Heini en sy ma Lize veg al sedert 2012 saam teen s
Heini en sy ma, Lize van Straaten. Breinkanker is weer by Heini gediagnoseer. Foto: Facebook

So vertel Lize van Straaten, die ma van die 12-jarige Heini, aan Huisgenoot oor haar kind se hernude stryd teen breinkanker. Breinkanker is in November 2012 vir die eerste keer by Heini gediagnoseer, en hy het sedertdien behandeling by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvang.

Ma en seun het destyds van Mosselbaai na Oudtshoorn toe getrek om nader aan vriende te wees wat geldelike bystand aan hulle kon verleen. Heini se pa, Adriaan, is in 2010 op 34-jarige ouderdom ná ’n beroerte oorlede.

Klein Heini se kanker was sedert 2017 in remissie, maar in Maart het ’n breinskandering by Groote Schuur aangedui Heini se breinkanker is terug.

“Ek is baie geskok en hartseer en het so gehoop vir goeie, positiewe nuus, maar toe daardie dokters begin praat en verduidelik . . . Ek kan nie beskryf wat deur my kop gegaan het nie,” skryf Lize aan Heini se ondersteuners op sy Facebook-blad.

“Ek het net besef hier gaan ons alweer. Hier begin my grootste vrese, en die ergste is dat die groeisel wat nou begin het op ’n ander plek dieper in die brein is en dat hul nou niks kan doen nie.

Heini is nou op twaalf weer gediagnoseer met 'n ge
Heini is nou op 12 weer gediagnoseer met ’n gewas in sy brein nadat dit sedert 2012 in remissie was. Foto: Facebook

Ek moet dophou as daar enige gedragsveranderinge by hom te bespeur is en dan moet ek hom onmiddellik hospitaal toe vat, skryf Lize verder.

“My kind is siek. Hy bly opgooi, hy het hartkloppings en baie kopseer en dit maak hom so beangs dat hy nie reg asemhaal nie.”

Lize verduidelik verder dat dit algemeen is dat Heini se tipe breinkanker kwaadaardige ependimoom terugkeer.

“Ons weet nog nie waar presies die nuwe gewas sit nie. Sy gedrag het nog nie verander nie, maar hy is naar in die oggende en het ’n droë hoes. Ons moet hom maar fyn dophou,” vertel Lize aan Huisgenoot.

Heini is ’n gewone tiener wat graag ’n normale
Heini is ’n gewone tiener wat graag ’n normale lewe wil lei, al skuil daar ’n kankergewas in sy brein. Foto: Facebook

Hy ontvang tuisonderrig van ’n onderwyser in Oudtshoorn wat werk op ’n gr. R-vlak met hom behandel.

“Niemand het hom al ooit geleer lees en klank nie,” vertel Lize en verduidelik dat hy breinskade opgedoen het in pogings om die kwaadaardige gewas te verwyder toe kanker die eerste by hom gediagnoseer is.

Klein Heini by sy pa, Adriaan se graf. Foto: Faceb
Klein Heini by sy pa, Adriaan, se graf. Foto: Facebook

Maar ten spyte van al die uitdagings bly sy en Heini heerlik op die plaas waar hulle nou saam met Lize se vriendin van nege jaar buite Oudtshoorn woon.

Heini en sy ma Lize het 'n baie hegte persoonlikhe
Heini en sy ma het ’n baie hegte band. Foto: Facebook

“Heini kan met sy safety boots rondloop. Sy fiets het vir ’n rukkie gestaan en roes, maar hy ry nou weer nadat ons dit reggemaak het, sê sy.

Lize meen Heini se ondersteuners in die sosiale media help dat hulle nie so alleen voel in die stryd teen breinkanker nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe