Sy het haar sonskynkind al hoeveel kere teen die nou reeds berugte Brits-familie* gewaarsku, vertel Anika van Wyk* van Noordwes. Wees versigtig, het sy gemaan. Moenie te naby hulle kom nie, sou sy waarsku. Dit het keer op keer op dowe ore geval. 

Toe die dag eindelik aanbreek dat haar dogter, Bonita Vermaak (18)*, se oë oopgaan, was dit te laat. Op daardie dag het sy vanuit die beskuldigdebank in die landdroshof op Brits vir haar ma gefluister: “Mammie, my oë het nou oopgegaan.”

Saam met Bonita in die beskuldigdebank was haar kêrel, Erick Brits*, dié se pa, Pieter*, en vier ander mans. Hulle word saam aangekla van die opspraakwekkende Mooinooi-moorde en sal verhoor word op aanklagte van menseroof, roof, verkragting en moord nadat die egpaar Anisha en Joey van Niekerk verlede maand raaiselagtig op dié dorp verdwyn en na bewering gemartel en vermoor is.

Op 5 Januarie het die 44-jarige Anika ’n saamrygeleentheid na Brits gekry vir Bonita se hofverskyning. Sy het haar dogter nege dae tevore laas gesien toe die polisie haar en Erick by Anika se huis kom aankeer het in verband met die moorde wat die land geruk het.

Anika moes haar pad oopveg deur die plakkaatswaaiende betogers buite Brits se landdroshof. Binne die hofsaal het Bonita in die beskuldigdebank omgekyk tot sy haar ma se oog gevang het.

“Sy wou in trane uitbars. Ek het vir haar gesê sy moet kalm bly; sy moet sterk staan en bid,” vertel Anika, merkbaar moeg en ontsteld ná die drama van die laaste weke.

Joey en Anisha van Niekerk se huis op hul kleinhoewe op Mooi­nooi in Noordwes.

“Sy is so ’n liefdevolle kind. Sy sal nie ’n vlieg seermaak nie,” sê Anika, laat sak haar kop en huil saggies in haar hande. Bonita was 16 en op skool in Rustenburg toe sy op Erick (nou 29) verlief raak. Hy is 11 jaar ouer as sy.

“Op laerskool was sy my sonskynkind. Sy het diep in die 70’s en 80’s gekry. Ek en sy is baie close; haar pa het lang ure gewerk. Drie jaar gelede is hy oorlede en dit het haar erg gevang. Sy was baie emosioneel – en toe kom Erick,” vertel Anika.

Anika het eers gedink die man met die warm glimlag sal goed na haar dogter kyk. “Aan die begin was hy baie nice.” Maar sy het gou begin glo hy manipuleer haar dogter en het haar verkul.

Bonita wou egter niks van haar ma se waarskuwings weet nie en het later selfs op Mooinooi op ’n kleinhoewe by die Brits-familie gaan woon. Daar het Erick saam met sy pa, dié se vrou, Valerie (21), en hul driejarige kleuter gebly. Die Britse se huis is skaars 15 km van die Van Niekerks se kleinhoewe, waar Pieter sy paneelkloppersaak op hul erf bedryf het.

Hoe haar dogter na bewering by Joey en Anisha se dood betrokke kon wees, weet Anika nie. Vir eers het sy net een wens: om by haar kind uit te kom in die sel om die storie uit haar mond te hoor.

“Sy sal met my praat. Ek wil net by haar hoor,” sê sy tussen die snikke deur.

Die ma sê sy voel mag­teloos; sy kon haar dogter nog net vlug­tig sien.

Dit was ’n paar dae voor Kersfees toe Bonita en Erick by Anika se huis in Rustenburg opdaag om “Kersfees saam te vier”, vertel Anika.

“Ek het my dogter ses maande tevore laas gesien en was baie bly dat sy kom kuier.”

Volgens haar was daar niks aan Bonita en Erick se gedrag wat haar laat dink het alles is dalk nie pluis nie. Maar toe, drie dae ná Kersfees, daag die polisie by haar huis op. En toe hulle vertrek, is dit met haar “sagmoedige kind” voor in die vangwa en Erick agterin.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie,” vertel Anika.

Erick se pa, Pieter (52), was toe reeds op 12 Desember in hegtenis geneem, waarna nog vyf beskuldigdes aangekeer is, onder wie Valerie, sy vrou, wat haar op 14 Januarie aan die polisie oorgegee het. Die groep word daarvan aangekla dat hulle verantwoordelik was vir die verdwyning en dood van die Van Niekerks.

Ek dink nie sy het altyd vir my gesê hoe dit regtig gaan nie.

Anisha en Joey sou op 10 Desember na Pretoria gery het om begrafnisreëlings te tref vir Joey se pa, wat kort tevore oorlede is. Maar hulle het nooit daar uitgekom nie en die volgende dag het hul families die egpaar as vermis aangemeld.

Die staat beweer die beskuldigdes het die twee vroue uit hul opstal buite Mooinooi ontvoer, gemartel, herhaaldelik verkrag, doodgeskiet en hul lyke verbrand. Die slagoffers se uitgebrande motor is naby Magaliesburg gekry, en einde Desember is ’n sak met beendere en weefsel langs die R104 naby Rustenburg gekry.

Die polisie vermoed die sak bevat Anisha en Joey se oorskot, maar wag nog op DNS-uitslae om dit te bevestig, het ao. Mpeila Talane van die Noordwes-polisie kort voor ons druktyd gesê.

Anika lyk verslae toe sy vertel van die gebeure wat haar dogter se lewe ontspoor het.

Warm woorde in die ma se kombuis.

“Bonita en Erick het eers elders saamgewoon, maar Pieter het Erick oorreed om by hom in te trek,” vertel sy. Sy ken Pieter-hulle maar te goed, want sy het in ’n stadium ook sowat ’n jaar in ’n aparte huis op dieselfde werf op Mooinooi gewoon.

Sy sê vandag sy was lankal bekommerd oor Bonita – nie net omdat sy geweet het die Britse se plek is vuil en vervalle nie, maar omdat sy geglo het haar dogter word emosioneel deur hulle mishandel.

'Hulle was lelik met haar'

“Hulle het haar Dikgat genoem. Hulle was lelik met haar. Ek dink nie sy het altyd vir my gesê hoe dit regtig gaan nie,” sê Anika.

“Erick het eendag teenoor my erken hy het Bonita geklap. Hy het baie gedrink en dan ’n ander mens geword.”

Sy vryf senuagtig oor haar kop en vertel sy is bang iemand in die Britse se kring sal haar en haar dogter leed aandoen. “Asseblief, moenie foto’s van my neem nie. Ek wil nie hê hulle moet weet hoe ek lyk nie.”

Die honde blaf buite en sy staan op om deur die venster te loer. “Ek is so bang . . .”

Anika glo vas Bonita is onskuldig. “Almal op die dorp skinder. Ek het darem een vriendin wat my ondersteun en ook vir my kind bid,” sê sy.

Sy het dae ­aaneen aan dié beertjie gebrei en hoop om dit binnekort self vir haar dogter te gee.

“Ek weet nie wat verkeerd geloop het nie, maar ons sal oorleef.”

Sy glimlag vir die eerste keer terwyl sy praat oor die “goeie ou dae” toe haar kind haar gehelp het om koeke en terte te bak vir ’n geldjie.

“Sy was altyd so hulpvaardig en pligsgetrou. As 11-jarige kind sou sy al sê: ‘Mamma, ek sal vanaand kos maak; jy kan rus.’ Sy is ook so lief vir diere.”

Sy bly stil en trommel met haar vingers op die kombuistafel. Daar is gaatjies in die plastiektafeldoek gebrand. Op ’n kas staan ’n ornament met die woorde: “Ma se kombuis. Kinders eet verniet . . .”

Sy wil so graag weer haar dogter vashou.

Sy staan op en gaan haal ’n pers beertjie wat sy vir haar dogter gebrei het. “Haar gunstelingkleur is pers. Ek wil dit vir haar gee wanneer ek haar weer sien.”

Sy wil so graag weer ’n normale gesinslewe hê, haar dogter vashou en saam met haar bid. Die Rustenburgse son bak die kombuis warm. Anika se trane meng met die sweet op haar bolip. Ná nog ’n stilte sug sy en sê: “Ek haat die Britse . . . almal van hulle.”

* Skuilname is gebruik omdat die beskuldigdes van verkragting aangekla is, maar nog nie gepleit het nie. Landdros Semakaleng Thamage het in die hof benadruk die beskuldigdes mag tot dan nie geïdentifiseer word nie.

Pieter en Erick se prokureur, Pontsho Raikane, het teen druktyd nie op die bewerings teen hulle gereageer nie.