“Sy was my beste vriendin. Ons het alles saam gedoen,” het Lina Thibane (33), ma van Angel Masego, 'n gr. 6-leerling van die Doornpoort Primary School in Pretoria-Noord, aan Pretoria News gesê. 

Haar dogter sal Saterdag begrawe word.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die departement van onderwys, word al die omstandighede en bewerings rondom die meisie se dood ondersoek. “ 'n Ondersoek is geloods en sal fokus op almal wat geïmpliseer is,” het hy Vrydag aan Huisgenoot gesê.

Die departement het vroeër bevestig ’n gr. 7-leerling het die Donderdag, Valentynsdag, gedreig om die materiaal waarin die meisie kaal verskyn, te versprei. Mabona het toe aan Netwerk24 gesê die meisie het Maandag haar eie lewe geneem voor die partye deur die skool bymekaargebring kon word. 

Intussen het die departement traumaberaders na die skool ontbied.

Volgens Pretoria News het die meisie die Donderdag ’n Please Call Me aan haar ma gestuur om haar by die skool te kom haal. Sy was glo bang die dreigement word uitgevoer. Sy het glo dieselfde dag ook die voorval by 'n onderwyser gerapporteer.

Die ma se susters het aan die publikasie gesê sy het die Vrydag geweier om skool toe te gaan. Die naweek het hulle gehoor die video het op Facebook en WhatsApp beland.

Die Maandagoggend om 05:00 het Angel haar ma vertel sy was vreesbevange om skool toe te gaan. Haar ma het die skoolhoof gaan spreek. Dié het gesê sy sal die kwessie opneem wanneer albei leerlinge by die skool is. Daardie middag het haar ma verskeie kere by haar kamer ingeloer om seker te maak sy is oukei. Later die middag het sy op haar afgekom waar sy buite haar eie lewe geneem het. 

Mabona sê die stappe wat geneem gaan word, berus op die uitkoms van die ondersoek.

  • Bel die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep se krisislyn by 0800-567-567, of besoek www.sadag.org vir meer inligting of hulp.