Klein Alesha het by Georgina se ma, Angela King, gaan kuier in Rothesay, die hoofdorp van die Skotse eiland Bute, waar sy as vermis aangemeld is.

Angela het op Facebook oor haar vermiste kleindogter geskryf toe Georgina die inskrywing sien. "Kan iemand vir my sê wat gebeur het; dis my dogter," lewer sy kommentaar op haar ma se inskrywing.

’n Lykie is in ’n beboste gebied gevind en die polisie het Woensdag bevestig dit is Alesha se oorskot. 

Haar ma moes na die eiland gaan om haar lyk uit te ken. 

Volgens die Skotse dagblad Daily Record is haar familie gebroke. "Alesha het gereeld na haar ouma gegaan om te kuier en dit was net ’n gewone besoek," vertel Alan McGuire, Georgina se niggie se kêrel.

"Ons is verpletter oor wat met haar gebeur het, sy was ’n lieflike meisie." 

Die polisie het Woensdag ’n moordondersoek begin. In ’n nadoodse ondersoek van langer as sewe uur is vasgestel dat sy óf naby haar huis vermoor is óf in ’n verlate hotel. Haar lyk is in die hotel gevind. 

Die polisie wou nie veel verklap nie, maar hulle het wel bevestig hulle ondersoek verskeie moontlikhede. Hulle doen ’n beroep op die gemeenskap om enige vreemde aktiwiteite op die eiland aan te meld. 

"Mense moet omsien na mekaar. As hulle enige bekommernisse het moet hulle die polisie in kennis stel," sê Hazel Hendren, hoof-superintendent van die gebied. 

Boodskappe van medelye het ingestroom toe die gemeenskap van die tragedie hoor, maar mense was ook ontsteld dat Georgina, of Genie soos sy bekend is, op Facebook moes uitvind haar dogtertjie word vermis.

"Dis aaklig, ek is so jammer vir jou verlies en die aaklige manier waarop jy uitgevind het," skryf ene Kelly Park. 

"Absoluut gewalg dat die ma van die kind op Facebook moes uitvind haar kind word vermis en later dat sy dood is," skryf ene Kelly Maddocks. "Ek ken jou of jou familie nie, maar ’n mens moet nooit iets oor jou dogtertjie lees voor jy dit nie eers gehoor het nie . . . nie op Facebook nie!!!" 

"Hoe op dees aarde kan die arme mamma so uitvind; dit is hartverskeurend," skryf Carol Wyard. 

Familielede van Angela beweer wel dat sy haar dogter in kennis probeer stel het, maar die nuus het baie vinnig versprei. 

Die polisie het intussen die gemeenskap gevra om hul deure te sluit en hul kinders tuis te hou. 

Bronne: Mail Online, Inews.co.uk