul kinderlaggies hoor nie. En dít breek my hart.”

Gerhard is in Junie in Brasilië vasgetrek. Foto: YouTube/Interpol
Gerhard is in Junie in Brasilië vasgetrek. Foto: YouTube/Interpol

Al is die dae sonder haar geliefdes vir haar lank en moeilik, voel dit vir haar asof sy die eerste keer in jare weer werklik kan asemhaal. 

“Ja, ek het alles verloor – selfs die voorreg om ’n ouma te wees – maar vir die eerste keer lyk dit of die nagmerrie ’n einde gaan kry.” 

Sy is “dankbaar” daar gaan vir Andrea se familie “die geregtigheid wees waarna hulle so lank gehunker het”, sê Thea.

Ná die dood van haar eie dogter weet sy hoe dit voel om ’n kind te verloor, sê Thea. Daarom kon sy aanvanklik nie Andrea se ouers, Dries en Annatjie Venter, “in die oë kyk nie,” verduidelik sy. “Ek was stukkend – wat hulle moes deurmaak, kan ek my nie eens indink nie.”

Annatjie is intussen oorlede, maar aan die begin van die jaar het Thea Dries in Rustenburg gaan besoek om sy vergifnis te vra en is vriendelik ontvang. 

Sy weet nie wat om van die komende maande se moordsaak teen haar seun te verwag nie.

Hy is my kind. Ek kan hom nie weggooi nie. ’n Ma se liefde is nie iets wat jy soos ’n skakelaar kan afsit nie. Dis blywend, ongeag die pyn.

“Ek is verlig, want vir Gerhard gaan dit die einde wees. Hy hoef nie meer te hardloop en oor sy skouer te kyk nie. Hy kan sy straf uitdien en dan aan ’n nuwe lewe probeer bou.”

En sy ma sal hom help en ondersteun waar sy kan.

“Jy wil seker weet of ek nog lief is vir hom,” sê-vra Thea dan. “Die antwoord is ja – hy is my kind. Ek kan hom nie weggooi nie. ’n Ma se liefde is nie iets wat jy soos ’n skakelaar kan afsit nie. Dis blywend, ongeag die pyn.” 

Met haar lang verlore seun terug in die land, is haar grootste wens om weer ’n ouma vir haar kleinkinders te kan wees . . . 

“As ek so vermetel mag wees om vir God nog één ding te vra, is dit om hulle weer in my arms te hê. Om hul sorgvrye laggies te hoor, om deel van hul lewe te wees. Maar as dit nié gebeur nie – as ek hulle nooit weer sien nie – hoop ek God maak hierdie ouma se stukkende hart weer heel.” 

  • Die saak teen Gerhard Janse van Vuuren is tot November uitgestel. Hy word aangekla van die moord op Andrea Venter, asook van aanranding op Thulani Ndlovu, ’n veiligheidswag by haar woonkompleks.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe