Die man (nou 43), wie se identiteit in hierdie stadium weerhou word, het glo op 4 Mei 2007, die dag ná Maddie se verdwyning, een van sy twee voertuie in iemand anders se naam laat registreer.

Hy was in die omgewing van die Algarve-kus tydens Maddie se verdwyning. Hy was toe blond en skraal. En volgens Scotland Yard het ’n blonde man in die omgewing rondgehang.

Die man het na bewering geruime tyd in Praia da Luz gebly en telefoonrekords plaas hom in die gebied van waar Maddie op 3 Mei 2007 verdwyn het.

Hy het in daardie tyd glo ’n halfuurlange telefoongesprek gevoer wat hom in die gebied plaas kwalik ’n uur voor Maddie verdwyn het.

Volgens Sky News het die staatsaanklaer, Christian Hoppe, van die Duitse federale kriminele polisie (BKA) gesê die verdagte dien ’n vonnis uit vir ’n seksoortreding en het twee vorige skuldigbevindings vir “seksuele kontak met meisies”.

Daar is ook ’n beloning van 10 000 euro uitgeloof vir enige inligting wat tot sy vervolging in verband met Maddie se verdwyning kan lei.

Hy is in Duitsland ook skuldig bevind aan die verkragting van ’n 72-jarige Amerikaanse vrou in dieselfde oord in Portugal van waar Maddie verdwyn het. Dit was in September 2005 en dit is vir daardie misdaad dat hy die sewe jaar tronkstraf opgelê is wat hy nou uitdien.

Maddie se ouers, Kate en Gerry McCann, het glo die nuwe verwikkeling verwelkom en vriende sê hulle sal nooit moed opgee om haar lewend te vind nie.

Die Britse polisie hou steeds vol dis eerder ’n vermiste persoon-saak as ’n moordondersoek. Maar Hoppe het beweer die ondersoek laat hulle glo Maddie is vermoor.

Agtergrond

Die aand van 3 Mei 2007 het die ouerpaar hul drie jong kinders in die bed gesit en ’n ete saam met vriende gaan geniet in ’n restaurant ’n hanetree van hul vakansiewoonstel af.

Kate en Gerry het beurte gemaak om te gaan kyk of hul eenjarige tweeling, Sean en Amelie, en dié se sussie, Madeleine (3), nog slaap. Hulle kon die woonstel sien van die tafel waar hulle gesit en eet het.

Maar toe Kate tienuur die aand gaan inloer, was die slaapkamervenster wyd oop en Madeleine se bed leeg.

So het een van die opspraakwekkendste verdwynings van die laaste paar jare begin.

“Ek sou nooit kon dink ons sou soveel jare later steeds in hierdie posisie wees nie,” het Kate drie jaar gelede in ’n onderhoud gesê. “In party opsigte voel dit asof dit net ’n paar weke gelede gebeur het. Maar soms voel dit regtig lank gelede.”

Kate, Gerry en hul kinders was met vakansie op die Portugese kusdorp Praia da Luz toe Maddie die aand uit haar bed verdwyn het.

’n Verkorte tydlyn tot dusver
  • 3 Mei 2007: Maddie verdwyn spoorloos.
  • 14 Mei 2007: Robert Murat word deur die polisie ondervra.
  • 3 Augustus 2007: Ondersoekbeamptes gee toe dat Maddie dood kan wees.
  • 7 September 2007: Die polisie ondervra Gerry en Kate McCann en hulle word amptelik verdagtes in die saak.
  • 19 Maart 2008: Kate en Gerry wen ’n lastersaak teen die  Express-dagblaaie oor bewerings dat hulle vir hul dogter se dood verantwoordelik is.
  • Mei 2011: Operation Grange word van stapel gestuur in die soektog na Maddie.
  • 5 Junie 2019: Die Britse regering bewillig meer geld om Operation Grange tot 31 Maart 2020 aan die gang te hou. Sedert 2011 is £11,75 miljoen aan die projek bestee.
  • 3 Junie 2020: ’n Hoofverdagte word deur Scotland Yard identifiseer in die soektog na die verdwyning van Madeleine McCann.

Bron: telegraph.co.uk


Bronne: mirror.co.uk, news.sky.com, dailymail.co.uk