Toe hy verlede maand aankondig hy wil oor ’n jaar uittree as voorsitter van die maatskappy wat hy gestig het, was dit as een van die heel rykste mense op aarde. En dít te danke aan ’n woordjie wat ook eenmaal sy lewe help red het...

Toe die Chinese sakeman Jack Ma (nou 54) op ’n dag in 1995 in die loop van ’n vuurwapen vaskyk, het hy baie vinnig die woord “internet” gebruik om hom uit die verknorsing te red.

Jack het toe nog nie eens die internet verstaan nie, maar tydens dié voorval is die saadjie geplant vir die e-handelsreus Alibaba, sy multimiljardrand-onderneming wat hom sedertdien een van die wêreld se rykste mense gemaak het.

Vandag is dié Chinese entrepreneur se naam hoog op die gesaghebbende Forbeslys van rykes en invloedrykes, maar toe hy destyds as 39- jarige Amerika toe gereis het as tolk vir ’n groep sakemanne, het hy namens ’n Chinese vriend skuld by ’n sakeman in Kalifornië gaan invorder.

Hy het al verskeie kere op die voorblad van die tydskrif Forbes gepryk. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Amerikaner was nie van plan om die geld terug te betaal nie en ’n verhaal soos iets uit ’n Hollywood- aksieprent het ontvou: Die man het Jack twee dae met ’n vuurwapen in sy Malibu-woonstel as gyselaar aangehou.

Toe Jack besef hy is lelik in die knyp, het hy skielik die nuwe gonswoord onthou: internet! Hy het die sakeman belowe as hy hom vrylaat, sal hy sy vennoot word en saam met hom ’n internetonderneming begin.

Die man het vir die voorstel geval, maar Jack is vort en het die skuldenaar nooit weer gekontak nie. Tog het Jack sy idee ingespan en sy internetonderneming begin.

Hy is vanjaar no. 20 op Forbes se 2018-lys van die rykste mense in die wêreld en spog met ’n persoonlike bankbalans van sowat R590 miljard.

Sy e-handelsakeryk, Alibaba – waar sowat ’n miljoen verskaffers wêreldwyd enigiets van luukse goedere tot kruideniersware verkoop – is na raming sowat R6,2 biljoen werd en een van die grootste 10 maatskappye ter wêreld.

So voorspoedig gaan dit dat Jack, die pa van twee volwasse kinders – ’n seun en dogter – verlede maand aangekondig het hy wil oor ’n jaar aftree as Alibaba-voorsitter.

Hy wil hom eerder toespits op die filantropiese werk van sy Jack Ma-stigting. Maar al loop Jack se beker vandag behoorlik oor – met sy bultende bankbalans en kennisse wat wêreldleiers en die sake-elite insluit – was sy pad na sukses vol duwweltjies...

Sy aanvanklike gesukkel

Jack (links) het destyds as kind by toeriste geleer hoe om Engels te praat. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jack is in ’n arm kunstenaarsgesin in Hangzhou in die oostelike dele van China se provinsie Zhejiang gebore. Sy ouers was tradisionele musikante wat ook stories vertel het om die pot aan die kook te hou.

Jack het met skoolwerk gesukkel en die maer leerder het baie met boelies baklei. “Ek was nooit bang vir teenstanders wat groter as ek was nie,” onthou hy.

Om Engels te leer, het Jack as kind met die toeriste by die Hangzhou- Internasionale Hotel begin gesels en gereeld briewe vir van sy nuutgevonde vriende geskryf.

Hy het “Jack” geword omdat die Engelssprekende toeriste nie sy Chinese naam, Ma Yun, kon baasraak nie.

Vier jaar nadat hy sy skoolopleiding voltooi het, het hy steeds gesukkel om universiteitstoelating te kry, maar in 1988 het Jack eindelik sy B.A.-graad in Engels aan die Hangzhou-onderwyserskollege verwerf. Dis waar hy sy vrou, Cathy Zhang Ying, ’n medestudent, ontmoet het.

Cathy is ook van China en was voorheen ’n onderwyseres. Ná sy studie was hy ’n dosent in Engels en internasionale handel aan die Hangzhou Dianzi-universiteit, maar Jack het reeds groter toekomsplanne gekoester.

Hy het sonder enige sukses vir meer as 30 werke aansoek gedoen en sy aansoek om toelating tot Amerika se roemryke Harvard-universiteit is 10 keer afgekeur.

Die geboorte van Alibaba

Jack is deur Bill Gates (links) geïnspireer om sy Jack Ma-stigting te stig. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná sy noue ontkoming in Malibu wou Jack graag vir sy vriende in China, waar die internet nog betreklik onbekend was, wys hierdie nuwe ding bestaan inderdaad.

Hy het ’n paar mense vir drankies oorgenooi en met hul aankoms ’n webtuiste op sy rekenaar oopgemaak.

“Drie en ’n half uur later was daar net ’n halwe blad wat gelaai het. Maar ek was so trots; ek het bewys die internet bestaan!” sou Jack later onthou.

Toe hy op die wêreldwye web begin rondsnuffel, was hy teleurgesteld dat so min inligting oor China en sy talle ondernemings beskikbaar is. Hy besluit toe om een van China se eerste kommersiële webtuistes, China Pages, te begin.

Saam met Cathy het hy R7 260 ingesamel en ’n webtuiste begin wat webtuistes vir Chinese ondernemings skep. Toe dit misluk, het hy in 1999 sowat R367 200 van 17 vriende geleen en die e-handelswebtuiste Alibaba.com sommer in sy woonstel in Hangzhou begin.

Jack vertel graag hoe hy op die naam Alibaba gekom het. Hy was op soek na ’n naam wat maklik is om te spel en internasionaal aanklank sou vind.

Hy het eendag in ’n koffiekroeg in San Francisco gedink aan Ali Baba, ’n goeie karakter uit die bekende Arabiese vertellings van Duisend-en-een-nag. Hy vra toe ’n kelnerin of sy die naam ken, en daarna nog mense op straat.

“Mense van Indië, Duitsland, Tokio en China het almal geweet van Ali Baba,” onthou Jack die oomblik toe hy besluit het dís die naam.

Die groei van sy sakeryk

Jack en sy vrou, Cathy Zhang Ying, in 1996 in hul kantore. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die webtuiste, waar mense enigiets van visolie tot nartjies of duursame meubels kan koop, was so suksesvol, dit het binne twee jaar wins gemaak.

Jack en sy groep medestigters wou klein ondernemings help omdat hulle geglo het “die internet sal die speelveld gelykmaak en klein ondernemings in staat stel om met innovasie en tegnologie doeltreffender te groei”.

Vandag is Alibaba ’n globale, digitale reus met ’n ryk wat strek van e-handel en digitale bankdienste tot aanlyn boodskappe en filmproduksie.

Alibaba is ook hier in Suid-Afrika beskikbaar. Wanneer jy “Alibaba” en “South Africa” in die soekenjin Google tik, kry jy die Suid-Afrikaanse kanaal op hul webtuiste.

Daar kan kopers van hier en die res van die wêreld van “geverifieerde” Suid-Afrikaanse verskaffers produkte koop. Dit sluit alles van groente- saad tot papajas en masjinerie in.

Die pryse word in dollars aangedui. Jy kan droë vrugte vanaf sowat R22,50 per kilogram of roomysstokkies vir R150 aankoop. Plaaslike verskaffers kan Alibaba ook nader om hul goedere op die webtuiste te verkoop.

Alibaba se kuberwinkels het die Chinese werkersklas toegang tot aanlyn handel gegee en ook duisende werkgeleenthede in dié land asook elders in die wêreld geskep.

In 2009 het hy die fenomenaal suksesvolle Singles Day-uitverkoping begin om aanlyn verkope ’n hupstoot te gee.

Op dié Chinese vakansiedag – jaarliks op 11 November – vier alleenlopers hul enkellopenheid, en dié verkoping maak nou jaarliks meer geld as die soortgelyke Black Friday- en Cyber Monday-verkoping sáám.

Verlede jaar het Singles Day ’n hele R370 miljard uit aanlyn winskopies wêreldwyd gemaak. Jack besit glo meer as 7,8% van die aandele in Alibaba. Hy sal nooit regtig tot siens kan sê nie, meen Duncan Clark, skrywer van die boek Alibaba: The House That Jack Ma Built.

“Hy geniet soveel steun en het so ’n goeie reputasie in die maatskappy dat dit nie saak maak watter titel hy het nie (hy sal steeds invloed hê),” verduidelik hy.

Hy is bekend as ’n plat-op-die-aardebaas met ’n kunstenaarstreep, en die flambojante Jack het al by maatskappygeleenthede opgedaag uitgevat as die oorlede sanger Michael Jackson.

Daniel Zhang (46), tans Alibaba se uitvoerende hoof, gaan Jack as voorsitter opvolg en waarnemers verwag groot veranderings wanneer die “ernstiger” Daniel die leisels oorneem.

“Jack is baie, baie kreatief. Ek is die ou wat my voet neersit,” het Daniel laas jaar self aan die Financial Times gesê. Hoe dit ook al sy, dit gaan dalk moeilik wees om die sukses van die enigmatiese Jack te oortref.

Bronne: CNN.com, Inc.com, Celebfamily.com, Forbes.com, Economist.com, NYtimes.com