“Die liewe Heer het sy genade oor JC uitgestort. Ek kon nie my trane keer nie. ‘Hallo, my liefie. Hallo, my liefie,’ is al wat ek vir hom aanhou sê het,” vertel Claudia Roos (24), JC se vrou, aan Huisgenoot oor die oomblik Dinsdagoggend toe sy besef haar man is waarlik wakker.

“Jy sal nie sê hy is waardeur hy is nie, hy lyk baie goed!” vertel sy oor haar man, wat in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg herstel.

Sy en hul dogtertjie, Alliana (13 maande), was by hom in die voertuig toe ’n onbekende man in die oggendure van Vrydag 20 September by ’n brug op die R566 buite Rustenburg hul voorruit met die stuk beton verpletter het en hulle daarna probeer beroof het. 

Die toneel waar JC Roos getref is. Foto: Facebook
Die toneel waar JC Roos getref is. Foto: Facebook
Die betonblok wat JC Roos op die toneel getref het. Foto: Facebook

Hulle is genadiglik ongedeerd, maar JC was byna dood.

JC se gesig is in die voorval vergruis. Sy kakebeen was morsaf en byna al sy tande is uit. Sy kakebeen moes in die drie onderskeie operasies wat hy reeds ondergaan het, saam met sy wangbene herbou word.

Claudia het dae ná die aanval aan Huisgenoot gesê haar grootste begeerte is dat JC sal oorleef om hul dogtertjie te sien grootword.

JC en Claudia Roos Foto: Facebook
JC en Claudia Roos Foto: Facebook
JC en Claudia Roos Foto: Facebook
JC en Claudia Roos Foto: Facebook

“JC het self wakker geword. Hy skryf vir my en verduidelik met sy kop,” vertel sy. Die eerste ding wat JC wou weet, was of alles okei is by sy werk waar hy as tegnikus Mercedes Benz-motors regmaak. “Ek het hom verseker alles is oukei. Hy was baie deurmekaar. Hy wou ook weet of die ongeluk met sy werkvoertuig gebeur het. Ek het hom verseker dit was met ons persoonlike voertuig.”

Sy vertel JC wou foto’s van die wrak sien en wou weet of die bakkie afgeskryf is. “Toe ek sê dit is afgeskryf, het sy oë net so groot gerek. Hy wou weet hoe gaan dit met ons dogtertjie, en ek het sy ma gebel om haar te vertel JC is wakker.”

Hy het vertel hy onthou die oomblik toe die stuk beton die stuurwiel tref. “Ek het gevra of hy alles kan onthou, en hy het sy kop geskud dat hy nie doen nie.”

JC wou verder weet hoe lank hy al in die hospitaal is. Weer was hy geskok.

“Toe ek hom vertel, toe wys hy my trots hy het baie gewig verloor. Ek het lekker vir hom gelag.” Hy wou ook foto’s van hul nuwe huis sien. Claudia het vroeër vertel hulle het pas ’n nuwe huis gekoop en het nog die aand voor die voorval daar verbygery. Hulle was die volgende oggend op pad om vir haar ma in Welkom in die Vrystaat te gaan kuier.

Claudia vertel sy én JC het baie gedurende die gesprek gehuil.

“Ek het oor alles so ver as moontlik met hom probeer oop en eerlik wees. Ek het hom verseker ons sal hierdeur kom. Ons lewe en dis al wat saak maak. JC het sy kop geskud en gehuil. As jy JC ken; JC is nie ’n man wat huil nie."