Sy sal dalk nooit kan hardloop of dans nie, maar haar ma glo sy kan baie uitdruk met net haar oë.  

Florence McNicoll se stadige ontwikkeling het Caroline paniekerig gemaak toe die baba nie die gewone mylpale op sewe maande behaal nie. 

Dokters het eindelik ’n seldsame en ongeneeslike neurologiese afwyking soortgelyk aan serebrale verlamming by die tweejarige gediagnoseer. Die nuus het Caroline (33) en Al McNicoll (34), ouers van drie kinders van Oxford, verpletter. 

’n Hartseer Caroline hou haarself aan die gang deur te glo Flo het die vermoë om ’n duisend woorde met haar oë te sê.

“Sy is baie slim en sy het ’n heeltemal normale vlak van begrip, maar sy kan nie praat nie. Sy probeer, maar sy is wonderlik met kommunikeer met haar oë. Sy het ’n boek waardeur sy kan kyk om vir jou te sê wat sy wil hê en sy is baie uitdrukkingsvol. Sy sal vir jou hierdie kyke gee wat boekdele spreek en sy het ’n goeie sin vir humor,” sê Caroline.

Flo het so ’n uitdrukkingsvolle gesig en ondeunde humorsin dat haar broer, Élysée (8), en suster, Poppy (6), en almal wat sy ontmoet, “gaande is” oor haar.

En die kleuter se vasbeslotendheid ondanks haar gestremdhede het haar familie laat besef jy hoef nie produktief te wees om ’n nuttige deel van die samelewing te wees nie, want Flo bring vreugde waar sy ook al gaan. 

Al het sy ’n heeltemal normale swangerskap gehad, het die kerk-vrywilliger Caroline en assistant-pastoor Al begin paniekerig raak toe Flo teen Kersfees 2015 nog nie kon regop sit, kruip of brabbel nie. 

Caroline, ‘n voltydse ma, sê: “Flo se toestand beteken sy kan glad nie self beweeg nie. As jy haar iewers neersit, sal sy presies bly waar jy haar gelos het.

“Sy het ook beperkte fyn motoriese (vaardighede) en kan nie goed optel nie, maar as jy vir haar ’n lepel ontbytpap gee, kry sy dit dalk tot in haar mond. Sommige dae is ’n groter stryd as ander.”

Ná ’n besoek aan hul huisdokter het die gesin met ’n “emosioneel uitputtende” reis van fisioterapie, bloedtoetse, MRI’s en neurologiese skanderings begin voor statiese dismiëlinerende steuring by Flo gediagnoseer is. 

“Toe ons eindelik ’n diagnose kry, was ons net verlig dat ons ’n antwoord gehad het en met ons lewe kon begin aangaan. Ons is baie bly dit is nie progressief of lewensgevaarlik nie. Dit is dalk nie wat ons vir ons dogtertjie verwag het nie, maar jy vat die lewe soos dit kom."

 “Ons het drie wonderlike kinders en sou Flo nie meer of enigsins minder lief gehad het as sy gesonder was nie.”