Hy lyk allermins soos die man wat ’n jaar gelede in die nuus was nadat ’n Al-Kaïda-terreursel in die woestyn in Mali hom eindelik ná byna ses jaar in aanhouding vrygelaat het.

Weg is die lang poniestert en welige baard. ’n Mens kan maklik op straat verby hom stap sonder om hom te herken. Maar Stephen McGown (43) gee ook nie om as mense hom wel herken nie.

“En noudat ek skoner en gesonder lyk, behandel mense my meer gewoon.”

Vandag is dié Johannesburger, wie se motorfietsavontuur deur Afrika na sy ontvoering en dreigemente van onthoofding gelei het, uiterlik ’n heel ander mens as toe Huisgenoot laas met hom gepraat het. Sy hare is netjies kort en sy gesig skoon geskeer. Sy uitgeteerde lyf van destyds lyk weer fiks en gesond. Net die sielvolle bruin oë is nog dieselfde.

Wanneer ’n mens met dié eertydse Londense beleggingsbankier en sy spraakterapeut-vrou, Catherine (40), gesels, kom jy gou agter hy het nie net uiterlik verander nie.

Maar dit was g’n maklike reis nie.

“Die dag met my tuiskoms (in Suid-Afrika) het ek gedink ek het alles onder beheer. Maar teen Januarie vanjaar het ek besef hoe buite beheer alles was.

“Ek het kwaai nagmerries gekry. Ek het gedroom die terroriste kom om my terug woestyn toe te vat of dat my familie vir my sê dit (sy vrylating) was ’n groot fout; ek moet terug,” vertel Stephen.

In die jaar sedert sy terugkeer uit aanhouding in die Saharawoestyn het Stephen en Catherine, wat vanjaar al 11 jaar getroud is, vir hulle ’n nuwe tuiste in Randburg geskep.

In die tuin is die blombeddings wat Stephen aangelê het. Hul nuwe hond, Rocket, hardloop vrolik in die agterplaas rond.

Dit het ’n jaar gekos om sy lewe weer op koers te kry, erken Stephen.

“Dit was soos om as ’n heel nuwe mens terug te kom. Ek moes my bankrekenings weer oopmaak en nuwe wagwoorde kry. Hulle het my gevra wat my telefoonnommer is en ek het geantwoord: ‘Julle het seker my ou telefoonnommer, maar ek het nie meer ’n idee wat dit is nie.’ En hulle het gelag.”

Hy was vyf jaar en agt maande lank van alles en almal afgesny – van die ganse buitewêreld.

Maar vandag kan sy bruin oë, steeds sensitief vir lig weens die skade van die vurige woestynson, darem saam lag.

Sy ma, Beverley, het sy banksake in Suid-Afrika hanteer terwyl hy byna ses jaar lank ’n gyselaar was. Maar twee maande voor sy vrylating is sy aan ’n longsiekte dood.

Om sy banksake daarna uit te pluis was vir Stephen besonder moeilik. Hy is immers in ’n oogwink uit die samelewing weggeraap nadat hy op 25 November 2011 buite ’n herberg in Timboektoe, Mali, ontvoer is.

Hy was vyf jaar en agt maande lank van alles en almal afgesny – van die ganse buitewêreld.

“Gewone gevangenes het nog toegang tot televisie, hulle het nog boeke en kan algemene gesprekke voer. Vir my was dit soos om in ’n grot te wees. Ek het niks gehad nie. Ek moes kommunikeer met mense wat dink die aarde is plat,” sê hy.

Vir die grootste deel van sy gevangenskap moes hy saam met die terreurgroep in die woestyn rondswerf omdat hulle gevrees het hulle opgespoor kon word. Al wat hy kon lees, was die Koran. Verder het hy trekvoëls dopgehou wat suid migreer en gedroom hy is een van hulle.

Hy en sy mede­gyse­laar die Sweed Johan Gustafs­son, wat kort voor hom vrygelaat is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar tog is hy nie bitter oor die jare wat uit sy lewe gesteel is nie.

“Die grootste uitdaging sedert my vrylating was om ’n nuwe lewe te skep. ’n Nuwe identiteit. Ek bedoel, al my stories vir ses jaar was woestynstories. Ek kon met jou praat oor hoe om ’n hut te bou, ’n kameel te ry en ’n put te grawe.

“Maar ek kon nie die jongste slimfoon of die spoed van my internet bespreek nie. Ek het van al daardie dinge vergeet. Dit was oorweldigend.”

Die lang baard het hy in September verlede jaar afgeskeer.

“Die baard het my soos ’n mishandelde mens laat voel. Om dit af te skeer het my skoner laat voel, asof ek myself met ’n borsel skoongeskrop het.”

Tyd het genesing gebring

“Ek het tyd nodig gehad om weer mens te word. Mense het gevra wat ek vir ’n lewe doen. Dan wou ek antwoord ek het nie regtig meer ’n identiteit nie. Maar vandag kan ek sê ek ry fiets, hardloop, roei en reis gereeld vir sake.”

Vir Catherine het die afgelope jaar ook uitdagings gebring.

“Vir my was Steve steeds die man met wie ek getrou het. Maar in sommige opsigte was die aanpassing ook vir my moeilik. Ek het oor die jare onafhanklik geword. Dit het gevoel asof my lewe goed georganiseerd is, maar toe Steve terugkom, was alles weer deurmekaar. Dit was nie maklik nie.”

Stephen skerts: “Ja, sy het ’n swak kommunikeerder geword.”

Hy vertel hulle het sedert sy terugkeer dikwels vasgesit omdat sy dinge reël sonder om met hom daaroor te praat.

“Dis waar,” gee Catherine toe.

“Die laaste ses jaar het ek al die besluite geneem. Ek moes van voor af leer om met hom te konsulteer.”

En dit was moeilik om ná ses jaar apart weer hul roetine te koördineer. Catherine was byvoorbeeld gewoond daaraan om soggens vroeg te gaan draf. Vir Stephen het sy dag in die woestyn met meditasie begin.

Stephen word deur sy vrou gesteun terwyl hy die media in die dae ná sy vry­lating toespreek. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Catherine vertel: “Ek het deur die hele beproewing oor die jare vir berading gegaan. Toe Stephen terugkom, het my sielkundige aanbeveel ek hou my roetine soos dit is sodat ek so stabiel moontlik vir Steve kan wees. Sy het my tydens ons sessies gevra of ek nog hardloop. Wanneer ek nee gesê het, het sy vir my gesê ek móét hardloop.”

Ná Stephen se vrylating het hulle aanvanklik lang ente in die woonbuurt gaan stap en oor die kreukels in hul verhouding gepraat en hoe om dit uit te stryk.

Ironies was een van die groot aanpassings vir Stephen om weer op ’n bed saam met sy vrou te slaap. Nadat hy ses jaar lank op ’n matjie op die grond geslaap het, ervaar hy nou rugprobleme.

“Ek kon dit verstaan; ek was verbaas hy het nie meer dikwels op die slaapkamervloer geslaap nie,” sê Catherine.

Dan voeg Stephen filosofies by: “Ek dink dit het daaroor gegaan om mekaar te verstaan. Ons moes leer om nie mekaar se roetine uit te daag nie, maar om dit te aanvaar.”


Stephen het die bankwese intussen vaarwel toegeroep.

Stephen vertel hy ry deesdae fiets, reis gereeld vir sake en lewer motiverings­praatjies. Hy is dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe, sê hy.

Hy bedryf nou saam met sy pa, Malcolm, ’n jojobaneutboerdery op hul plaas, Algerynskraal, sowat 15 km op Roete 62 buite die Karoodorpie Ladismith in die Wes-Kaap. Hy is opgewonde oor die gastehuis en restaurant wat hulle nou hier op die been bring.

Hy lewer deesdae ook motiveringspraatjies by korporatiewe geleenthede. Daardeur wil hy beheer neem oor sy situasie deur leiding te gee aan ander eerder as om net by almal rondom hom aan te pas, verduidelik hy.

“Sedert ek dit doen, is ek nie meer so streng met myself nie.”

Weens sy spartaanse omstandighede in die woestyn het sy lewensuitkyk ook verander.

Jy leef nie regtig nie. Om dankbaar te wees verryk jou lewe.

“Wanneer jy min het, leer dit jou om dankbaar te wees – soos vir ’n dak oor jou kop, ’n koppie koffie, ’n kombers saans,” vertel hy.

“In die bankwese het ek ’n goeie salaris verdien; ek was traak-my-nie-agtig oor geld. Om alles as vanselfsprekend te aanvaar maak jou eintlik net dood. Jy leef nie regtig nie. Om dankbaar te wees verryk jou lewe.”

God is aktief in sy lewe, benadruk hy.

“Ek voel in my wese, in my siel, in my gees Hy wil die beste vir my hê.”

Sy dae van reis deur gevaarlike wêrelddele is verby. Hy en Catherine fokus nou daarop om hul huis ’n veilige hawe te maak, een waar hopelik eendag die skaterlag van kinders sal wees.

Kontak Stephen
Dit is vir Stephen belangrik om toeganklik te wees vir mense wat hom vir motiveringspraatjies wil kontak. E-pos: bookings@stephenmcgown.com