Toe sy die volgende oggend wakker word, het die ergste gebeur.

Die baba was dood.

“Ek kon aan sy kleur sien dat hy nie asemhaal nie – hy was nie warm nie, maar hy was ook nie koud nie,” het Lauren aan Daily Mail vertel.

“Ek het net geweet en ek het ‘nee, nee’ begin skree,” vertel Lauren.

Volgens The Mirror het Lauren tydens ’n doodsondersoek by ’n hof in Maidstone, Kent, gesê hulle het op 3 Junie vir Harrison twee bottels melk gegee – een vroeg in die aand en nog een later, omstreeks 22:30.

Maar klein Harrison wou nie rustig raak nie. Dis toe dat hulle besluit het om hom tussen hulle te laat lê terwyl hulle televisie gekyk het, tot hy weer aan die slaap sou raak.

“Ek het teen 04:00 of 04:20 wakker geword. Ek het in sy bedjie gekyk want ek het voor Kieran aan die slaap geraak en ek het gedink hy het die baba terug in sy bed gesit,” het sy aan The Mirror vertel.

Maar Harrison was nie in sy bedjie nie en toe Lauren na hul bed kyk, was Kieran vas aan die slaap en Harrison het stil op sy rug in die bed gelê.

Nadat sy besef het daar is fout, het Laruen vir Kieran wakker gemaak en hy het vir 15 minute met kardiopulmonale resussitasie sy seun probeer red, voor hulle die kind aan paramedici oorhandig het, berig Cambridge News.

Harrison is in die vroeë oggendure van 4 Junie by die Tunbridge Wells-hospitaal dood verklaar. 

Scott Matthewson, assistent-lykskouer, het in die hof gesê bewyse van die patoloog, dr. Mudher al-Adrani, het hom tot die slotsom laat kom dat Harrison se dood ’n ongeluk was.

Hy het ook bygevoeg dat die egpaar afskeid moes neem in wat ’n “baie hartseer geval” was, berig Daily Mail.

Scott het bygevoeg dat hierdie “hartseer geval” as waarskuwing moet dien vir ouers om nie hul babas in hul bed te laat slaap nie.

Volgens Cambridge News het Lauren ook ’n beroep op ouers gedoen om babas in hul eie bedjies te laat slaap.

“Ons het nie bedoel om saam met hom aan die slaap te raak nie – maar ons was pootuit en dit het net gebeur. Dis soms lekker om daardie band te hê, maar mense moet daaroor praat om te verhoed dat dit met ander ouers gebeur.”

Bronne: Cambridge News, Daily Mail, The Mirror