So voel jy as jy die ongelooflike voor- en na-foto's van Teofilo Rodriquez se merkwaardige gewigsverlies sien. Die 26-jarige Spanjaard het 'n verstommende 240 kg in 17 maande met behulp van 'n maagomleidingsoperasie afgeskud.

Op sy swaarste het Teo - soos hy homself noem - die skaal op 'n allemintige 401 kg laat kreun en hy het in 2018 die nuus gehaal toe ’n meubelvervoerwa hom na die Manises-hospitaal in Valencia moes neem. 

Teo het aan Newsflash vertel hy het op ’n maagomleiding besluit nadat dr. Carlos Ballesta, direkteur van die Dr. Ballesta Laparoscopic Centre, sy suster en familie verseker het Teo se gesondheid sal veilig wees in sy hande.

Teo Rodriguez
Teo het 401 kg geweeg. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Met ’n maagomleiding verdeel dokters die maag in twee sakkies: Een kleintjie bokant 'n groter sakkie wat dan albei aan die dunderm verbind word.

Met die maag se volume wat kleiner is, voel 'n mens gouer versadig en eet sodanig minder, iets wat gewigsverlies meebring.

Teo meen die operasie was noodsaaklik vir hom, hy moes “vorentoe beweeg of sterf” aangesien hy voor die maagomleiding vir vier maande in die hospitaal opgeneem was met gesondheidskomplikasies oor sy gewig.

Sedert hy 17 maande gelede onder die mes was vir die operasie, het hy 'n enorme 240 kg afgeskud.

Teo Rodriguez
Na die operasie het Teo ’n verstommende 242 kg afgeskud. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die foto’s wys Teo se transformasie. Eers as man wat op 401 kg aan die rusbank vasgekluister was en daarna sien jy sy nuwe lyf met 'n hospitaal-ondersoek, op 'n stranduitstappie en op 'n elektroniese bromponie.

“Dis ’n droom waaruit ek nooit wil wakker word nie, ek het gedink ek gaan my hele lewe vet wees,” sê hy. “En dis alles te danke aan dr. Ballesta, sy span en die hospitaal.”

Hy sê hy wil voortgaan met sy behandeling en eendag graag Brittanje toe vlieg - iets wat hy voorheen weens sy gewig nie kon doen nie.

Teo Rodriguez
Hy wil nou net sy lewe geniet. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Maar daarvoor sal Teo eers moet wag tot die covid-19-pandemie onder beheer is. Intussen wil hy net die leef - en sy ligter liggaam geniet.