So het Laurence Ferreira as seun mense op hulle plek gesit as hulle hom aanstaar of vra wat met sy gesig verkeerd is.

Huisgenoot het sedert sy tienerjare al verskeie kere oor Laurence geskryf nadat hy gebore is met ’n misvormde gesig: Sy neus was verwronge en plat teen sy gesig terwyl sy linkeroog amper langs sy kop gesit het.

Daarby het ’n soort gewas oor sy oog gegroei en sy sig belemmer.

"My regteroog is sterk, maar my linkeroog is halfblind en raak moeg," vertel Laurence nou aan Huisgenoot oor die foon.

Ek is happy soos ek is, ek het deur die lewe gegaan soos enige normale mens en my gut feeling gevolg.

Vandag is hy ’n 23-jarige man met ’n vaste werk wat al vir twee jaar by ’n firma werk wat Wi-Fi, alarmstelsels, hekke en elektriese heinings installeer, voeg hy by.

"Ek is happy soos ek is; ek het deur die lewe gegaan soos enige normale mens en my gut feeling gevolg. Ek is wie ek is en mense is lief vir my," gesels hy uit Burgersfort in Limpopo waar hy steeds vir die afgelope ses jaar saam met sy familie bly.

Sy ma, Juanita Ellis, het weer getrou nadat sy van Laurence se pa geskei is, en is nou ’n deeltydse fotograaf. Voorheen het sy vir sowat vyf jaar by UNISA gewerk as ’n eksamentoesighouer.

Laurence,gesigspleet,Pudding,operasie
Laurence se sussie Jean en ma Juanita Ellis. Foto: Verskaf

Sy suster, Jean Ferreira, werk by ’n gastehuis.

Laurence,gesigspleet,Pudding,operasie
Laurence se sussie Jean Ferreira. Foto: Verskaf

Laurence sê hy leef sedert sy laaste operasie in 2011 voluit, al is hy deur taai tye.

“In die laaste paar jaar was die ding wat my die hardste geslaan het toe ons moes uitvind my broer, Patrick Ellis, het leukemie.

"Dis darem nou in remissie maar dit was vir my moeilik om my broer so te sien, en ek wil net help.

"Ek het hom heeltyd bygestaan."

Hy beklemtoon dat hy steeds vreesloos is oor wat die lewe na sy kant toe gooi.

En sy droom is steeds om al dié mense wat geld geskenk het en op hom geopereer het op te soek en vir hulle persoonlik dankie sê.

So het Laurence se verhaal ontvou

Hy was in 2006 saam met Anthony “Pudding” Rieck in Huisgenoot om te gesels oor die geboortedefek – ’n gesigspleet – waarmee albei gebore is. Hy was toe 10 en Anthony 22 – byna so oud soos Laurence nou is.

Laurence,gesigspleet,Pudding,operasie
Hoe Huisgenoot in 2006 berig het oor Anthony "Pudding Rieck en Lawrence Ferreira wat met dieselfde gesigspleet gebore is. Foto: Argief

Anthony is deur Huisgenoot in Oos-Londen opgespoor nadat ’n inwoner ons gebel het en vertel het van die man met ’n erg verwronge gesig wat ou olie herwin en karre oppas. Hy en sy familie het – in groot teenstelling met Laurence-hulle – in haglike omstandighede gewoon.

Ek dink hy kan my baie leer: om voluit sonder vrees te lewe.

Intussen het Laurence en Huisgenoot kontak met Pudding gemaak. Anthony se pa het vir hom die bynaam gegee omdat hy laaste sy opwagting gemaak het – soos poeding ná ’n maaltyd.

Hy en Laurence het dadelik ’n band gesmee toe ons saam by sy oupa-hulle in Randfontein gekuier het.

Laurence,gesigspleet,Pudding,operasie
Soos Huisgenoot oor Lauwrence in 2011 berig het. Foto: Argief

Destyds op pad lughawe toe van Randfontein af, het Anthony verwonderd gesê: ‘‘Ek wens ek was so bekkig en selfversekerd soos Laurence. My lewe en wat mense vir my gesê het, het my hard gemaak.

‘‘Ek het nie raad vir hom nie. Ek dink hy kan my baie leer: om voluit sonder vrees te lewe.’’

Operasies volg

Met die hulp van Huisgenoot het hulle albei in 2006 en 2007 by die wêreldbekende plastiese chirurg prof. Frank Graewe uitgekom, en hy en sy span het op hul gesigte geopereer.

Laurence het ook ’n dermoïed, ’n soort gewas, gehad wat oor sy linkeroog gegroei en sy sig belemmer het. Kinders het hom daarom gespot met die bynaam “Rooi-oog.” 

Prof. David Meyer van die departement oogheelkunde aan die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het in 2011 aan sy oog gewerk.

Dié professore het hul dienste gratis aangebied.

Laurence,gesigspleet,Pudding,operasie
Hoe Lauwrence Feirreia, gebore met 'n gesigspleet, deesdae lyk. Foto: Verskaf
Laurence,gesigspleet,Pudding,operasie
Laurence Ferreira soos hy deesdae lyk met afloop van jare en vyf operasies. Foto: Verskaf

Vroeër is hy en Anthony afsonderlik geopereer by die Tygerberg-hospitaal. Weens Anthony se ouderdom was dit baie moeilik om die bene in sy gesig rond te skuif omdat die skedel al ver gevorm het.

Die dokters het wel aan die sagte letsels om sy regteroog en aan sy neus geopereer om sy sig en asemhaling te verbeter.

In 2011 het Laurence sy vyfde en laaste operasie by die staatshospitaal ondergaan. ’n Gewas onder sy neus is verwyder, afrondingswerk is aan sy neus en oog gedoen en sy haarlyn is na bo geskuif.

Laurence Ferreira,gesigspleet,Pudding,operasie
Laurence se boetie, Patrick Ellis Jnr., wat met leukemie gediagnoseer is. Foto: Verskaf

In die operasie wat hy in 1999 ondergaan het, is die uitbulting aan sy voorkop weggesny en sy linkeroog – wat laag gesit het – 8 mm boontoe geskuif tot regoor sy regteroog.

Die beenspleet aan sy voorkop is ook geheg. Al wat van die agt uur lange operasie by die sewejarige Laurence vasgesteek het, is dat hy twee treinstelle present gekry het.

‘‘Ek was nie bang nie, regtig,’’ het die mannetjie destyds gespog.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.