In 'n anonieme inskrywing op die Reddit-forum AITA (Am I The A---h---?) stort die 28-jarige Amerikaner sy hart uit oor hoe sy onverantwoordelike 27-jarige verloofde so byna sy geliefde sewejarige labrador-kruising bokveld toe gestuur het. En vra dan in ongeloof of hy as die vark in die hele sage beskou moet word . . . soos talle familielede, vriende en ander wat sy optrede gekritiseer het, blykbaar dink. 

Hy vertel op Reddit die skille het van sy oë afgeval nadat sy liefde van die afgelope vier jaar, aan wie hy ses maande gelede verloof geraak het, toegelaat het dat sy hond groot hoeveelhede alkohol en sjokolade-eetgoed verorber. Dít nadat hy haar uitdruklik vooraf gevra het om hul pels-kind eerder vir die duur van die verrigtinge in hul slaapkamer toe te maak. Om haar en haar vriendinne ruimte te gun, het hy daardie aand by sy ouers oorgebly.

Toe ons weer by die huis kom, het ek my verloofde gesê om te pak en uit my huis en my lewe te verkas. Sy moes haar mense vertel die troue is afgestel, en ek sou myne vertel. Sy was geskok, maar is met haar goed daar weg.

"Vyfuur die Sondagoggend kry ek 'n benoude oproep dat iets met my hond verkeerd is."

Hy kon hoor sy verloofde het heeltemal te veel gedrink, en het haar aangesê om dadelik sy hond met 'n taxi by 'n diere-noodkliniek te kry.

"Toe ek daar aankom, kon sy skaars praat. Twee van haar vriende het my vertel my hond lewe, maar dit gaan nie goed met hom nie."

Die veearts het aan hom verduidelik wat die hond so siek gemaak het. Hy het ook verneem sy hondevriend is nooit in die kamer gesit nie, en het te midde van die fuiwery behoorlik weggelê het aan die eet- en drinkgoed op koffietafels.

"Toe ons weer by die huis kom, het ek my verloofde gesê om te pak en uit my huis en my lewe te verkas. Sy moes haar mense vertel die troue is afgestel, en ek sou myne vertel. Sy was geskok, maar is met haar goed daar weg."

In sy inskrywing, wat baie kommentaar uitgelok het, vertel die man haar susters, broer, ma en vriende bombardeer hom met boodskappe dat hy "waansinnig" is om dit aan haar te doen ná hul vier jaar saam. Hier en daar het die kritiek gou in beledigings oorgegaan.

Sy eie suster se onstelde reaksie was: "Jy het die troue dáároor gekanselleer?" En sy ma het gesê: "Wel, dit was 'n fout, maar sy het dit nie met opset gedoen nie . . . en die hond is mos nie dood nie."

Selfs sy strooijonker het gereken hy het ietwat oorreageer. Maar hy voeg by dit was nie die eerste onverantwoordelike ding wat sy voormalige verloofde gedoen het nie. Sy hou ook daarvan om teksboodskappe te stuur terwyl sy bestuur, skryf hy.

Hy wil nie met iemand trou op wie hy nie kan vertrou nie. "Sy's nalatig en onverantwoordelik, en ek wil nie eendag sien hoe ons kind dalk in 'n motorongeluk sterf omdat sy vergeet het om die sitplekgordel aan te sit nie."

Van sy kritici het gewonder of hy hom nie dalk om ander redes so op die nippertjie uit 'n huwelik wou loswikkel nie, en nou die hond as verskoning gebruik.

Sy kommentaar daarop is: "Ek is 99% seker ek sal by my besluit hou."

* Weens honde se laer gewig kan drank hulle op baie dieselfde maniere affekteer as wat dit mense affekteer, net nog erger. Omdat hulle sjokolade nie behoorlik kan metaboliseer soos mense nie, is dit nog skadeliker vir hulle – die teobromien daarin is in groot maat vir hulle soos 'n gifstof.

Bronne: reddit.com, metro.co.uk, insiderpetmd.com.