Hy het altyd geweet daar is iets anders aan hom. Hy’t net nie geweet wát nie.

“Normale” kinders hoef mos nie keer op keer hul klere uit te trek en vir ’n dokter hul genitalieë te wys nie, net om telkens te hoor hy is “steeds abnormaal” vergeleke met ander seuns en meisies.

“Normale” kinders gaan ook nie elke ses maande vir ’n mediese ondersoek gevolg deur nog behandelings wat pynlik en vernederend is nie. Maar die jong Anick Soni van Leicester, Engeland, het geglo hy het nie ’n keuse nie; hy moet maar doen wat sy ouers en dokters sê.

In sy tienerjare was hy so eensaam en ongelukkig dat hy homself probeer doodmaak het. Tog het Anick se storie ’n gelukkige einde. Hy is vandag ’n volwasse man met ’n penis wat normaal lyk en werk, iets wat hy gedink het hom nooit beskore sal wees nie.

Die 23-jarige Anick het sy verhaal in die dokumentêre The Intersex Diaries op BBC vertel. Dit bied ’n fassinerende blik op die lewe van mense wat met manlike én vroulike geslagsorgane gebore word.

Met sy geboorte op 3 April 1995 het hy dokters laat kopkrap – hulle kon nie vir sy ouers sê of hulle ’n dogtertjie of seuntjie ryker is nie. “Die kind is meestal soos ’n seun, maar ons is nog nie seker nie,” was een se mening.

Anick is as seun grootgemaak en het op vier maande sy eerste operasie ondergaan.

“Ek het nie soos ander seuns of meisies gelyk nie,” vertel Anick in die program. Volgens DNS-toetse het die nuwe baba XY-chromosome gehad, wat beteken Anick was tegnies manlik. Maar sy geslagsdele was nie “tipies” manlik of vroulik nie. Daar was testikels, maar hulle was op ’n ander plek.

Sy penis was kleiner as die standaardgrootte, en die opening van sy urienbuis was nie aan die punt van die penis nie, maar aan die kant van die orgaan.

“Ek reken dit het ook soos ’n vagina gelyk,” sê hy. Hy was net vier maande oud toe hy die eerste keer onder die mes gegaan het. In dié operasie is sy testikels geskuif, maar daarna het jare van nog operasies en hormoonbehandelings gevolg.

Hy het ophou tel hoeveel verpleegsters en dokters hom al in sy lewe kaal gesien het. “Net in die onlangse paar jaar was dit meer as 100,” vertel hy.

Elke keer moes hy hoor dinge was nog nie “heeltemal reg” nie.

Sy konserwatiewe gesin het sy toestand geheim gehou uit vrees vir “die skande”, en dit het sake vir die jong seun nog moeiliker gemaak. Eenkeer het hy homself probeer versmoor; ’n ander keer wou hy bleikmiddel drink.

In die laasgenoemde geval het die houer se peutervrye proppie hom gekniehalter.

Nie een van die talle dokters kon vir Anick sê hy is interseks nie – hy is een van die geraamde 1,7% mense wêreldwyd wat met dié toestand gebore is.

Ná baie navorsing het hy op 18 self op die term afgekom en eindelik verstaan hy het nie aan ’n vreemde siekte gely waarvoor hy hom moet skaam nie; hy was net anders.

“Ek het toe besef ek hoef nie meer skaam te wees vir wie ek is en hoe ek gebore is nie,” vertel Anick.

Op 18 kon hy self besluit wat met sy liggaam gebeur. Dokters het hom toe ingelig dat hulle rekonstruktiewe chirurgie kan doen om hom ’n nuwe penis te gee. Hulle sou vel van sy arm neem om die penis te maak en ook ’n pomp in-plant wat hom sou help om ’n ereksie te kry.

Anick is openlik oor sy interseksstatus ten einde bewustheid te kweek.

Die prosedure word soms gebruik vir transgender mans wat manlike geslagsorgane wil hê. Maar Anick wou nie dadelik besluit nie; hy wou eers doodseker wees dis wat hy werklik wil hê.

Ná baie oorweging het hy op 20, terwyl hy ’n regstudent aan die Universiteit van Westminster in Londen was, besluit om tog die reeks operasies te ondergaan. Die laaste van die drie groot operasies was in Augustus verlede jaar.

Daar was komplikasies, maar die chirurgie was suksesvol. En al het Anick nou ’n groot litteken aan sy voorarm, het hy ook ’n penis wat werk.

“Jy ken die uitdrukking ‘Hy loop met sy hart op sy mou’? Wel, ek loop met my penis op myne.”

Hy glo vandag die meeste van die operasies wat hy in sy kinderjare ondergaan het, was sinloos en “suiwer kosmeties”.

Hy onthou hoe kwaad hy vir sy ouers was toe hy die eerste keer besef dat hy interseks is. Hy het hulle verwyt omdat hulle nie meer gedoen het om vas te stel wat sy toestand is nie.

“Maar ek het nie besef hoe oningelig en oorweldig hulle was nie,” vertel hy. “My ouers het self nie genoeg ondersteuning gekry nie en het net altyd gedoen wat hulle gedink het die regte ding is.”

Toe Anick eindelik gereed was om die rekonstruktiewe chirurgie te laat doen, het hy nog ’n belangrike besluit geneem: Hy sou openlik praat oor sy keuse, en oor sy groot geheim.

“Ek het ’n openbaring gehad,” sê hy. “Ek het net geweet ek moet begin om vir mense te vertel. Die waarheid moes eenvoudig uit.”

Hy het heel eerste vir sy gesin en familielede vertel, want hulle sou hom begin vra hoekom hy skielik so baie in en uit die hospitaal is.

“En hoeveel keer kan jy jou blindederm laat verwyder?” spot hy. Hul reaksie het hom aangenaam verras. “Ek het nie geweet mense kan so maklik iets aanvaar wat ek so lank weggesteek het nie.”

Sy familie saam met hom ná sy lewensveranderende operasie. Hulle verkies anonimiteit.

Dit het drie lang jare geduur voor Anick se operasies afgehandel is, en daar was talle risiko’s en uitdagings. Die vel van sy voorarm is in 2017 verwyder om ’n nuwe penis te maak, en hy kon eers ’n jaar later deur dié orgaan urineer en moes maande lank ’n kateter dra.

In die laaste groot operasie is ’n prostetiese toestel in sy penis ingeplant. Deur dit met ’n eksterne apparaat op te pomp wat met ’n bandjie aan die prostese geheg is, kan hy ’n ereksie kry en so seks hê.

Weens ’n komplikasie tydens die operasie het dié apparaat in sy testikels verstrengel geraak. Die pyn was iets vreesliks, maar dis in Augustus reggestel.

“Ek voel ’n bietjie soos ’n robot,” sê Anick oor sy bioniese penis.

“Maar ten minste gaan ek nie prestasie-angs hê nie.”

Hy is deesdae ’n aktivis wat hom beywer vir die verandering van mense se wanopvattings oor interseks mense.

Anick het nog nie die liefde van sy lewe gevind nie, maar op die oomblik gaan hy op afsprake met mans en met vroue.

Hy gebruik ’n afspraak-app, maar sê sy eerste ontmoeting met ’n vrou was nie ’n positiewe ervaring nie: “Die vrou het vir my gesê ek is nie regtig ’n man nie.”

Daarna het hy met ’n man uitgegaan.

“Maar ek het niks gevoel nie. Ek het dus die normale probleme wat ander mense met afsprake en verhoudings het – en dis ’n lekker gevoel.” 

BRONNE: BUZZFEED, DAILY MAIL, BBC, ATTITUDE.CO.UK, ISNA.ORG, PHIL COOMES/BBC, BBC RADIO