Mariandra en Jonas Nilsson (34), ’n Sweedse aktivis, het mekaar ontmoet toe hy besig was om ’n dokumentêr oor plaasmoorde in die land te maak.

Hy het haar verlede Donderdag, na net nege maande saam, voor honderde mense verras deur haar te vra om sy vrou te wees. Sy sê aan Huisgenoot.com sy was heeltemal uit die veld geslaan, maar is gereed vir die nuwe hoofstuk in haar lewe.

Mariandra en Jonas het albei die skoot hoog deur.

"Dit was by ’n konferensie van die Transvaalse Landbou Unie en Jonas het voor gestaan en gepraat. Daar was ’n oomblik van stilte vir ons vriend Paul Kruger, wat onlangs aan kanker oorlede is, en toe sê Jonas hy het voor Paul se dood vir hom gesê hy sal weer trou. Ek lag toe so ewe en dink 'a, dis oulik' en die volgende oomblik kniel Jonas en vra my om te trou," sê Mariandra.

Mariandra sê haar oudste dogtertjie, Mieke (8), het juis voor hulle verloof geraak het vir haar gevra of sy en oom Jonas gaan trou. "Ek was verstom en vra toe of sy nie wil hê ek moet nie? Toe sê sy so ewe sy wil hê ek moet, ek vat net te lank!"

Mariandra sê sy weet haar voormalige man kyk af na hulle en glimlag. "Hy sou dit ook so gekies het. Ek weet hy en Jonas sou van mekaar gehou het. Johann het altyd gesê 'solank jy gelukkig is' en nou is ek weer.”

Mieke was veral baie geheg aan haar oorlede pa, Johann.
Johann en Mariandra saam hulle oudste twee dogters, Mieke en Mischa.

In Oktober 2016 is die Heunis-gesin in hul huis oorval. Mariandra het wakker geword met twee gewapende mans langs hul bed. Hulle het Johann geskiet waarna een van die dogtertjies by die kamer ingehardloop het. Die rowers het op haar geskiet, maar genadiglik gemis. Etlike weke later is die egpaar se enigste seun AJ gebore.

"Dit was ’n baie moeilike twee jaar. Met tye het alles net oor oorlewing gegaan en ek weet nie of ek altyd dinge reg gedoen het nie," sê sy.

Sy sê Johann sal altyd ’n spesiale plek in haar hart hê en sy en die kinders word nog soms hartseer oor wat daardie aand gebeur het.

Mariandra sê veral Mieke sukkel nog om die dood van haar pa te verwerk. "Sy onthou nog soms daai nag en sy ly aan posttraumatiesestressindroom. Mischa (7) se geheue vervaag en sy sukkel om haar pappa te onthou. Majandré (4) kan hom nie onthou nie en sy sal herinnerings opmaak. Maar al die kinders weet hoe pappa lyk, selfs AJ (2). Foto’s van Johann sal in die huis wees en ons sal altyd van hom praat, want ek mis hom steeds," sê sy.

Mariandra sê Jonas en Johann verskil van mekaar en die jaar is haar en haar gesin se jaar van nuwes. "Ek het aan die begin van die jaar gebid en die Here het my beloof nuwe dinge wag dié jaar op ons. En dit is ook toe so. Dit sal nooit weer dieselfde wees nie, maar dit moet ook nie wees nie."

Sy en Jonas het mekaar in Januarie ontmoet

"Hy het aan die begin van die jaar met my ’n afspraak gehad en ons het af en toe gesels. Dit het ál meer geword tot ons daagliks gesels het, en hy het ook met die vier kinders video-oproepe gehad," vertel sy.

Die liefde het in Julie vanjaar regtig tussen dié twee begin blom toe sy vir hom in Swede gekuier het. Jonas reis gedurig tussen Suid-Afrika en Swede, maar beplan om Suid-Afrika sy permanente woning te maak.

"Hy het so deel geword van ons lewe. Hy beskik oor ’n stille wysheid. Ek het dit gemis om regtig met iemand te kan gesels. Om te kan vertel hoe my dag was. Ek’s baie bly ons het hom gevind," sê sy.

"My siel was uitmekaar geruk toe Johann dood is. Hy was my sielsgenoot, maar nou het ek nog een gekry. Hy is my bonus-sielsgenoot."

Jonas het nie kinders van sy eie nie en Mariandra sê hy het haar kinders met ope arms verwelkom. "Hy is self aangeneem en nou die dag sê hy vir my hy weet eerstehands dat ’n mens nie bloedverwant hoef te wees om ’n pa-figuur te wees nie."

Klein Mischa is glo Jonas se skaduwee.
Mariandra en Jonas saam AJ (2) en Mischa (7).

My kinders is ook dol oor hom. "Ek sê vir my kinders hy sal nooit hul pa se plek vat nie – maar ons is gelukkig, want ons het ’n bonus-pappa gekry."

Sy en haar Viking, soos sy hom noem, hoop om voor die einde van die jaar af te haak en sal dan in Suid-Afrika aanbly.