Hy mag wel ’n briljante uitvinder wees, maar die Deense duikbooteienaar Peter “Rocket” Madsen (46) kon nie daarin slaag om die dood van ’n gerespekteerde Sweedse joernalis te verdoesel nie.

Maandag het Madsen erken hy het wel Kim Wall (30) se liggaam in stukke opgesny en in die see gegooi.

Hy hou vol koolsuurgas het haar lewe geëis. Dit is in teenstryd met sy aanvanklike verklaring dat sy deur ’n luikdeur van ongeveer 70 kg teen die kop getref is en dit haar dood veroorsaak het.

Waar is Kim?

Sy het spoorloos verdwyn nadat sy die laaste keer in Madsen se geselskap gesien is. Sy het op 10 Augustus saam met hom op sy 17 m-lange duikboot, UC3 Nautilus, vertrek.

Hy self is ’n paar dae later uit die see gered nadat die duikboot begin sink het.

“Ek het met verskillende goed op die duikboot gespeel toe ’n fout ingeglip het,” het hy aan die Deense televisiestasie TV2 vertel. 

“Dit het sowat 30 sekondes geneem voor Nautilus gesink het. Ek kon nie die luike toemaak nie.”

Madsen se oënskynlike kalmte het die polisie agterdogtig gemaak. Hulle het bevind die duikboot is doelbewus gesink.

Verskillende weergawes

Aanvanklik het Madsen vertel hy het haar dieselfde dag weer in Kopenhagen aan land besorg. Op 21 Augustus het hy gesê sy het ’n besering aan boord van die duikboot opgedoen en gesterf. Hy het beweer hy het haar liggaam iewers in Kogebaai, ongeveer 50 km suid van Kopenhagen gelaat.

Later het hy gesê hy het haar ter see begrawe.

’n Niksvermoedende fietsryer het op 23 Augustus 2017 op die Amager-eiland ’n grusame vonds gemaak: ’n liggaam sonder arms, bene of ’n kop. Dit was die eerste stukke wat die legkaart rondom Kim se verdwyning in plek laat val het.

Haar kop en bene is op 6 Oktober 2017 saam met 'n mes in plastieksakke in Kogebaai gevind. Op 12 Oktober 2017 het die polisie 'n saag in dieselfde gebied gevind. Daar word vermoed dit was die instrument wat Madsen ingespan het om Kim se liggaam in stukke mee te sny. Die saag word nog aan forensiese toetse onderwerp.

Grusame nadoodse besonderhede

Jens Möller, die ondersoekbeampte, het op 23 Augustus 2017 gesê daar is oënskynlik “doelbewuste skade aan die torso aangerig”. 

“Dit is waarskynlik gedoen om seker te maak dat alle gasse uit die liggaam ontsnap om te verhoed dat dit na die oppervlakte dryf.” Boonop is daar ook ’n stuk metaal aan haar lyk vasgemaak om vermoedelik haar lyk tot op die bodem te laat sink.

Sy is ook kort voor haar dood met ’n mes in haar ribbekas en naby haar geslagsdele gesteek. Daar is 15 steekwonde aan haar lyf gevind wat kort voor of na haar dood toegedien is.

Skokkende foto’s

Intussen het die polisie skokkende foto’s op die uitvinder se rekenaarhardeskyf gevind. Die polisie vermoed die vroue wat in die beeldmateriaal verskyn en gewelddadig gemartel, verwurg en onthoof word, is regte mense.

Madsen sal tot 31 Oktober 2017 in aanhouding bly waarna die hof sal besluit of hy in die tronk sal bly voordat die saak verhoor word.

Bykomende bronne: nypost.com, news.sky.com