Hy sit teen ’n kussing in ’n hospitaalbed gestut. Hy herstel nog van ’n groot operasie wat 14 uur geduur het en deur ’n span van 50 uitgevoer is – en hy lyk uitgeput. Maar niks kan die glimlag keer wat oor sy gesig sprei nie. Hy het immers langer as twee dekades op hierdie oomblik gewag, en hy brand om mense daarvan te vertel.

’n Skootrekenaar is voor hom staangemaak en tientalle joernaliste van sy geboorteland het reeds vir die aanlyn geleentheid ingeskakel.

“Welkom, liewe Yslanders,” begin Felix Grétarsson.

“Drie-en-twintig jaar gelede, op 12 Januarie 1998, het ek albei arms in ’n ongeluk net buite Reykjavik verloor. En nou, op 12 Januarie 2021, het ek eindelik die hande gekry waarop ek gewag het.”

Die pa van twee sal die eerste keer in meer as twe
Die pa van twee sal die eerste keer in meer as twee dekades sy geliefdes se hande kan vashou. Foto: Facebook/Felix Grétarsson


Maar die 48-jarige voormalige elektrisiën het veel meer as hande gekry: Hy het geskiedenis gemaak as die eerste mens ter wêreld wat ’n dubbele arm-en-skoueroorplanting ondergaan het.

Jare van fisioterapie en intense rehabilitasie lê vir hom voor, en dokters is nog onseker hoeveel beweeglikheid hy in sy “nuwe” arms sal hê. Senuwees sal in sy ledemate moet “ingroei”, verduidelik dr. Aram Gazarian, die hoofchirurg in die baanbrekersoperasie wat in Lyon, Frankryk, uitgevoer is. Maar alles in ag genome is die mediese span ook positief, voeg die dokter by. “Om ’n bietjie te gee vir iemand wat soveel misgeloop het – dis reeds baie.

As hy die vermoë kan terugkry om sy elmboog aktief te buig, sal dit sy lewe verander.”

Sylwia sê hy is ’n man met ’n groot hart en hope d
Sylwia sê hy is ’n man met ’n groot hart en hope deursettingsvermoë. Foto: Facebook/Felix Grétarsson

Felix se lewe het in een katastrofiese oomblik op ’n yskoue dag in die hartjie van die winter verander.

Hy het instandhoudingswerk aan ’n kragkabel net buite die Yslandse hoofstad, Reykjavik, gedoen toe ’n elektriese stroom van 11 000 volt hom skok.

Sy arms het aan die brand geslaan en hy het 10 m grond toe geval. Hy is drie maande lank in ’n geïnduseerde koma gehou terwyl dokters geworstel het om sy ledemate – en sy lewe – te red. Felix se nek en ribbes was gebreek en sy ruggraat op drie plekke.

Hy het ook ernstige inwendige beserings opgedoen en moes ’n leweroorplanting kry.

Ná tientalle operasies aan sy vergruisde arms het chroniese infeksie ingetree en moes albei ledemate geamputeer word.

Die span dokters berei voor vir Felix se operasie.
Die span dokters berei voor vir Felix se operasie. Foto: Facebook/Felix Grétarsson

Toe Felix uit sy koma ontwaak, het hy net stompies naby sy skouerbene gehad. Maar dit was nie die enigste slag nie.

Kort daarna het sy verloofde, Sonja Eggertsdottir, hom verlaat en hul dogters, Rebekka Rut en Dilja, met haar saamgeneem. Felix het in ’n diepe depressie verval en hom tot drank en dwelms gewend om die fisieke en emosionele pyn van sy verlies te verdoof.

“As ek nie die hardwerkende elektrisiën met ’n vaste werk, ’n verloofde en twee dogtertjies was nie, wie was ek dan?” het hy destyds gedink.

Sy middelmisbruik het so chronies geword, hy het nog ’n leweroorplanting nodig gehad – en dit, sê hy, was sy “dag van ontwaking”.

“Ek moes ’n manier vind om van oorleef na floreer te vorder,” sê hy. “Ek moes ophou om deur selfbejammering ingesluk te word.”

Albei ­Felix Grétarsson se arms is destyds ná ’n o
Albei ­Felix Grétarsson se arms is destyds ná ’n ongeluk met ’n kragkabel geamputeer. Foto: Facebook/Felix Grétarsson

In 2007 het Felix ’n man opgespoor wat hom op ’n nuwe koers sou plaas om sy lewe te verander. Hy het gehoor prof. Jean-Michel Dubernard, hoofinternis by die Edouard Herriot-hospitaal in Lyon, was in Reykjavik. Hy het gereël om hom by ’n hotel te ontmoet.

Jean-Michel was bekend as ’n baanbreker in oorplantingschirurgie en het vele ingewikkelde operasies uitgevoer, onder meer ’n handoorplanting en ’n gedeeltelike gesigoorplanting.

Al was Jean-Michel (79) naby aan aftree, het Felix se vasberadenheid hom geroer.

Hy het ingestem om die moontlikheid van ’n dubbele arm-en-skoueroorplanting te ondersoek. Oorplantingschirurgie ontwikkel voortdurend.

In 2008 het ’n Duitse vrou die eerste ontvanger ter wêreld van ’n suksesvolle enkelarmoorplanting geword; daarom was Jean-Michel en sy span hoopvol, al moes hulle nog navorsing doen. Felix het toe ’n groot skarefinansieringsveldtog begin om geld vir sy operasie in te samel en ’n bekende in Ysland en Lyon geword.

y en sy vrou, Sylwia, nadat hy ’n dubbele arm-­en-
Hy en sy vrou, Sylwia, nadat hy ’n dubbele arm-­en-skouer-­oorplanting ondergaan het. Foto: Facebook/Felix Grétarsson

Sy storie is in ’n bekroonde dokumentêre program in Ysland vasgelê, met die rolprentmakers wat dit beskryf het as “ ’n merkwaardige verhaal van die man wat sy lewe wil verander en mediese geskiedenis maak”.

Teen 2011 het Jean-Michel en sy span chirurge, wetenskaplikes en regskenners hul navorsing voltooi.

’n Dubbele arm-en-skoueroorplanting was ongehoord en gevaarlik, en daar was geen waarborg dit sou werk nie, maar hulle was bereid om voort te gaan. Al wat hulle gekort het, was ’n skenker. Felix het in die somer van 2013 na Lyon verhuis nadat hy nuus oor ’n moontlike skenker gekry het, maar dit sou byna agt jaar duur voor die regte een gekom het.

Die pa van twee sal die eerste keer in meer as twe
Die pa van twee sal die eerste keer in meer as twee dekades sy geliefdes se hande kan vashou. Foto: Facebook/Felix Grétarsson

Hy vergelyk dit met die soektog na ’n naald in ’n hooimied – die breindood skenker moes ’n soortgelyke ouderdom en onder meer van dieselfde geslag en bloedgroep wees.

In 2017 het ’n Franse vrou ’n oorplanting van albei arms onder die elmboë ontvang en Felix aangevuur. As sy haar skenker kon vind, kon hy ook. En eindelik het die skynbaar onmoontlike gebeur. In Januarie 2021 is die perfekte sken- ker gevind en die marathonoperasie kon plaasvind – en dit was sowaar ’n sukses.

“Met hierdie vlak van amputasie kan ons niks belowe nie,” sê dr. Lionel Badet, een van die chirurge van Felix se geval.

“Maar ons sal hom sy lewe lank ondersteun.”

Felix het sy lewe weer op koers gekry nadat hy sy verslawing oorwin het. Hy is ’n suksesvolle motiveringspreker en lewensafrigter en is sedert 2016 met Sylwia, ’n joga-instrukteur, getroud.

Jare lank het hy op ’n kunsarm en ’n soort Captain Hook-klou staatgemaak, maar Sylwia het hom lief vir wie hy is, sê sy – ’n man met ’n groot hart en hope deursettingsvermoë.

“Die chirurgie was sy grootste droom,” sê sy. Felix erken hy het gewonder wat hy aangevang het toe hy ná die operasie wakker word.

“Ek het gedink: ‘Watter soort idioot doen dit met opset?’ Dit het gevoel asof twee vragmotors op my skouers geparkeer het,” vertel hy in sy eerste aanlyn onderhoud aan verslaggewers.

“Nou begin ek met drie jaar van rehabilitasie. My senuwees moet tot in die arms uitgroei. Dit is nie seker of ek dit ten volle sal kan gebruik nie.”

Maar volgens aanvanklike toetse lyk die bloedvloei na sy nuwe ledemate goed.

En Felix is heel opgewek as sy onlangse Facebookplasings ’n aanduiding is.

Hy het ’n foto gedeel waarop hy saam met verpleegsters in sy saal dans en sê selfs hy sal boarmspiere bou wanneer die tyd reg is.

Hy het 23 jaar op die arms gewag – wat is nog ’n paar jaar om dit sterk te maak? 

BRONNE: ICELANDMONITOR.MBL.IS, METRO.CO.UK, GRETARSSON.IS, THEGUARDIAN.CO.UK, RTE.IE, VISIR.IS, EURONEWS.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.