So vertel ’n emosionele ma van Pretoria nadat die lyk van haar vermiste seun, Antonie Botha, die naweek by die “God is Groot”-klipteken in Amandasig gevind is.

“Hy het homself naby die klipletters aan ’n boom gehang,” het Lea Minaar telefonies Woensdagoggend aan Huisgenoot.com gesê.

Daar is ook ’n selfdoodbriefie met sy ma se nommer daarop geskryf op die toneel gevind.

Ja, hy was ’n mooi man, maar ongelukkig kan mooi mans ook breek

“Maar ek weet nog nie wat daarin staan nie, want hulle (polisie) het dit nog nie vir my gebring nie.”

Antonie Botha (31) het omstreeks etenstyd op 17 Mei spoorloos verdwyn in die Montana-omgewing in Pretoria. Net sy motor en klere is agtergelaat.

“Die polisie het my Sondagmiddag laat weet hulle het sy lyk gevind. Tekens op die toneel dui daarop dat hy reeds die dag van sy verdwyning selfdood gepleeg het.

“Ek is bitter hartseer. Ek het nagte wakker gelê en gewonder waar hy is, of hy koud kry en of hy honger en dors is.

“Ja, hy was ’n mooi man, maar ongelukkig kan mooi mans ook breek.”

Daar is nog geen begrafnisreëlings getref nie.