As 'n mens kyk hoe hulle in die Withuis handjies vashou, op hoëprofielvergaderings vir mekaar fluister en van die trap van die presidents­vliegtuig af wuif, lyk dit kompleet of hulle – en nie Donald Trump nie – die VSA regeer.

En dis nie ver van die waarheid nie, word in die opspraakwekkende nuwe boek Kushner, Inc. beweer.

Want volgens die skrywer en ondersoekende joernalis Vicky Ward staan “Javanka” – soos Jared en Ivanka Kushner genoem word – aan die hart van al die chaos in die Trump-­administrasie. 

Trump se besluit om sy dogter en skoonseun as senior raadgewers aan te stel het vanuit die staanspoor na ne­potisme geruik. 

Tog het mense na aan hom gehoop die egpaar sou ’n matigende invloed op hom uitoefen. Maar in die boek word Ivanka en Jared uitgebeeld as magshonger opportuniste wat Trump se ergste vergrype aanmoedig. 

“Ek dink nie ’n mens moet die gevaar onderskat wat dié twee inhou nie,” skryf Vicky in die boek wat uit onderhoude met sowat 200 bronne saamgestel is.

trump,gary cohn
Die egpaar by die raadgewer Gary Cohn (links). Foto: Reuters

Dis seker g’n verrassing nie dat talle van haar bronne voormalige Withuiswerknemers is wat intussen deur Trump in die pad gesteek is. 

Die magtige paar is by byna elke aspek van die Trumpregering betrokke. Jared (38) staan onder Withuisbeamptes bekend as die “minister van alles” oor sy alewige inmengery, en Ivanka (37) as Habi – glo kort vir die Home of All Bad Ideas.

Die twee is glo vasbeslote om ’n politieke dinastie te bou soortgelyk aan dié van die Bush- en Kennedy-familie.

En Ivanka wil haar pa se plek inneem. “Sy dink sy gaan die president van Amerika wees,” sê Gary Cohn, Trump se voormalige voorste ekonomiese raadgewer. 

Klink dit vergesog? Onthou maar net hoe mense Trump destyds oor sy Withuis-­ambisies uitgelag het. 

En nes haar pa laat Ivanka haar glo nie deur die waarheid en etiese oorwegings stuit nie.

Botsende belange

Toe Ivanka en Jared hul poste in die Withuis aanvaar, het elkeen ’n salaris van die hand gewys. So kon hulle aanhou om geld te verdien uit hul ander sake­belange, wat in 2017 altesaam R984 miljoen beloop het. 

As Amerikaanse belegger, eiendomsontwikkelaar en eienaar van die skinderblad The New York Observer maak Jared se inkomste die grootste deel hiervan uit. 

Maar danksy haar aandeel in die Trump International Hotel en haar persoonlike handelsnaam en klerereeks verdien Ivanka ook geld soos bossies.

Vicky sê die egpaar wou die Withuisposte hê sodat hulle bande kon smee met van die wêreld se magtigste mense – en so hulself verder verryk.

Volgens die boek het Jared se persoonlike belange dalk probleme veroorsaak wat Amerikaanse verhoudinge met die Midde-Ooste betref, en dit kan dalk selfs die lewe van Amerikaanse soldate in daardie geweste in gevaar stel.

rex tillerson
Rex W. Tillerson, voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake. Foto: Reuters

In 2017 het hy, as sy skoonpa se gesant, Trump aangeraai om ’n blokkade van Katar deur ander Midde-Oosterse lande te steun – dit ten spyte daarvan dat duisende Amerikaanse soldate in Katar gestasioneer is. 

Die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake Rex W. Tillerson het Jared daaroor gekonfronteer en vir hom gesê dit kan Amerikaners in gevaar stel. 

Dit het glo later uitgekom Jared se steun vir die blokkade was omdat sy familie vroeër tevergeefs finansiële hulp by Katar gesoek het. 

Mnr. en Mev. Ongewild 

Trump neem glo selde besluite sonder om Ivanka en Jared te raadpleeg. Maar die meeste ander senior Withuisbeamptes kan hulle glo nie verdra nie.

Baie vind dit irriterend dat Ivanka hul vergaderings met die president gedurig onderbreek. Sy wals glo net in en neem oor.

Wanneer die egpaar teenwoordig was, was dit moeilik om Trump se aandag te kry, kla Mark Corallo, ’n voormalige woordvoerder vir die Withuisregspan.

“Hulle was alomteenwoordig en roekeloos,” sê hy.

Ook Trump se voormalige personeelhoof John F. Kelly het gesukkel om sy ­irritasie te verbloem wanneer hy telkens vure onder senior kollegas moes doodslaan oor die twee se baasspelery. 

steve bannon,politiek,amerika
Steve Bannon, Trump se voormalige hoofstrateeg. Foto: Gallo Images/ Getty Images

En die skoongesig-Jared het ’n regte nare streep, sê Trump se voormalige hoofstrateeg, Steve Bannon: “Hy kan van ’n klein seuntjie in die f***** duiwel verander.”

Pa se oogappel

Trump se verhouding met Ivanka het al dikwels die wenkbroue laat lig. Soos die keer toe hy in ’n onderhoud gesê het hy sou met haar uitgegaan het as sy nie sy dogter was nie. 

Mark sê Trump is heeltemal behep met sy oudste dogter.

“Jy kan nie ’n gesprek hê sonder dat hy oor haar praat nie: ‘Is Ivanka nie fantasties nie? Ek bedoel, is sy nie een van die mooiste vroue wat jy al ooit gesien het nie?’”

donald trump
President Donald Trump en Ivanka. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Mense in die dampkring het aan Vicky vertel Ivanka stap dikwels in die Ovaal Kantoor in en praat met haar pa in ’n kinderlike teemstemmetjie.

En asof dit nie grillerig genoeg is nie, noem hy haar glo baby of tik haar op die boude.

Trump het al geskerts hy was eers nie in sy noppies met sy dogter se verhouding met Jared nie. Hy wou eintlik hê Ivanka moes met die voetbalster Tom Brady uitgaan. 

VLIEG HOOG

Bronne vertel Javanka tree op asof die presidentsvliegtuig, Air Force One, hul persoonlike taxi is. En as beamptes wat die vlugte beheer, beswaar maak, sorg die egpaar dat ’n lid van Trump se kabinet hulle vergesel.

trump,vliegtuig,air force one
Jared en Ivanka gebruik Air Force One glo as hul persoonlike taxi. Foto: Gallo Images/ Getty Images

So kry die vlug amptelike status – en dok die Amerikaanse belastingbetaler daarvoor op. 

Vicky skryf die twee leef in ’n “skeef­getrekte werklikheid” wat deur hul onderskeie families se ontsaglike rykdom veroorsaak is.

“Hulle het geen idee hoe normale mense dinge waarneem, verstaan of aanvoel nie,” het ’n lid van Trump se regspan aan haar vertel.

Die waarheid volgens Ivanka

Nes haar pa glo Ivanka in “alternatiewe feite”. 

“Dat iemand glo iets is waar, is belangriker as dat dit werklik waar is,” skryf Ivanka in haar 2010-selfhelpboek, The Trump Card.

Ivanka het dié filosofie ingespan toe sy Gary, een van haar pa se sleutelraadgewers van Joodse afkoms, moes paai.

Dié was woedend en wou bedank nadat hy gehoor het hoe Trump na regse betogers met swastika-simbole in die Amerikaanse stad Charlottesville as “goeie mense” verwys. 

“Dis nie wat hy (Trump) gesê het nie,” het Ivanka aan Gary gesê – al is Trump se uitlating hard en duidelik oor al die groot nuusnetwerke uitgesaai.

Maar al huiwer Ivanka nie om self die waarheid krom te trek nie, is sy en haar man glo woedend oor Vicky se boek. Hulle het dit as “fiksie” afgemaak. 

“Om alles te korrigeer wat in die boek verkeerd is, sou te lank neem en boonop nutteloos wees,” het Peter Mirijanian, ’n woordvoerder vir hul prokureur, Abbe Lowell, gesê. 

Bronne: cnn.com, washingtonpost.com, nytimes.com, vanityfair.comthedailybeast.com