Lucio “Chiquito” Caicedo is op 22 Mei 1916 in die stad Cali in Colombia gebore. Hy het 84 jaar lank daar gewoon voor hy na die stad Medellín in die noordweste van die land verhuis het. 

Chiquito
Chiquito spog met sy doktorsgraad. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Chiquito, wat ’n graad in siviele ingenieurswese aan die Nasionale Universiteit van Colombia in Medellín behaal het, het drie dekades lank aan ’n doktorale tesis oor optimale waterbenutting vir die opwekking van hidro-elektrisiteit gewerk. 

Hy moes ’n ingewikkelde wiskundige formule vir die tesis oplos en het dit vanjaar eindelik afgehandel en die dokument aan die Universiteit van Manchester gestuur. 

“Ek is 104 en ’n half jaar oud,” sê hy. “My proefskrif handel oor die bepaling van die maksimum hoeveelheid water wat volhoubaar vir kragopwekking en ander doelwitte uit ’n rivier gehaal kan word.” 

Lucio Chiquito Caicedo,
Inperking het hom uiteindelik die tyd gegun om sy tesis te voltooi en in te handig. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Hy twyfel of hy dit sou voltooi het as dit nie vir die covid-19-inperking was nie. Toe hy so baie tyd by die huis moes deurbring, het hy gaan sit en fokus op sy tesis wat nou geëvalueer word. As dit goedgekeur word, sal die titel van doktor aan hom toegeken word.

Maar Chiquito erken dat hy ’n bietjie bekommerd is oor hoe lank die proses dalk kan neem. “Die vorige keer toe ek ’n werkstuk ingehandig het, het die bespreking van die onderwerp 25 maande geduur en ek moes sowat 170 e-posse stuur om my standpunte te verduidelik.” 

Lucio Chiquito Caicedo,
Chiquito het aan die nuuswebwerf Infobae gesê “my gesin was my grootste prestasie”. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die plaaslike nuusbron RCN berig Chiquito het sy lewe lank gewerk en studeer en verskeie maatskappye soos Empresas Publicas de Medellín, Camacol en Integral S.A. in Colombia gestig. 

Toe hy 73 jaar oud was, het hy die Universiteit van Manchester versoek om hom as student te laat registreer. Sy saak is oorweeg, en die aansoek is aanvaar. 

Vier jaar gelede het die Raad van Medellín hom met die Orde van Don Juan del Corral vereer vir sy bydrae tot die vooruitgang van die Antioquia-streek (waarvan Medellín die hoofstad is). 

Lucio Chiquito Caicedo,
Vier jaar gelede het die Raad van Medellin hom met die Orde van Don Juan del Corral vereer. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Chiquito se vrou, met wie hy 67 jaar getroud was, is vyf jaar gelede oorlede. Saam het hulle ses kinders, en hy is die oupa van 12 kleinkinders en ses agterkleinkinders. Chiquito het aan die nuuswebtuiste Infobae gesê: “My gesin was my grootste prestasie.” 

Hy vertel ook hy is nie bang vir covid-19 nie, want na sy mening moet almal net die owerhede se raad volg om die beste van die situasie te maak.