Diogo Ferreira (36), direkteur van opleiding en ontwikkeling in die nasionale raad van justisie van Brasilia in Brasilië, het 158 kg geweeg en gesukkel met hoë bloeddruk, prediabetes, galstene en slaapapnee wat deur vetsug veroorsaak is. 

Diogo se dokter het gesê hy kan binne die volgende 10 jaar ’n hartaanval of beroerte kry, en dit het hom aangemoedig om te begin gewig verloor sodat hy sy pasgebore seun kan sien grootword. 

Sy gewig het danksy ’n gewigsverliesoperasie gekrimp tot 90 kg en dis toe dat hy begin hardloop het. 

“Jou gewoontes verander as jy trou,” sê hy. “Jy gaan nie meer so baie uit nie. Jy sal eerder tuis bly saam met jou vrou.

“Ek het op ’n kol baie studeer om ’n eksamen te slaag om ’n staatsamptenaar te word. Ek was dus so gefokus op my studies dat dit my lewe geword het. Ek veronderstel kos was ’n manier om ander plesiertjies te vervang.” 

Diogo Ferreira se transformasie. Foto: Magazine Features.

“Ek het baie begin eet en dit was net kits- en ongesonde kos. Op ’n kol hou jy op omgee oor jou voeding, gesondheid en alles wat daarmee verband hou.

“Ek het baie sleg gevoel. Ek was depressief en gevoel ek het amper alles bereik wat ek wou, behalwe hoe ek gelyk het. Ek het jaar na jaar belowe ek gaan my lewe verander, en ’n paar maande later het ek weer die pad byster geraak.

“Toe my vrou swanger was, het ek begin dink aan watter soort pa ek vir my seun wil wees. Sou ek met hom kan speel? Saam met hom hardloop? Hom leer fiets ry? Sou hy skaam kry vir my? My as sy held beskou?”

Diogo het nie ’n dieet- of oefenplan gehad nie. Hy het hope kitskos, suiker en vet geëet. 

Sedert sy gewigsverlies het alles verander. Hy oefen nou ses keer per week, hardloop gereeld, oefen met gewigte, en droom daarvan om aan die Ironman-uitdaging deel te neem. 

“Ek voel goed. My gesondheid is uitstekend, ek is my seun se superheld, en ek kan ander mense help wat dieselfde deurmaak as wat ek het.

“Om te hardloop het ná die operasie in my lewe gekom. Ek het drie doelwitte vir die volgende ses maande gestel: Om ’n wedloop van 5 km, 10 km en ’n halwe marathon te voltooi. En ek het dit alles gedoen.”

Foto: Magazine Features.

“Ek het ook my hart op liggaamsbou verloor en het baie skoon massa opgetel. Toe het ek weer ’n uitdaging nodig gehad en begin dink oor of ’n voormalige vetsugtige persoon soos ek 421 km sou kon hardloop. 

“Ek het vir ’n hele paar dae daaroor gedink totdat ek besluit het om vir ’n marathon in te skryf. Ek het in Julie 2017 ’n maratonhardloper geword en nou soek ek na ’n nuwe uitdaging. Ek het my eerste Sprint-driekamp verlede November gedoen, en het pas begin wonder of ’n voormalige vetsugtige persoon soos ek aan ’n Ironman-uitdaging sou kon deelneem. Ons sal binnekort uitvind.

“Nou het my dieet ’n doel – om energie te verskaf vir my oefenroetine. Aangesien ek so hard oefen en soveel kalorieë verbrand, kan ek myself soms met ’n roomys of sjokolade bederf. Kos is nie meer ’n vervanging vir enigiets nie, want ek vind vreugde in ander aktiwiteite.”

Diogo sê die moeilikste ding van gewig verloor, is die besluit om weg te spring en hy het raad vir enigeen wat dieselfde keuses as hy in die gesig staar.

“Die eerste ding is om binne jouself die rede te vind hoekom jy gewig wil verloor. Almal het ’n rede. Dit moet sterk genoeg wees om jou op die regte pad te hou regdeur jou transformasie. Stel dan jouself eerste. Dit gaan moeilik wees en jy moet jou energie aan jouself afstaan.”

Foto: Magazine Features.

“Stel klein en groot doelwitte. Die klein doelwitte sal jou help voel dat jy wen. Vier die klein oorwinnings, hulle is baie belangrik. Die groot doelwitte sal jou help om die hele proses te sien.

“Kry ’n ondersteuningsnetwerk. In my geval was dit my Instagramblad, waar ek my oefenroetine en dieet deel en ondersteuning van mense regoor die wêreld kry. 

“En laastens moet jy begryp dit gaan nie ’n lineêre proses wees nie. Jy gaan hoogtepunte en laagtepunte beleef. Dis doodnormaal. Hou die groter prentjie in gedagte.”