Dink jou net in. Elke oggend as jy jou oë oopmaak, ken jy nie die wêreld om jou nie. Die die bed waarin jy wakker word of die vrou langs wie jy wakker word nie.
Vir Christopher Robin Turner (36) van Victoria in Kanada is dit sy realiteit. Hy ly aan ’n seldsame vorm van narkolepsie. Dit veroorsaak onder meer helder drome wat hipnagogiese hallusinasies en geheueverlies veroorsaak.
Christopher sê sy lewe is baie soortgelyk aan die romkom 50 First Dates, waarin Adam Sandler en Drew Barrymore die hoofrolle vertolk. Daarin ly Drew se karakter aan korttermyngeheueverlies – elke dag moet haar lewe van vooraf begin.
Hy en Chelsea het 10 jaar gelede by die werk ontmoet en was dadelik smoorverlief. Die paartjie het gou saam ingetrek en is vyf jaar later getroud.
“Met die eerste afspraak was dit liefde met die eerste oogopslag,” sê hy. “Ek was eerlik met haar toe ons mekaar ontmoet het. Baie narkolepsielyers knoop vehoudings aan wat nie hou nie omdat dit moeilik raak vir die lewensmaat.
“Sy skryf al sowat ses jaar briefies. Dis baie sorgsaam van haar en ek waardeer dit, want dis nie aldag dat iemand so begrypend is nie,” sê Christopher. “Die briefies help baie wanneer ek soggens wakker word, want dan weet ek ek is nie alleen nie.
“Daar was al tye waar ek wakker geword en haar nie herken het nie of in die huis rondgedwaal en probeer uitpluis het wie ek is en dan vra sy wat maak ek.
“Sy het al ’n paar keer vertel ek het wakker geskrik en net daar gestaan en gesê ek weet nie waar ek is nie.
"Dis moeilik om te verduidelik, maar ek het twee tot drie drome per nag en dis so realisties en helder. Ek herleef my verlede soos vorige verhoudings en wanneer ek wakker word, is ek vasgekeer in die verlede en weet ek nie waar ek is nie.
“Dis so realisties en as ek byvoorbeeld in my droom deur ’n by gesteek word, kan ek dit voel. Daar was al drome waar ek vir myle op gruis gestap het en wanneer ek wakker word, pyn my voete. Wanneer ek ’n rukkie wakker is, pas my liggaam weer aan en ek keer terug.”
Narkolepsie is ’n seldsame langtermynbreintoestand wat veroorsaak dat ’n persoon op onvanpaste tye aan die slaap raak. Dit kan ook skielike spierverlies veroorsaak wat deur sterk emosies of harde geluide aangebring kan word.
Dit is op 16 by Christopher gediagnoseer nadat hy in ’n botsing met sy motor betrokke was toe hy agter die stuur aan die slaap geraak het. “Niemand het toe geweet van narkolepsie nie en daar was nog nie internet nie, maar toe ek by ’n neuroloog gaan aanklop, het hulle gesê ek is die mees narkoleptiese persoon wat hulle nog gesien het.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET