’n Vloer bo die chaos het Ruben Espach (20), wat so pas ’n breinoperasie ondergaan het, gelê. 

“Ons het omtrent vyf of ses skote gehoor,” vertel sy pa, Chris. Ruben het twee naweke terug van sy vriend se motorfiets op hul plaas buite Middelburg geval.

Sy kop het die grond geslaan en hy het ’n gekraakte skedel en bloeding op die brein opgedoen.

Ruben het nie ’n valhelm gedra nie. Chris vertel dat hulle net klaar vir Ruben besoek het en op pad na hul motor was. Trudie, Ruben se ma, het gesien hulle het vergeet om Ruben se koeldrank vir hom te gee en die ouerpaar het teruggegaan. 

“Dit is toe dat ons die skote hoor,” sê Chris. 

“Die skote het van die vloer onder ons gekom en ek het by die trappe afgehardloop waar ’n sekuriteitswag vir my geskree het om die polisie te bel.” 

Chris het afgehardloop om te gaan kyk of sy twee dogters, Juanita (27) en Chrizanne (6), wat in die motor was, veilig is en toe die polisie gebel. 

“Ons almal het baie groot geskrik. Jy dink jou kind is veilig by ’n hospitaal waar hy aansterk en dan gebeur só iets.”  

Volgens brigadier Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, was ’n pasiënt die vorige Woensdag vir skietwonde by die hospitaal behandel. “Dit wil blyk of die skieter teruggekom het om sy werk klaar te maak.” 

Daar het ’n bakleiery tussen die pasiënt en die skieter ontstaan waarna die geweerskote gevolg het. 

Die pasiënt is op die toneel dood. Die polisie ondersoek die voorval.