'n Verpleegster versorg een van Halima Cissie se n
'n Verpleegster versorg een van Halima Cissie se negeling wat op 5 Mei 2021 gebore is. Foto: Jalal Morchidi/Anadolu Agency via Getty Images

En nou het die trotse ma eindelik meer vertel van die opwindende dag op 4 Mei vanjaar.   

Halima het met die MailOnline gepraat vanuit haar hospitaalbed in Casablanca, Marokko. 

“Dit was ’n totale skok toe ek uitvind ek gaan nege babas hê, want ek het sewe verwag,” het Halima (26) vertel. 

“My suster het my hand vasgehou, maar al wat ek kon dink, was hoe gaan ek vir hulle sorg, en wie gaan my help,” het sy bygevoeg. 

Al nege van Halima en haar man, Kader Arby (35), ’n adjudant-offisier in Mali se weermag, se babas het oorleef. Die kleingoed, seuntjies Bah, Oumar, El Hadji, Mohammed VI, en dogters, Fatouma, Oumou, Adama, Hawa en Kadidia, is nog almal in broeikassies in die intensiewesorgeenheid van die Aïn Borja-kliniek.

Die egpaar het ook ’n ouer dogter. 

Vier van die nege babas waaraan Halima geboorte ge
Vier van die nege babas waaraan Halima die lewe geskenk het. Foto: Facebook

Halima het aan Daily Mail vertel dat die kroos tot 100 doeke per dag gebruik en tot ses liter melk inneem. Sy is nog baie moeg en kan nie na hulle kyk nie, so sy bring die meeste van haar tyd deur deur  televisie te kyk en te slaap, vertel Halima.  

“Om aan een kind die lewe te skenk is moeilik genoeg, maar om nege te hê is ondenkbaar. Dis verstommend hoewel werk dit is om na hulle te kyk. Ek is so dankbaar vir die mediese span wat al hierdie harde werk doen en vir die regering van Mali wat vir als betaal,” het Halima laat hoor. 

Ten tye van die indrukwekkende geboorte is berig dat die voormalige president van Mali, Bah Ndaw, so aangegryp was deur die nuus van Halima se swangerskap dat hy gereël het vir haar om na Marokko te gaan om beter mediese sorg te kry.

Vir sy bystand is een van die kleingoed na hom genoem. Nog ’n seuntjie is genoem na die Marokkaanse koning, Mohammed VI. 

Die rekening vir die geboorte en versorging van die ma en kinders word op sowat R20 miljoen geskat. 

Tydens die geboorte is daar ook gevrees vir Halima se lewe vanweë die erge bloedverlies wat sy gely het. Dokters skat dat haar maag alleen sowat 30 kg geweeg het, met die babas en amniotiese vloeistof in. 

Professor Yousef Aloui, hoof van die mediese span wat na Halima en die babas omsien, het aan MailOnline gesê dit gaan wel beter met sommige van die kleintjies. 

“Nie al nege hoef in die intensiewesorgeenheid te bly nie. Maar ons hou hulle daar tot almal sterker is, en gee hulle kans om geheg te raak aan mekaar,” het hy laat hoor. Die negeling sal na verwagting nog sowat twee maande in die hospitaal deurbring. 

En Halima en Kader sê hulle mag dalk net in die toekoms nog kinders hê. 

“Ons sal kyk wat gebeur, dalk kom daar meer. Maar vir nou wil ons net ons babas terug Timbuktu toe kan neem waar ons hulle wil groot maak,” het Halima verklap. Daarby het Kader laat hoor: “Niemand weet wat die toekoms inhou nie.”

Bronne: Daily Mail, Reuters

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe