Paul Wyatt (50) was in vlamme gehul terwyl hy heinings in sy tuin gesnoei en die snoeisels wou verbrand het. Ná die ongeluk is hy twee dae lank in ’n geïnduseerde koma gehou. 

Foto’s toon die ernstige brandwonde en swelsel aan Paul se gesig, bors en hande. 'n Mens kan ook sien hoe die vel van sy hande en vingers afdop. Hy het ook senuskade opgedoen.

Paul, wat ’n meubelonderneming besit, moet nou vier keer per dag room aan sy brandwonde smeer. Maar hy is gelukkig hy het skade aan sy lugweg vrygespring.

brand
Paul voor die fratsongeluk. Foto: Mercury Press/Magazinefeatures

Die pa van twee, van die Britse stad Sheffield, het ’n vuurhoutjie probeer aansteek om die heiningsnoeisels te verbrand, maar die tuinafval wou nie brand nie. Toe giet Paul ’n bietjie petrol op met die idee om terug te staan en ’n vuurhoutjie daarop te gooi. Maar hy het nie besef die eerste vuurhoutjie smeul nog nie. 

Onmiddellik nadat hy die brandstof op die tuinafval gegooi het, het die oliedrom waarin hy dit wou verband “soos ’n stralerenjin vlam gevat” en sy hele bolyf aan die brand gesteek. Paul, wat nou oefeninge moet doen om sy vel te rek, sê: “Ek het gedink die vuurhoutjie het doodgegaan. Daar was geen vlam of enigiets nie. 

“Ek het gedink ek sou ’n bietjie petrol gebruik, iets wat ek al jare sonder probleme gedoen het. Maar dié keer was ek haastig en het ek nie gedink nie. Ek het letterlik die petrol daarop gegooi en dit het ontplof.

“Ek was 48 uur in 'n koma. My beserings sal vir die res van my lewe met my wees, maar ek weet hoe gelukkig ek is. Hulle het my met ’n sak vol verbande huis toe gestuur. My vel is basies soos ’n baba se vel.

“Die hospitaalpersoneel sê dit is goed ek het nie ingeasem terwyl my kop aan die brand was nie, want ek kon my lugweg beskadig het en ’n veel groter prys betaal het. Ek sal beslis nie weer enige versnelmiddel by ’n vuur gooi nie en ek raai ander mense aan om nie dieselfde fout soos ek te maak nie. Dit is regtig nie die moeite werd nie. 

brand
Paul het ernstige brandwonde aan sy gesig, bors en hande opgedoen. Foto: Mercury Press/Magazinefeatures

“Sedert die ongeluk het ek met vriende, familie en kollegas gepraat en dit blyk dit is ’n algemene ding om petrol te gebruik om ’n brand aan te vuur. Dit is hoekom ek nie verleë is daaroor nie, want ek weet ek is nie alleen nie.” 

Paul en sy vrou, Ann (53), wil sy beproewing deel om te verhoed dat ander mense sulke ongelukke tuis oorkom. 

Ann werk vir die liefdadigheidsorganisasie The Sick Children’s Trust wat met die Sheffield-kinderhospitaal saamwerk.

“As gevolg van covid-19 het die ontvangsafdeling van die hospitaal vir my gesê ek moet buite wag terwyl Paul binne was. Ek kon af en toe inloer en hulle het my van nuus ingelig sodra hulle geweet het. 

“Hulle het hom in ’n koma gesit om sy lugweg te beskerm, want daar was brandwonde om sy neus en lippe en sy gesig het opgeswel. Hulle het nie geweet of enige skade aan die binnekant aangerig is nie.

brand
Die vel wat van Paul se hande afgedop het. Foto: Mercury Press/Magazinefeatures


“Ons wil bewustheid bevorder. Ons het vriendelike kommentaar in die sosiale media gekry, maar ook gemene kommenaar, soos ‘wat ’n idioot’ en ‘hoekom op aarde het jy petrol op gegooi’ en sulke soort goed. As hy geweet het die vuurhoutjie het gebrand, is daar geen manier op aarde dat hy dit sou gedoen het nie. Ek wil dit beklemtoon.

“Agterna het Paul met so baie mense gepraat, insluitend kollegas en familie, en ongelooflik baie mense het vir hom gesê: ‘Liewe hemel, ek het dit al gedoen. Hy is nie alleen nie’.”

Die sakeman moet nou vir ’n jaar daagliks sonroom met ’n beskermingsfaktor 30 aan sy lyf aansmeer. Hy word sedert die trauma in Julie deur South Yorkshire Fire and Rescue (SYFR) ondersteun.

Die stasiebevelvoerder, Steve Jones, wat die gesamentlike departement polisie-en-brandgemeenskapsveiligheid bestuur, sê: “Selfs die dampe van petrol kan aan die brand slaan en die vuur vinnig laat versprei na die mens wat die petrolkan vashou. In hierdie voorval het dit ’n breukdeel van ’n sekonde geneem en die boonste helfte van Paul se lyf was heetemal aan die brand.

"Moenie 'n versnelmiddel gebruik wanneer jy 'n vuur in jou tuin moet maak nie."