Dit was vroegskemer op ’n Dinsdagaand in September vanjaar. Christa Stols het gesellig by haar huis op ’n veeplaas naby die oewer van die Vaalrivier saam met haar geliefdes gekuier.

Met die reuk van ’n braaivleisvuur wat nog in die lug hang, het almal om die etenstafel een onderwerp bespreek: die ontvoering van die sesjarige Amy’Leigh de Jager voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark die vorige dag.

Amy’Leigh is 19 uur ná haar ont­voering met haar ouers, Wynand en Angeline de Jager, herenig nadat haar ontvoerders haar op straat afgelaai en twee mense haar polisie toe geneem het. Maar soos mense dwarsoor die land was Christa en haar geliefdes die dag ná die ontvoering nog geskok oor die gebeure.

Hoe gebeur dit dat ’n kind sommerso uit haar ma se arms geruk word, vra een van die mense aan Christa se tafel. En dit nog voor ’n laerskool . . . Almal om die etenstafel wil weet: Watter soort mens sal dit aan ’n kind doen?

Amy'Leigh en haar gesin nadat haar ontvoerders haa
Amy'Leigh en haar gesin nadat haar ontvoerders haar vrygelaat het. Foto: Huisgenoot

Aan tafel kibbel die groep oor die hoe’s en hoekoms van so ’n wrede daad.

Dit was eers later, toe sy terugdink aan dié aand, dat Christa (59) besef het een stem het nie aan die gesprek deelgeneem nie: dié van haar ­dogter, Tharina Human (27), ’n gr. RR-onder­wyseres aan die laerskool waar Amy’Leigh ontvoer is.

Tharina was daardie aand heeltyd doenig met haar eie kind, haar dogtertjie, Megan (’n skuilnaam), en hulle het ná ete soos baiekeer tevore op die plaas oorgeslaap.

Tharina en Megan het die volgende oggend vroeg opgestaan om terug na hul huurhuis op ’n hoewe buite Vanderbijlpark te ry.

Hulle gaan sommer by die huis bad, keer Tharina die oggend voor hul vertrek toe Christa aanbied om vir haar dogter en kleindogter ’n bad te tap.

“Gee ’seblief net vir my ’n kombers teen die koel wind,” sê Tharina vir haar ma.

Hulle soengroet, en Tharina se motor verdwyn teen sonop an­derkant die plaashek, met die sterre wat nog in die lug hang.

“Dit was die laaste keer dat ek Tha­rinatjie kon vashou,” sê Christa nou ­hartseer.

Tharina en haar ma het ’n hegte band. Foto verskaf
Tharina en haar ma het ’n hegte band. Foto verskaf
Tharina op haar troudag. Haar man se naam word wee
Tharina op haar troudag. Haar man se naam word weerhou. Foto verskaf

Teen 18:30 daardie aand, op Woensdag 4 September, het Christa haar pas in die ruim sitkamer van haar plaashuis tuisgemaak toe die oproep kom wat sy nóóit verwag het nie.

“Tannie Christa, jy moet dadelik vir Megan kom haal – Tharina is in hegtenis geneem,” sê die stem oor die foon. “Sy is hier wegbegelei.”

Dit was ’n vriend wat by Tharina se huis gekuier het toe die polisie op haar toeslaan.

Eers later sou Christa uitvind haar dogter en twee kennisse, die nael­tegnikus Laetitia Nel (40) en hoenderboer Pieter van Zyl (50), word daarvan aangekla dat hulle Amy’Leigh ontvoer en aangehou het.

Daarna is ook Bofokeng Molemohi (24), die man wat haar glo voor die skool gegryp en in die wegkomkar geboender het, vasgetrek.

 In die beskuldigdebank: Tharina, Laetitia Nel en
In die beskuldigdebank: Tharina, Laetitia Nel en Pieter van Zyl word van ontvoering en afpersing aangekla. Foto: Huisgenoot

Om Christa draai die wêreld toe sy die eerste keer oor die telefoon hoor die polisie het haar dogter kom haal. Die skok sypel deur haar liggaam. Haar Tharina, haar mooi blondekopdogter? Dit moet ’n fout wees . . .

“My hart het nie net een slag oorgeslaan nie,” onthou Christa nou. Haar stem bewe en haar oë skiet vol trane. “Ek het eerder my eie dood verwag . . . Maar nie my Tharina nie; nie sý nie.”

Christa het ’n familielid gestuur om klein Megan by Tharina se huis te gaan oplaai – sy was self te geskok om te gaan.

Dit het haar hart gebreek toe Megan by die plaashuis aankom, sê Christa nou.

“Haar ogies was rooigehuil; sy was so bang. Sy het gehoor hoe die polisie haar mamma uit die huis begelei en in ’n voertuig met haar wegry.”

Megan het by haar ouma en stiefoupa, Gawie, in die bed gekruip.

“Ek het nie woorde van vertroosting gehad nie; ook nie vir myself nie,” sê Christa. “Ek kon haar net vasdruk en aan die slaap sus – drie van ons op ’n dubbelbed, elkeen angsbevange oor wat volgende gaan gebeur . . .”
 
Sommer met die intrapslag hou Christa haar regterarm uitgestrek en trek haar mou tot bo haar elmboog.

Aan haar arm pryk die tronkstempel: “Checked”.

Die tronkstempel op Christa se pols nadat sy haar
Die tronkstempel op Christa se pols nadat sy haar dogter in aanhouding besoek het. Foto: ER Lombard

Sy het pas teruggekeer van ’n besoek aan Tharina in die Johannesburg-­Sentraal-gevangenis waar sy as verhoor­afwagtende aangehou word, verduidelik Christa; daarom het sy die stempel.

’n Tronkstempel – op háár. “Die vrou wat gedink het sy sou nooit die binnekant van ’n gevangenis sien nie,” prewel sy geskok.

Haar stem is skor.

“Om daar in die wagkamer te sit en te weet jy kan jou dogter net agter ’n glasruit sien . . . Dit breek iets binne jou.

“Nooit sou ek kon raai dat ék ooit iemand in die tronk sou besoek nie. Om nie eens te praat van my eie dogter nie. Dis seer; dis goor en dis so ongelooflik pynlik.”

Tharina se dae in die tronk is nou ’n neerdrukkend
Tharina se dae in die tronk is nou ’n neerdrukkende roetine, vertel haar ma – en Tharina verlang baie na haar dogtertjie. Foto: Huisgenoot

Dit was die sesde keer in ’n maand dat sy Tharina in aanhouding kon besoek.

Soos elke vorige keer het sy vir haar die goedjies geneem wat aangedui word op die lys items wat gevangenes van besoekers mag kry: seep, toiletpapier, brood, ’n paar sjokolades en atjar.

Agter die ­koeëlbestande glasruit van die tronk lyk Tharina moeg en hartseer, vertel Christa. Sy is onlangs na ’n ander sel geskuif nadat sy glo deur van die ander gevangenes geïntimideer is.

“Ek kan dit nie help nie – my hart breek in eenduisend stukke elke keer wanneer ek haar sien. Sy sê dit gaan goed met haar, maar dis ’n tronk, en sy is ’n ge­­vangene.

“Sy is ongelooflik hartseer en het diep berou dat haar familie geraak word en betrek is in hierdie saak. Sy bars telkens in trane uit, want sy’s ontnugter.

“Sy besef ’n baie lang pad lê voor,” sê Christa.

“Elke keer wil sy weet: ‘Hoe gaan dit met Megan; is sy oukei?’ En sy wil weet hoe dit met haar hondjies gaan. Maar wat sê ’n mens? Dit gaan nie goed nie. Tog bly sy moedig. Daar is ’n geestelike leier in die tronk – sy lees elke dag Bybel; sy bid ontsettend baie.”

Tharina het 'n passie vir diere, veral perde. Foto
Tharina het 'n passie vir diere, veral perde. Foto verskaf

Die laerskoolonderwyseres se dae bestaan nou uit ’n neerdrukkende roetine, vertel haar geliefdes. Vroegoggend kry sy mieliepap vir ontbyt. Middagete is bone en groente; aandete ’n toebroodjie.

“Ons het nog nie een keer oor die ontvoering gepraat nie. Daar is nie tyd nie, en sy wil nie. Ek was ook nog nie in die hof nie. Ons wil Megan beskerm; sy verdien nie hierdie dinge nie,” sê Christa.

Omgekrap sê sy: “Weet jy dat mense gesê het ons verdien nie om te leef nie? Dat die mensdom so wreed is . . . Jy huil jouself aan die slaap.

“Elke keer wanneer ek ’n foto van my dogter in die beskuldigdebank sien, sak my hart tot in my skoene. Hóé het ons hier gekom? Wat het skeefgeloop? ’n Mens vra jouself – en jy vra vir die Here – of jy dan nie genoeg vir haar gebid het nie.

“Het God van haar vergeet? Sy is aan niks skuldig bevind nie, maar op watter laagtepunt moes sy wees om ’n aandeel in so iets te hê?”
Moedeloos en tranerig sê Christa dan: “Ons het nie ’n antwoord op enige van hierdie vrae nie.”
 
Hulle het geen tekens daarvan gesien dat Tharina op ’n laagtepunt is of uitdagings van enige aard ervaar nie, sê Christa. Sy was tot die dag van haar inhegtenisneming dieselfde mens wat hulle al die jare geken het, hou hulle vol: ’n goeie ma vir Megan; ’n onderwyseres wat vir haar werk geprys is; ’n jong vrou wat hou van lag.

Maar nou is haar lag stil.

Die nagmerrie duur daagliks vir Christa voort. “Vir ’n vlietende oomblik vergeet jy dalk daarvan . . . Jy lag dalk oor iets, en dan, vir net ’n breukdeel van ’n oomblik, verdwyn die seer uit jou gedagtes. Maar nes jou lag verdwyn, kom dit weer terug: die pyn, die bekommernis, die vrae.

“Dan dring dit weer tot jou deur wat regtig aan die gang is: Dis nie ’n nag­merrie nie – jy gaan nie wakker word nie.

“Jy doen iets wat vir jou voorheen alledaags was, soos om winkel toe te gaan. Ek stop in die parkeerterrein; ek sluit my motor af, maar kan nie uitklim nie. Ek het nie die vrymoedigheid om in ’n winkel in te stap nie. Ek wil wegjaag – van al hierdie dinge.”

Christa moes op Donderdag 5 September, die dag ná Tharina se inhegtenis­neming, die inhoud van haar dogter se huurhuis op die hoewe gaan oppak. Want niemand weet hoe lank Tharina nog in aanhouding gaan wees of hoe die saak gaan ontvou nie.

“Ek onthou hoe ek in haar huis ingestap het en nie die trane kon keer nie. Op die stoof was ’n pasta-­en-maalvleisgereg – yskoud in ’n pot. Op die kombuiskas het die twee bordjies eenkant gestaan, maar dit was nog blink­skoon.”

“Hulle kon nie eens eet nie,” prewel Christa.

“Ons het Megan daardie aand na my toe gebring; sy het nie eens vir my gesê sy is honger nie. Sy was so geskok; so geweldig getraumatiseer dat sy met ’n leë magie bed toe is. Dit breek my.”

Ook die bewerings dat Tharina met dwelms deurmekaar was en die losprys vir Amy’Leigh glo sou eis om dwelm­skuld te betaal, maak nie vir hulle sin nie. Dit maak haar hartseer soveel erger, sê Christa.

“Ek kan dit nie glo nie – nee, ek sal dit nie glo nie. Ek is haar ma; sou ek dit nie sien nie? Ons het elke dag gepraat. Ons het mekaar gereeld gesien. ’n Mens herken ’n dwelmgebruiker aan sy vel of oë. Aan Tharina was daar niks.

“Sy het nie tyd gehad om dinge vir ons te versteek nie. Ek sou op iets afgekom het toe ek haar huis opgepak het. Daar sou êrens ’n teken gewees het. En daar was niks.”

Maar sy móés finansieel swaar getrek het, dink Christa hardop. Al het sy niks gesê nie . . .

Christa Stols sou nooit kon dink sy sou haar eie k
Christa Stols sou nooit kon dink sy sou haar eie kind in die tronk besoek nie. Haar dogter, Tharina Human, word van Amy’Leigh de Jager se ontvoering aangekla. Foto: ER Lombard /Media24/Gallo Images

“Sy het nooit haar finansies met ons bespreek nie. En sy het nooit gesê dit gaan met haar sleg of dat sy nie die mas opkom nie. As sy maar het . . . Ons sou agteroor gebuig het. Ons sou alles in ons vermoë gedoen het om haar by te staan.

“Sy kon nie baie geld by die skool verdien het nie – veral omdat sy nie geleerd was nie.

“Ons besef sy moes swaargekry het. Maar ons gesin het altyd uitgereik deur kleertjies vir Megan te koop en te help om vir haar buitemuurse aktiwiteite te betaal. As sy net vir ons gesê het sy het nood – ás sy nood gehad het. Ons weet nie, en dís wat die seerste maak.”

En die gegis oor verkeerde vriende? Die onthulling dat Tharina tot onlangs oor naweke by die Cascades-klub in Vanderbijlpark as ’n kroegmeisie gewerk het?

Christa haal haar skouers op.

“Sy het geweet die kroeg dra nie ons goed­keuring weg nie. Ons het gesmeek, maar sy wou niks hoor nie. Ons het nie gedink dis ’n omgewing waar sy behoort te wees nie – veral omdat sy ’n juffrou is. Maar ons kon haar nie keer nie. So, ja. Tharina het naweke die kroeg beman, en ons het Megan opgepas.”

Tharina het glo gesukkel om kop bo water te hou en
Tharina het glo gesukkel om kop bo water te hou en naweke by dié kuierplek as kroegmeisie gewerk vir ’n ekstra inkomste. Foto: Huisgenoot

Haar oë is opnuut troebel.

“Of sy verkeerde vriende of invloede gehad het, weet ons nie. Ons het hierdie mense nooit geken nie. Die Tharina vir wie ons lief is, was in ons geselskap nog nooit ’n ander mens nie. Nou sit ons hande in die hare, en al wat ons kan doen, is om God om genade te smeek.”
 
Dis veral die gedagte aan klein Megan wat dit laat voel asof hul harte oor en oor breek, sê Christa.

Sy was ’n leerder aan ’n ander laerskool in Vanderbijlpark, maar is nie terug skool toe vir die vierde kwartaal nie. Christa-hulle het die situasie met die skool en departement bespreek, en daar word nou vir eers op ’n ander manier na Megan se onderrig omgesien.

“Sy bly nou vir eers by my, haar ouma. Sy het nog nie herstel ná die trauma nie, en die kinderwreedheid is verskriklik erg. Hierdie kindjie is sag – so iets sal haar knak. En ek sal dit nie toelaat nie, selfs al verg dit alles.”

Die meisie het sielkundige berading gekry, maar voel oorweldig.

Dit voel vir Christa asof “boelies” in die sosiale media – diegene wat haar dogter nou as ’n monster uitmaak – haar gaan laat knak.

“Ons is net so geskok soos die res van die land. En daarbenewens het ons on­gelooflik seer; ons het baie vrae; ons is baie bekommerd.

“My dogter is nié ’n monster nie – hoe kan mense in die sosiale media haar skop asof sy ’n vuil ondier is?

“Het hulle nie ’n idee wat dit doen aan ’n ma nie – of aan haar dogtertjie? Ons ken nie hierdie mens van wie die hordes in die sosiale media praat nie. Dis nie ons Tharina nie. Dis nie my mooi dogter met die sagte hart nie.

“Ons weet net so min soos almal – behalwe dat ek haar hart ken en weet dat sy in die diepste groef moes wees ás sy ’n aandeel daarin het.

“Sy’s nie ’n wreedaard nie; my kind is nie ’n boosaard nie.”

Die onsekerheid oor wat die toekoms inhou, maak haar angstig.

“Ons smeek om borgtog – as dit nie vir haar is nie, dan vir Megan. En ás sy gestraf moet word, hoop ons Gód kies die regte straf, nie ménse nie,” sê Christa.

“Anderdag het Tharina vir ons briewe uit die tronk geskryf. Daarin sê sy jammer vir al die pyn en hartseer wat hierdie ding veroorsaak het. Van die pyn kan ons nie wegkom nie: Ons lewe het soos hand­omkeer verander. Niks sal ooit weer wees soos dit was nie.

“Ons huil klaar oor môre. Ons kan nét smeek vir genade: ‘Here, wees asseblief tog net genadig . . .’ ”    

Tharina Human, Laetitia Nel, Pieter van Zyl en Bofokeng Molemohi sou weer op 11 Oktober in die landdroshof in Vanderbijlpark op aanklagte van ontvoering en afpersing verskyn.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.