Haar seun, Wynandt, wat sy in Julie uit ’n vlammehel gered het, word Saterdag 15 jaar oud.

“Ses maande ná sy 14de verjaardag het die lewe vir ons ’n curve ball gegooi,” vertel Lelani aan huisgenoot.com.

“Toe hy daar in die ICU met brandwonde oor 60 persent van sy lyfie vir sy lewe geveg het, het ons nie gedink hy sal sy volgende verjaardag haal nie,” onthou sy.

Uit die vlamme en roet wat hul huurhuis in Boston, Kaapstad, op die oggend van 7 Julie met die meeste van hul besittings verwoes het, het ’n feniks van hoop opgestyg uit die as om die Vermaak-gesin op wiele van goedertierenheid deur hierdie moeilike tyd te dra.

“Elke dag sedert die brand het ons ’n wonderwerk ervaar,” vertel Morné Vermaak, Wynandt se stiefpa wat ook in die huis was tydens die brand. Lelani het ook erge brandwonde aan haar voete en hande opgedoen toe sy vir Wynandt en sy sesjarige sussie, McKenzie, uit die brandende huis gered het.

Wynandt se deursettingsvermoë en positiwiteit deur al die seer, het hom die bynaam van “Yster Kiddo” gegee. “Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat een van my vriendinne vir hom ’n koek met Iron Man op gaan bak vir sy verjaardag,” sê Lelani.

Hulle gaan vir hom ’n partytjie by hul nuwe huis in Bo-Oakdale, Bellville, hou. “Hy wil graag die dag deel met sy maats by die huis en mense wat ons deur hierdie moeilike tyd gedra het,” voeg Lelani by.

“Dit gaan baie goed met hom, ek dink omdat daar so baie vel so mooi genees het en na normale vel lyk. Hy slaap beter, het ’n goeie eetlus en groei goed,” sê sy. Maandag moet hy ingaan vir moontlike longfunksie-toetse en MRI-skanderings om seker te maak alles vorder. Op 31 Januarie gaan hy na sy plastiese chirurg om te kyk watter nodige moet volgende gedoen word.

Wynandt het vir Kersfees ’n nuwe krieketkolf gekry, want syne is saam met die huis in vlamme op. Hy kan nie wag om op 17 Januarie terug te keer skool toe na die Hoërskool DF Malan om veral so vinnig moontlik weer krieket en rugby te speel nie.

“Die afrigter gaan kyk of hy by die vervaardiger spesiale padding kan kry vir onder sy rugbytrui sodat hy weer kan speel," vertel Wynandt se ma. “Sy positiwiteit bemoedig ons almal," vertel sy trots.