Nadat Luis, wat na homself as ’n "transspesie" verwys, as kind geboelie is, het hy ’n obsessie ontwikkel met die fantasiewêreld, en kabouters in die besonder.

“Mense het sedert ek ’n tiener was na my gestaar, so dit voel nou vir my baie normaal.  Ek hou daarvan as mense na my staar en gee glad nie om wat hulle dink nie.”

Hy het volgens die DailyMail vasbeslote geraak om soos sy geliefkoosde mitiese skepsel te lyk, maar destyds het hy net sy hare en sy vel gebleik.

Hy spandeer tans meer as R70 000 per maand om sy voorkoms op peil te hou. Hy wend spesialisroomsoorte, -kleurstowwe en SPF100-sonskerm aan om sy eteriese voorkoms op peil te hou. 

Hy het vetafsuiging aan sy ken laat doen, aan sy neus laat sny, al die hare op sy liggaam laat verwyder en die kleur van sy oë verander.

Luis sê hy gaan nie ophou voordat hy nie heeltemal in ’n kabouter verander het nie.

“My doelwit is om niemenslik, onaards, grasieus en delikaat te lyk. Ek het my eie skoonheidsideaal en wil dit bereik, kom wat wil,” het Luis aan die DailyMail vertel.

Hy sê hy gaan sy ore só laat sny dat hulle gepunt lyk, sy kakebeen skerper laat maak sodat dit ’n diamantvorm kry en ’n gesigs- en ’n oogkuur ondergaan sodat sy oë ’n katagtige vorm kan aanneem.

“Ek gaan ook spierinplantings kry. Daar is snykunde wat jou langer maak en ek gaan ook vier van my ribbebene laat verwyder ten einde my middel dunner te maak.” 

Alhoewel sy stryd as kind omdat hy "anders" was sy liefde aangevuur het, het hy eers ná skool werklik iets daaraan begin doen toe die spottende blikke in dié van bewondering verander het.

"Dinge het mettertyd begin verander. Ouer tieners het van my gehou omdat ek uniek was en dit het my aangemoedig om die gevoel in my binneste tot ’n werklikheid te omskep. Ek het met kostuums begin speel, maar dit was nie genoeg nie, ek wou verander ten einde my eie persepsie van skoonheid te word,” het hy aan The Sun gesê.

Hy het op 20-jarige ouderdom vir die eerste keer aan hom laat opereer – en hy het nooit weer teruggekyk nie.

“Die herstelproses was pynlik en langsaam, maar ek was tevrede met my voorkoms. Ek het nie omgegee hoe seer dit was nie, want dit het my ’n tree nader gebring aan my droom van dit wat ek wou word.” 

Hy het ook behandeling ondergaan wat "nie deur dokters goedgekeur word nie" om die kleur van sy oë van heuningbruin na kristalblou te laat verander. 

Luis het intussen daarin geslaag om ’n loopbaan as model en verkoper van cosplay-artikels uit te kerf. Hy is ook deel van The Plastics of Hollywood – ’n talentagentskap vir snykundeverslaafdes, lewende poppe en menslike karikature.

"Ek beskou dit nie as ’n obsessie nie, maar as ’n lewenstyl. Die werklikheid is vir my wreed, maar met fantasie kry jy al die hoop, liefde, vriendskap en welwillendheid.”

Bronne: Daily Mail, The Sun, Toronto Sun