Lewis Bennett (41) van die kusdorp Poole in Dorset, Engeland, was in Mei verlede jaar met sy Colombiaanse vrou van net drie maande, Isabella Hellman (41), op wittebrood in die Karibiese See naby Kuba, toe hy haar na bewering vermoor het en hul katamaran gesink het – en dit glo om haar boedel te erf. 

’n Hof in die deelstaat Florida, Amerika, beweer hy en Isabella het voor haar dood gestry oor geldsake en hoe hul dogter, Emelia (2), grootgemaak word.

Ná haar dood het hy items vanaf die katamaran in die reddingsbootjie gelaai pleks van sy vrou se liggaam te soek.

Lewis, ’n myningenieur wat Britse en Australiese burgerskap het, het aanvanklik gesê hy het geslaap toe hy op 14 Mei 2017 wakker word van die boot wat deur die water geskud is. Isabella, ’n eiendomsagent van Florida, was nêrens te vinde nie, het hy beweer. 

Hy het eers vyf uur nadat die boot gesink het ’n noodoproep uitgestuur. Hy is die volgende dag in die vroeë oggendure deur 'n helikopter-bemanning sowat 112 km suid van Florida, uit die see gered. Isabella se liggaam is steeds soek.

Ondersoekbeamptes het Lewis op die reddingsbootjie gevind met $100 000 se muntstukke wat van ’n seiljag gesteel is waarop hy in 2016 gewerk het, berig The Guardian.

Hy het skuldig gepleit op die diefstalaanklag en is ’n sewe maande lange tronkstraf gevonnis. Terwyl hy sy vonnis uitgedien het, is hy in Februarie vanjaar ook van sy vrou se dood aangekla.

Hy het skuld erken op aanklag van strafbare manslag. Hy het aanvanklik ontken dat hy sy vrou vermoor het, maar hy het nou ’n pleitooreenkoms met ’n hof in Miami, Florida, aangegaan om ’n moordverhoor te vermy.

Hy sal op 10 Januarie 2019 gevonnis word.

Hul dogtertjie woon nou by sy ouers in Southampton. 

Bronne: Mirror, Sun